Verlief raak is maklik, maar die liefde…

Hierdie tyd van die jaar lyk dit soms of almal verlief, verloof of pasgetroud is. Facebook is besaai met nuwe verhoudings, verlowings en troufoto’s.

Dis goed en dis reg en dis mooi. Is mos lekker om verlief te wees.

Op skool het ons altyd gespot dat “liefde is ‘n gevoel wat jy voel wanneer jy voel jy voel ‘n gevoel wat jy nog nooit gevoel het nie.” Ons was naby aan die waarheid, ons moes dalk net die woord liefde met verliefdheid vervang het. Die slim mense sê wanneer ons verlief raak, skei die brein ‘n sekere stof af wat deur die bloedstroom vloei en vir ten minste agt maande bly. Tydens hierdie periode kan ‘n mens oor die algemeen nie rasioneel dink nie. Alles is net fantasties. Die ander persoon is perfek in jou oë en jy sweef deur jou dag.

Helaas, verliefdheid klaar ook op en baie mense maak dan weer hard met die aarde kennis. Om verlief te raak is maklik. Om iemand vir die res van jou lewe lief te hê vra wilskrag, deursettingsvermoë en harde werk. Dis ‘n daaglikse keuse wat jy moet maak om saam met die ander persoon te groei, te werk en te leef.

Te veel mense is vandag vasgevang in ongelukkige huwelike omdat hulle nie weet wat is hulle eie of hulle ander helftes se primêre liefdestaal nie. Wat maak jou emosionele tenkie vol? Is dit wanneer jou man jou komplimenteer, of wanneer julle ‘n hele Sondagoggend tyd saam spandeer, dalk as hy uit die bloute vir jou ‘n geskenkie gee of miskien as hy die skottelgoed was sonder dat jy vra of verkies jy om elke dag sommer baie drukkies en soentjies te kry? En hy? Watter van hierdie dinge hou hom aan die gang?

Leer mekaar se liefdestale ken en maak seker julle hou mekaar se emosionele tenkies so aan die gang. Kies om lief te hê, die verliefdheid kom sommer vanself.

Vorige artikel[VIDEO] Gee jou laste oor
Volgende artikelWat is rykdom?
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.