Verlam na ’n omgeruilde leêr

0
306

Weens dokters se nalatigheid is Dulecia se lewe onherroeplik verander. Haar pad met God bewys egter dat Sy planne bo alles vir ons steeds mooi is!

Dit was ’n nat Oukersaand. Nog net vinnig by die winkel inhardloop vir die laaste paar kruideniersware, my vyfjarige dogtertjie gaan oplaai en dan kan die feestelikheid maar begin! Met die terughol kar toe in die reën, arms vol inkopies, is my voete letterlik onder my uitgeslaan. Ek het onwetend op nat verf getrap en sleg gegly. In daardie breukdeel van ’n sekonde terwyl ek deur die lug trek, was dit asof ’n Stem vir my sê: “Gooi jou gewig kant toe”, en toe tref my skouer met ’n verblindende slag die teer. As ek agteroor geval het, was my nek sekerlik gebreek.

Die keerpunt in my lewe was inkopiepakkies wat deur die lug trek en my man wat my val arms in die lug probeer keer. Dit was ligte wat in die verkeer verbyswiep, toeters wat blaas en bliksemstrale van pyn wat my lyf laat ruk. Dit was ure van wag by die staatshospitaal se noodgevalle-afdeling met Kersmusiek op die agtergrond en skok en pyn. Twee blink paadjies oor my wange… my man wat teen my hare fluister: “Alles gaan oukei wees”. Terwyl ek in die oë kyk van die enigste ander pasiënt daar, sien ek dat ons al twee met blinde vingers gryp na hoop wat die oog nie kan sien nie. Sy was ’n bejaarde dame wat glo in die ouetehuis ook gegly en geval het. Ook haar skouer was beseer.

Uiteindelik is dit my beurt by die dokter. Ons hoor dat my skouerligamente waarskynlik af is en onder operasie geheg sal moet word. Ek is huis toe gestuur met my arm in ’n hangverband en die datum vir my volgende afspraak vroeg in die nuwe jaar.

Ná al die feesdae is ek terug na die hospitaal, maar in plaas van om opgeneem te word vir die operasie soos ek verstaan het sou gebeur, word ek na ’n fisioterapeut gestuur, waar ek gegil het van die pyn elke keer as sy aan my skouer raak. By die huis het my skouer potblou geword en die pyn ondraaglik. Ek is na ’n paar dae van absolute hel terug na die dokter. Daar vind hulle toe tot groot konsternasie uit dat die persoonlike inligting in my lêer sê dat ek 78 jaar oud is. My lêer en dié van die bejaarde vrou wat ook Oukersaand by noodgevalle was, is per ongeluk omgeruil! My skouer moes glad nie fisioterapie gekry het nie, dit was die verkeerdste behandeling ooit! Ek is vir X-strale gestuur, waar hulle ’n vreemde vergroeisel – reeds so groot soos my vuis – aan my skouerbeen ontdek het. Dit het waarskynlik weens die ongeluk gevorm.

Op die ou end is ek in die hartjie van die winter geopereer. Onder operasie het my skouer totaal ineengestort. Been is uit my heup verwyder om dit te op te bou. Na die operasie het my heup seer gebly en ek het erg moeilik beweeg. Volgens die dokter was daar niks om oor bekommerd te wees nie. Heupbeen neem ’n rukkie om weer te vorm en toe te groei. ’n Paar weke later het ek my dogtertjie by die dagsorg gaan haal. Op pad terug na die motor het my heup skielik onder my meegegee en het ek net daar op die grond neergesyg. Wat ’n ellende! Daar was niemand naby nie en my dogtertjie kon my nie help nie. Ek het my op my boude stukkie vir stukkie kar toe gesleep. En so is my lewe soos ek dit geken het, stuk-stuk opgepak en in ’n rolstoel ingedruk. Ek was 33. Die been in my heup het toe nooit weer gegroei nie. Weens die weke se stremming op my ruggraat, het die werwels vorentoe gebuig, wat dit vir my onmoontlik maak om weer te loop. Dít weens ʼn omgeruilde mediese lêer.

Dit het vir my gevoel asof my lewe verby was. Wat was daar om verder voor te leef? Hoekom opstaan in die oggend? Om ’n goeie werk te hê en geld te verdien, moet ’n mens tog bene hê. ’n Lekker ma wat met haar kinders speel, het bene. ’n Vrou wat haar man liefhet, haar vir hom mooimaak en hom versorg, het bene nodig. ’n Gelukkige mens het bene. Of so het ek gedink. Ek het baie gou in ’n diep depressie verval. As jou lewe van jou weggevat word en jy vir niemand meer iets kan beteken nie, is dit beter om in jou kamer weg te kruip. Daar was vir my geen rede meer om te leef nie. Die wete dat hierdie hele ramp te wyte was aan dokters se agtelosigheid, wou my van my kop af laat gaan. Hierdie nuttelose bestaan moes net stop. Eers het ek pille probeer; toe my polse gesny. Maar daar staan geskryf dat niemand ons uit God se hand kan ruk nie. Nie eens ek self kon nie. Ek het besef dat drastiese ingryping nodig was, dat ek hierdie tragedie nie op my eie kan verwerk nie. Ek het sielkundige hulp gaan soek.

