Verlos uit ’n lewe van slapeloosheid

0
12
slapeloosheid.jpg

Bettiene Viljoen (60) droom weer vir die eerste keer nadat sy negentien jaar lank aan ’n slaapversteuring gely het. Vandag is sy genees en weet sy ook dis nie ’n teken van swakheid om op ander staat te maak nie.

“Ek begroet elke dag met nuwe energie en oneindige dankbaarheid in my hart. Dis heerlik om die gastehuis te bestuur. Dis lekker om vir almal kos te maak. Ek is weer my ou, sosiale self. Lus vir werk. Lus vir die lewe. Dis so wonderlik. Ek kan nie stilsit nie! Ek dien weer in die kerk. Ek leef weer spontaan sonder om ’n front voor te hou. En vandag kan ek eerlik sê: Ek leef my afgetrede lewe ten volle en in gemak!
Voorheen moes ek altyd ’n front voorhou. Ek het elke dag my moeë lyf apteek toe gesleep. Ek het gelag, maar my binneste wou skree, want ek was tot die dood toe moeg – ek het net drie tot vier uur per nag geslaap. Ek was gefrustreerd en angstig.

In dié proses het ek twee leerstoele vodde geslaap. Voor die televisie! As ek in die nag wakker word, het ek gaan kook of televisie gekyk. Partykeer selfs die liasseerwerk op datum gebring. Dit was my leefwyse. Ek, wakker en aan die gang in die middel van die nag. My arme man, op sy eie, in die slaapkamer. In ons huis is die vraag: “Is jy moeg?” nooit gevra nie. Maar ek kon sien hoe my moegheid my kinders ontstel. Hulle het met hulle kuiers baie moeite gedoen om dinge vir my makliker te maak. Maar dit was mý las. Ek het gevoel ek moet dit sélf dra.
Op die ou end het ek byna by die dood omgedraai: Vir dae het ek net gesit. Alles het te veel geword. Ek was by ’n slaapkliniek. Dit het nie gehelp nie. Ek het medisyne, selfs boererate, probeer. Maar niks het gehelp nie.Ek het egter besef dat as ek nie dringend hulp kry nie, ek nie die einde van die jaar sou sien nie. Ek was by moedverloor verby. Op! Gedaan! Pê! Partykeer selfs te moeg om asem te haal. My nek het gepyn. My rug het gepyn. My lyf was pal seer. En dit was nie ipekonders nie. Nee! Hierdie was rêrig. Dit was seer!

Toe hoor ek het van ’n spesialis in Parys. En met ’n nuwe dieet het die proses van genesing begin…
As jy aan slapeloosheid ly, móét jy hulp soek. Die oplossing lê nie in ’n pil nie. Vandag kan ek ook met oortuiging sê: Jy is wat jy eet! Dis verkeerde eetgewoontes wat jou siek maak. Ek leef daagliks in dankbaarheid vir my gesondheid. Vandag luister ek wat my lyf vir my sê. Voorheen was ek verslaaf aan sjokolade. As die moegheid my getref het, sou ek altyd sjokolade eet, iets wat die energievlak vinnig opstoot. Vandag eet ek nie eers vrugte nie. Daar is absoluut geen suiker in my dieet nie.
Ja, daardie eerste ses weke van detoks was erg. Maar ek het vasgebyt. En vandag is ek ’n ander mens. Deur dit alles het my man my ondersteun. En ek klim weer heerlik agter sy rug in …

Ek het ek geleer dat ek ’n uithouer en ’n vegter is. Al was elke dag as apteker louter hel, het my uithouvermoë en deursettingsvermoë my gedra. Soms moes ek ’n front van cope voorhou. Maar ’n mens is altyd sterker as wat jy dink.

Vandag weet ek ek sien kans vir baie. Iets het my gedryf om genesing te soek. Deur dit alles het ek ’n beter mens geword. Ek het meer geduld. Ek simpatiseer makliker met mense wat probleme het. My oordeel is iets van die verlede. Die lewe is nou mooi.