Verlies en alkoholisme: Jacinda Louw vertel

0
379
jacinda_louw.jpg

Sy is fyn en beeldskoon, maar onder die lagie mooi vernis klop ’n leeuhart. Jacinda Louw-Schutte (33) wat SA se heel eerste Survivor naaswenner was, is ’n ma, model, TV-aanbieder … maar verál ’n vegter.

My pa het ’n paar jaar nadat hy sober geraak het, lewerkanker gekry (as gevolg van al die jare se gedrinkery). Maar wat vir my op daardie stadium selfs érger was, was dat my broer aan dwelms verslaaf geraak het. Jaco was sowat ’n jaar ouer as ek. Waar my pa se alkoholisme my gedryf het om “goed” te probeer wees en ander tevrede te stel, het dit die teenoorgestelde uitwerking op hom gehad. Hy het in die jaar na matriek – nadat my pa reeds gerehabiliteer was – by die verkeerde vriende betrokke geraak wat hom aan dwelms voorgestel. Eers Ecstasy, en later kokaïen, heroïen en al die ander goed. Hy het alles gedrink, gespuit en gesnuif wat hy kon.

Later het Jaco se verslawing heeltemal handuitgeruk. Ek onthou nog die eerste keer toe hy ge-OD het (’n oormaat dwelms ingeneem het). Ons kon hom nêrens kry nie. My pa het al die hospitale gebel, en ek en my ma het al sy vriende gebel. Ons het hom uiteindelik in Johannesburg Algemeen opgespoor.

Daarná het dit bykans maandeliks gebeur. Dinge het vinnig erger geraak. Ons huishulp sou selfs rolle geld in sy broeksakke of onder die kar se sitplek kry. Dit het voorgekom of hy in dwelms gehandel, én dit gebruik het. Na elke oordosis sou hy verdwaas wakker word uit sy beswyming en vra: “Wat het nou gebeur, Jacinda?” En ek sou kwaai en moedeloos antwoord: “Jy het alwéér ge-OD, Jaco.”
’n Paar jaar later hét hy opgehou. Maar daardie een “one last time”, wás toe ongelukkig sy laaste keer.

Ek het myself vir baie lank daaroor verwyt. Ons het gaan uiteet. Jaco het ons by die restaurant gekry, maar hy het vreeslik gebewe, onsamehangend gepraat. Ons is later die aand huis toe, en Jaco is na sy kamer toe.

Die volgende oggend vroeg het my ma histeries gegil: “Jacinda, kom help!” Die angs in haar stem het gesê daar is alwéér groot fout. Jaco het op sy rug op die bed gelê. Hy het so normaal gelyk … maar dit was reeds te laat. ’n Oormaat kokaïen. Dit laat my nou nog huil as ek aan daardie prentjie dink.

[Pagebreak] My ma het die kamerdeur toegetrek en agter haar gesluit. ’n Hartseer hoofstuk was verby. Ek dink my broer se dood het my pa gebreek. Hy is ’n maand later oorlede. Waarskynlik meer oor Jaco se dood as oor sy lewerkanker.

Ek het na ons gebroke gesin gekyk, en dit het my aan twee spanne laat dink: nou het my broer vir my pa gehad; en ek het my ma. So ons is oukei.

In die begin was ek baie kwaai en aggressief, teenoor my ma, die lewe … almal. “Hoekom huil Ma nou alweer?” sou ek baiemaal skoon radeloos vra. Ek het mos al lankal geleer: om te huil help níks. Ook op die Survivor-eiland wou ek net vir almal wat so kla dat hulle moeg en honger is, sê: “Deal with it.”

Maar met tyd kon ek dinge in perspektief begin sien. Ons elkeen hanteer die lewe se uitklophoue anders. In my eie lewe het my drie jaar by ’n sielkundige beslis gehelp. Die grootste en beste les wat ek in terapie geleer het, was om te besef waar my skuldgevoel stop. Om te weet waar om die lyn te trek.

Ek het vir so lank gedink ek kon méér doen om die probleme in ons huis op te los. Dat ek ’n beter kind vir my pa kon wees, en meer dáár gewees het vir my broer. Dalk kon ek hom gekeer het om dwelms te gebruik; hom gestop het voor hy homself vir oulaas daaraan vergryp het. As ’n mens so begin dink, is daar net geen einde aan jou redenasies nie. Jy sal mal word.

Die sielkundige het my gehelp om te besef ek kon níks meer gedoen het om my pa of broer te red nie. Die uiteinde van hulle lewens was die gevolg van keuses wat hulleself gemaak het.

Wat ’n verligting om te besef ek hóéf nie al die skuld te dra nie! Ek het die beginsel gesnap en nooit weer langs daardie gedagtegang afgedwaal nie. Skuldgevoel is ’n nare, verpletterende ding.

[Pagebreak] Die traumas in my lewe het my die mens gemaak wat ek vandag is – en ek hou van daardie persoon. ʼn Sterk persoon wat streef na goeie waardes, wat haar sê kan sê, en respek vir ander se keuses het. Iemand wat nie huil oor probleme nie, maar eerder soek na werkbare oplossings. Wat nie meer probeer om ander mense, ten koste van haarself, te red of tevrede te stel nie. Wat realisties en objektief na dinge kyk en haarself nie deur skuldgevoel laat opslurp nie.
My vriendin het dit nou die dag goed opgesom. Ek het haar gevra hoe ek as mens sedert skool verander het.

“Op skool was jy sag. Jy wou nie die ‘boot omgooi’ nie. Jy het moeilikheid en konflik ten alle koste vermy. Vandag is jy verskriklik direk. Jy het kwaai geword!” Sy’s reg, maar ek is net kwaai oor dinge wat regtig saak maak. Jy sal my nie naby drank of dwelms kry nie.

Ek wens regtig net ander mense kan my opinies en keuses respekteer. Ek was nou die dag by ’n skoonheidskompetisie om te beoordeel. Een van die ander beoordelaars aan tafel, ’n ouerige man, was al besig om sy tweede drankie weg te slaan. Ek het vir ’n glas water gevra. “Nee man, wat is dit met jou?” wou hy skertsend weet. “Drink ’n ietsie sterkers.” “Nee dankie,” het ek beleefd geantwoord, “ek wil net water hê.”
“Ag kom nou …” het hy aangehou. Dís die tipe ding wat my bloed laat kook. My nee is my nee. Aanvaar dit. Respekteer dit. Soos wat ek ook jou keuses respekteer.

’n Ander goeie ding uit my trauma was dat dit my geweldig op geestelik vlak laat groei het. My geloof was nog altyd daar, maar nou is dit deel van my soos asemhaal. Ek praat daagliks met God, en leer ook my twee dogtertjies om by “Liewe Jesus” aan te klop vir hulp en antwoorde. Soveel so dat ons jongste nou die dag ewe onskuldig kom sê het: “Mamma, Jesus het gesê ek moenie vandag skool toe gaan nie.”

Die tragedies in my lewe het my veral ook geleer om soms stil te raak en mooi na my binnestem te luister. Die antwoord is reeds daar, jy moet net stil genoeg wees om dit te hoor. Soos met Survivor toe ek vir die eerste keer duidelik kon hoor wat ek reeds hier diep binne geweet het: “Hierdie is nié die regte pad en man vir jou nie.” Ek dink nogal partymaal daaraan. As ek nie tóé geluister het nie, het ek waarskynlik met my siek kêrel getrou en kinders gehad. Dan sou ek vandag ’n enkelma gewees het – want hy is ’n jaar later weens die gewas op sy brein oorlede.