“Versigtig met woorde, want dit skryf ‘n storie”

0
1216

Elke lewe is ’n storie. Ons skryf ons lewens met woorde. Jy skryf jou storie, maar uiteindelik skryf jou storie jou. Die beste lewens kies baie versigtig wie hulle toelaat om saam te skryf.

Ek onthou toe my vrou ’n rukkie ná ons getroud is, op ’n laai afgekom het waarin ek my gedigte gebêre het. Gedigte wat ek vir niemand gewys het nie.

“Jy sal gestraf word,” het sy gesê. “Jy wat nogal vir mense preek oor talente onder die maatemmer, hoe kan jy dan self so van die maatemmer gebruik maak?” So het my pad met dig, skryf en komponeer ’n nuwe wending geneem.

Sy, en ander, het my ook lankal probeer ompraat om deel te word van die nuwe wêreld deur saam te praat op Twitter en Facebook. Ek het nog altyd teengestribbel. Wat sal ek tog sê?

Die meeste mense sal dink ek het darem ’n baie vervelige lewe. Van adrenalien, eksotiese reise, groot prestasies of duur besittings om mee te spog is daar niks nie. Al is my vriendelys op Facebook al vir jare vol, moet almal maar tevrede wees met dit wat ander nou en dan daar sê.

My goeie vriend Elvis Blue was aan my vrou se kant: “Jy kan nie ’n kunstenaar wees as niemand van jou weet nie.” My agent het saamgestem, hierdie wegkruipery in my eie wêreld moes end kry.

Uiteindelik het ek toegegee. ’n Paar keer ’n week dwing ek myself nou om iets te sê. Nie oor myself nie, maar oor hoe ek die lewe probeer verstaan. In dié proses het ek opnuut besef hoe kragtig woorde is. Ek dink Shakespeare sou dalk vandag gesê het: “To tweet, or not to tweet: that is the question.” En sy raad sou waarskynlik gewees het dat ’n mens mooi moet dink oor wat jy met woorde doen.

Elke woord tel. Elke sin. Die woorde wat jy lees. Die woorde van die liedjies waarna jy luister. Die woorde wat jy in jou gedagtes toelaat. Dit wat ander vir jou sê of gesê het. Die preke waarna jy luister. Dit wat jy vir jouself sê. Die woorde wat jy móét hoor, maar nie wíl hoor nie. Dié wat jy vermy. Die woorde wat jy nié moet hoor nie, maar wat jy nie kan stilkry nie.

Baie geld is op die spel. Besighede veg sodat jy hulle woorde sal kies. Jou televisie roep om jou aandag te kry. Jou radio. Jou selfoon. Jou rekenaar. Stilte is hierdie sakeryke se groot vyand. Hoe meer woorde, hoe meer geld. Hoe meer stilte, hoe minder wins.

Liefdeswoorde. Bitter woorde. Verleidelike woorde. Argumente. Dogmas en idees. Beledigings en komplimente. E‑posse. Koerante. Boeke. Advertensies. Leuens of waarhede. Stroperige, leë, klakkelose drie-week-trefferliedjies of musiek vir die siel.

Elke dag kies jy of laat jy ander toe om vir jou te kies waarna jy gaan luister. En waarna jy luister sal uiteindelik wees wat jy self ook sê. Eers hoor jy net woorde, maar mettertyd word jy die woorde wat jy hoor. Die woord word mos altyd vlees…

Hoe jy met woorde omgaan, sal een van die groot faktore wees wat uiteindelik jou lewenspad sal bepaal. ’n Mens wat nie besluit om self te kies watter woorde sy wêreld se klanke sal bepaal nie, sal outomaties ingetrek word in die stroom van woorde. So ongemerk sal dit sy gedagtes en gemoed binnedring en sy lewe begin vorm.

Baie mense stem saam met ’n ou geestelike dat stilte God se eerste taal is. Ek dink nie dit is die volle waarheid nie. Maar dat te veel woorde sekerlik nié Sy manier is nie, is wel waar.

Ek reken dat Hy wat die Woord genoem word, jou nie in leë stiltes wil intrek nie. Dat Hy jou eerder wil help sodat geen woorde wat raas, jou siel sal besoedel en domineer nie.

Sy eerste taal het ’n woordeskat waar woorde én stilte jou lei na die vryheid om te wees wie jy moet wees – nie wat die klanke en woorde van ’n raserige wêreld van jou wil maak nie!

Koos van der Merwe, bekroonde liedjieskrywer, digter, predikant en solokunstenaar.