Verrassingsdroogte

So, toe raak ons vroeg in Januarie 27 jaar oud in huweliksjare.

Gewoonlik en moontlik as gevolg van my verstrooide geaardheid, besef ek te laat om iets te beplan en dan gaan ek ‘n op-die-nippertjie-wêreld-van-niks binne, waar geen gedagte of plan my te binne skiet nie. ‘n Verrassingsdroogte as jy dit so wil noem.

Intussen was my man se verjaardag in Desember gewees en daarna is dit mos Kersfees en Nuwe Jaar en vakansie en baie verrassingselemente waarvoor ek ‘n beplande kop moet hou.

Teen Desember is ons almal mos so half soos uitgesuigde lemoene en dan verval ek nog makliker in my verrassingsdroogte. Maar nie hierdie keer nie. Hierdie keer was my gedagtes sommer in Oktober al aan die beplan vir ‘n wegbreeknawekie vir ons gesinnetjie om manlief se verjaarsdag te vier. Jitte!

Ek ontdek ‘n paar mooi plekkies in die bos en langs ‘n rivier en omdat ek van lekker bly hou, voldoen die plekkies aan die nodige luukshede wat mens nou sou verwag van ‘n naweek wegbreekplekkie. Daarmee saam beplan ek ‘n 4×4 motorfiets-rit, net om die naweek darem ‘n manlike kleur te gee, want dis mos nou vir my man se verjaardag. In my enigheid blaas ek op soos ‘n kropduif van trotsgeit oor hierdie goeie vooruitbeplanning vir my kaliber persoonlikheid van vestrooidheid.

Ag, maar toe duiwel die hele pragtige gebaar in duie.

WERK! Ja, werk kom staan in my planne se pad en my man moet skielik af Kaap toe. Dus, na ‘n trotse week van beplanning, moet ek die arme vrou van die oord, wat terloops regtig uit haar pad gegaan het om ons in te pas in dié tyd en in ‘n spesifieke chalet, die jammerlike nuus laat weet. Mens voel nogal soos ‘n onwelkome rot op ‘n vreemdeling se dak.

In elk geval, gedurende die Desember vakansie skiet ons toe deur ‘n beplande en onbeplande vakansie en kom ‘n dag voor die skole heropen tuis. Manlief is terug werk toe, kindlief skool toe en ek werk myself die volgende dag so in die wasgoed in dat ‘n wasgoedpennetjie sal groen raak van jaloesie. Tussen uitpak, regpak, wasgoed opvou en ‘n tuimeldroër wat skielik fyngevoelig raak oor die werkslas, onthou ek dat ons huweliksherdenking nog daardie week is.

Ek slaan weer net daar toe soos ‘n outydse kluitjie. My gewone en bekende verrassingsdroogte.

Maar mens raak mos nou maar darem bietjie slimmer deur die jare en Google is somtyds regtig behulpsaam. Tot my ernstige verbasing, kondig Google egter aan dat daar GEEN spesiaalgeid daaraan is om 27 jaar getroud te wees nie. Gits!

Om 27 jaar getroud te wees is mos spesiaal. Want as twee mense, elk met sy en haar eie geite dit so lank met mekaar kan uithou en in liefde vir mekaar, is 27 jaar beslis spesiaal. Baie geluk met ons ‘??niksseggende??’ huweliksherdenking. Dis vir ons baie spesiaal!

Ek besluit net daar dat Google ook niks weet nie.

Ongelukkig, moes ek op daardie stadium weer terug val op my eie enge idees. Ek kon darem so ietsie van ‘n verrassingseffek uitwerk wat ook nie die beperkte Januarie begroting uit proporsie sal laat ontplof nie.

My volgende projek, is ‘n tiener se verjaardag. Gelukkig het ek nou al daaraan begin dink.

Dalk is daar hoop vir my, al is dit in hierdie laterige stadium van my lewe.

Moet Google liewer nie raadpleeg nie. Hou dit REAL! Dis wat enige verjaardag of herdenking in elk geval spesiaal maak.

Wat die res van die jaar betref, sal ek maar sorg dat my kalender my sommer ‘n maand voor ‘n gebeurtenis al in kennis stel. Ek het mos gesê ek raak beter met die klas van dinge.