Die sielkundige sessies was vir my ’n moeilike pad. Ek moes leer om myself te dwing om eerlik te wees oor wat in my kop en hart omgaan. Ek moes leer om eerlik te wees teenoor myself oor hoe insidente by die huis en in die samelewing my laat voel. Pen en papier was vir my ’n uitkoms. Dit was vir my makliker om my siel in gedigte uit te stort. En voor God. Soms het ek saans sommer net gehuil voor Hom. Die volgende oggend sou ek weer so kwaad raak oor ’n eenvoudige takie wat net te veel vir my liggaam is om uit te voer; dan raas ek weer voor die Here!

Toe begin ek sjokolade by die huis maak en verkoop. Die mense by die kerk het vir Valentynsdag en Moedersdag en ander geleenthede sjokolade by my bestel; dan maak ek dit op in mooi pakkies met goue papier en blink linte. Maar die huis se vier mure kon tog nie al wees waarvoor die Here my bestem het nie. Ek het na mense verlang. Ek het die groot besluit geneem om myself bloot te stel, my CV op datum te kry en dit uit te stuur vir werk.

Truworths het geantwoord. Hulle hoofkantoor was besig met ’n opleidingprogram en ek het daarby ingeskakel. Sjoe, die Here moes my krag gee, want almal daar was pas uit kollege of ’n vorige betrekking, en daar sit ek in ’n rolstoel en het agt jaar laas gewerk! Daar was baie trane. Elke aand het ek gehuil en gesê dis klaar, ek gaan nie terug nie. Die volgende oggend hoor my man maar weer die haardroër – dan pak ek die bul by die horings! Deurentyd het ek by God gepleit om aan my te openbaar wat Sy doel met my is op hierdie aarde. Dit was so belangrik vir my om weer my vreugde terug te kry; om weer iemand te wees in wie se teenwoordigheid mense wíl wees; om God intiem te kan ken. Elke oggend het ek vir God gevra vir ’n Bybelvers. Dan skryf ek dit op ’n papiertjie en hou heeldag daaraan vas. Dit het my regtig deur elke dag gedra.

So het ek met God aan die hand die opleiding voltooi en eerste gekom in die klas. Truworths het vir my ’n elektriese rolstoel geskenk en toe is dinge letterlik aan die rol! Die Here se seën was tasbaar op my werk. Sommer gou was ek die beste kredietinvorderaar.

Verlede jaar het ek ongelukkig uitgevind ek het ’n terminale longsiekte. Ek het gesê: “Here, terwyl ek nog hier is, wil ek U net met vreugde dien, sodat wanneer U my kom haal, ek met vrede in my hart gaan.” Ek wil ’n erfenis nalaat vir ander mense dat ten spyte van slegte dinge wat jou mag oorkom, die Here jou hier sit met ’n doel. Jou doel is om Hom te vind en Hom volkome te leer ken. Sy karakter moet jou karakter word sodat jy voorbereid kan gaan. Die hemel is ’n voorbereide plek. Ons is nie vir ewig hier nie. Ons is hier in hierdie skool gesit, sodat ons kan leer om by God te leef.
Weens my mediese toestand kan ek nie eintlik meer werk nie. Ek het egter ’n ooreenkoms met Truworths om net ’n dag of twee per week kantoor toe te gaan. So verdien ek iets en bly ek aan die gang.

In hierdie twaalf jaar het my oë oopgegaan. Ek dink ek snap nou wat saak maak. ’n Vol lewe is toe om vreesloos vry saam met my 17-jarige dogter op Dial-a-Ride te spring na ’n winkelsentrum, in die winkels rond te snuffel en later iets te gaan eet. ’n Vol lewe is toe ’n kamer aan mense se huis wat ons in ’n knus tuiste omskep het terwyl Community Care vir ons verblyf reël. ’n Vol lewe is ’n pen en papier en woorde wat soos strome lewende water vloei tot ’n gedig. ’n Vol lewe is een wat nie sal leegloop voordat elke taak waarvoor ek hier geplaas is, tot uitvoer gekom het nie ongeag wat gebeur. ’n Vol lewe is die wete dat God se planne vir my altyd goed is – dat Hy vir my voorspoed beplan en nie teenspoed nie.

Hallo, hoopvolle toekoms!