[VIDEO] Hoe verminder ek selluliet?

0
598

Hoe raak ek van die kuiltjies in my bobene ontslae? Dalk met ’n wonderroompie of ure lange kardio-oefening of deur net blare te eet?

Dit is sekerlik ’n vraag waarmee die meeste van ons worstel. Navorsing toon dat meer as 90% van vroue al êrens in hulle lewe selluliet gehad het of nog steeds daarmee sukkel.

Dié onaansienlike kuiltjies verskyn wanneer die bindweefsel onder die vel verswak of elastisiteit verloor en die onderliggende vetreserwes na die oppervlak laat deurdring, waar hulle sigbaarder word. Vroue se bindweefsel is anders saamgestel as mans s’n, daarom is dit opvallender by vroue. Gene, hormone en leefstyl speel ook ’n rol in die voorkoms van selluliet.

Die goeie nuus is dat daar maniere is om hierdie probleem aan te pak. Kosmetiese behandeling is een antwoord, maar dit is net tydelik en baie duur. ’n Mens moet eerder fokus op minder drastiese oplossings wat blywend is.

Oefening is (soos altyd) nommer een! Dit kan die sigbaarheid van bestaande selluliet verminder of voorkom dat dit ontwikkel.

Kardio-oefening kan help om vet onder die vel te verminder deur meer energie te verbrand, terwyl kragoefeninge die spiere sterker maak en dus ook die bindweefsel versterk, wat ’n illusie van minder selluliet skep.

Gereelde massering kan help om die bloedsomloop te verbeter, maar ’n gesonde dieet wat groente, vrugte, heelgrane, baie proteïene en genoeg water insluit, is nog belangriker.

Begin vandag om jou boude en bene fermer te kry deur elke oggend voor jy die dag begin of in die aand voor jy in die bed klim net vyf tot tien minute daaraan te bestee. Stel ’n stophorlosie vir intervalle van een minuut oefen en dertig sekondes rus. Wissel die volgende tegnieke af: glute-brûe, hurke, sylê-been-oplig, hurkspronge, agtertoetraphurke, donkieskoppe, enkelbeen glutebrûe, en hoë trappie of stoel opklim.

Marijke Cilliers, persoonlike afrigter

https://marijkefitness.com