Vernuwe elke aspek van jou lewe

0
61
vernuwe.jpg

Die lewe is te kort om te sit en mor oor dinge waaroor jy ongelukkig en ontevrede is. Al een wat iets daaromtrent kan doen, is jy. So, waarvoor wag jy? Spring weg en vernuwe!

Die lewe is te kort om te sit en mor oor dinge waaroor jy ongelukkig en ontevrede is. Al een wat iets daaromtrent kan doen, is jy. So, waarvoor wag jy? Spring weg en vernuwe!

Tyd vir vernuwing

Lente is ’n tyd waarin alles ontwaak en nuut begin. In dié tyd is dit asof ons as mense ook na ’n lang winter ontwaak en bewus raak van die moontlikheid van nuwe en opwindende dinge. ’n Mens is net so gereed vir verandering as die plante en alles om jou. Die bloeisels loop uit en die voëltjies sing weer. Dié tyd van die jaar hou baie beloftes in van goeie dinge wat net wag om te gebeur. Maar jy hoef nie te wag vir lente nie, elke dag bied vernuwingsgeleenthede!

Vernuwing en romanse

Baie mense raak in die lente verlief, droom van verlief raak of raak opnuut verlief op hulle maats. Mense om jou hou weer hande vas, glimlag meer en deel meer soene uit. Om verlief te wees laat jou opgewonde oor die lewe voel en sommer weer jonk en ’n bietjie stout. Daar is niks wat so vernuwend is soos die gevoel van verliefdheid nie. Werk daaraan om weer bietjie ‘lente’ in jou lewe te laat blom.

Gee geluk ’n kans

Vernuwing is net moontlik as jy oop is daarvoor. Baiekeer veroorsaak die seerkry van die verlede dat jy nie meer kans sien om ’n kans te waag nie. Maar geluk gaan nie na jou toe aangeloop kom nie, jy sal bereid moet wees om dit toe te laat in jou lewe. Staan op, stof jouself af en gryp geluk aan met al twee hande!

Gee die liefde wat jy hoop om te kry

Liefde en geluk bestaan nie in isolasie nie, dit is altyd in verhouding tot mense om jou. Dit wat jy gaan kry, is ’n refleksie van dit wat jy gee. Vernuwing sluit in dat jy ander in ag moet neem en dat hulle deel van jou vernuwingsproses moet wees. Vernuwing kan nie in isolasie plaasvind nie. Raak opgewonde oor die moontlikheid om nuwe energie in jou lewe en in jou verhoudings te blaas.

Neem nuwe besluite

As jy eers sien dat sekere patrone of gedrag nie die resultate vir jou gee wat jy soek nie, maak dit baie sin om dit te verander. Begin by die resultaat wat jy wil hê en by jou innerlike krag. Soms is dit nodig om meer kreatief te wees, oë visualiseer hoe ander wat jy bewonder dit hanteer en hoe jy dit wil hanteer. Neem hierdie kwaliteite vir jouself aan. Jy het byvoorbeeld al die rede om kwaad te wees vir jou vriendin wat jou weereens in die steek gelaat het. Die ideaal sal wees as jy geduldig bly, maar ook nie bang is om op die regte tyd daaroor te praat nie. Visualiseer dat jy dit kan doen en voer dit dan uit. Soms is dit goed genoeg om vir jouself te vertel dat jy dit kan regkry om minder verdedigend of aanvallend op te tree en meer kreatief te wees. Enige nuwe besluit of nuwe manier van optree gee jou altyd energie. Dit veroorsaak dat jy goed voel oor jouself en oor jou lewe.

Begin klein

Dis soms oorweldigend om ’n probleem as ’n geheel te beskou en aan te pak. Neem klein treetjies aan die begin. Moenie van jouself verwag om die veranderings waarop jy besluit het, onmiddellik reg te kry nie. Jy moet verstaan daar is sekere stappe waardeur jy sal gaan op jou pad om by die ideale plek uit te kom:

  1. Jy sal eers nie besef jy doen dinge op ’n sekere manier nie.
  2. Jy besef eers na die tyd dat jy weer jou ou patrone gevolg het.
  3. Jy besef dit terwyl jy dit doen.
  4. Jy besef dit voor die tyd, maar jy doen dit nogtans.
  5. Jy besef dit en jy doen dit anders.


Ek het geleer …

… om op te staan en iets te doen is baie beter vir jou gees as om in jou groef te bly en jouself jammer te kry. Nie alle veranderings is ewe goed of suksesvol nie, maar dit is altyd die moeite werd om ten minste te probeer. My dogter van sestien het begin werk as ’n kelnerin. Dit was vir haar ’n groot aanpassing, maar ook ’n groot uitdaging. Daar was moeilike oomblikke en sy moes dit hanteer, maar die oomblik toe sy voel sy kry dit reg, kon ek sien dat dit haar energie gee. Sy het goed gevoel oor haarself en haar lewe. Die belangrikste bly dat jy die veranderings vir jouself moet doen. As jy dit om die verkeerde redes doen, gaan dit nie die effek hê wat jy hoop om te kry nie.

Wat ander sê

In die boek A Return to Love beskryf Marianne Williamson hoe sy vir ’n lang tyd depressief was en vasgevang gevoel het in haar eie lewe. In dié tyd het sy ongelukkig en hartseer by ’n vriendin gekla oor haar lewe en hoe sleg sy voel. Haar vriendin vra haar toe: “Wat doen jy vir ander?” Dit kan na ’n baie onsimpatieke vraag klink, maar sy het positief daarop gereageer en dit het ’n ongelooflike verandering in haar lewe teweeggebring. Somtyds moet ons net uit ’n ander hoek na dinge te kyk.