Verskille eenkant geskuif

As jy nog nie bewus is van Nehemia se verhaal nie, doen jouself ‘n guns en lees dit nou!

Maar vir vandag spring ek tot by Nehemia hoofstuk 3 waar almal saamstaan om die muur van Jerusalem te herbou…

Buiten vir al die name (ek gaan nie eers ‘n poging aanwend om almal te probeer uitspreek nie) is hierdie verhaal ‘n wonderlike voorbeeld van hoe mense saamstaan, ongeag hul posisie in die samelewing. Almal het vir Nehemia en die Israeliete kom help om die stad se muur te herstel, van die hoëpriester Eljasib tot die smede en die handelaars, was almal hard aan die werk.

Wat vir my so mooi is van hierdie verhaal, is dat hulle besef het hier gaan dit nie net oor hulself nie. Hulle het besef dat dit vir God is, en in die werk van God is daar nie plek vir trots, jaloesie of sosiale klas of verskille nie. God se werk is tot voordeel vir almal.

My vraag is egter, hoekom baseer ons vandag ons opinies op kultuurverskille, ras, denominasie of selfs ouderdom? Het ons tog nie almal dieselfde doel voor oë nie? Dien ons almal nie EEN Vader, Seun en Gees nie?

Ons verskille dryf ons uitmekaar, maar ons het almal Christus in gemeen – ons is deur dieselfde bloed gered! Dit moet ons juis saambring ongeag ras, klas of geslag.

Dit is my gebed dat ons verby die uiterlike sal kyk en sal saamstaan om die Koninkryk van God hier op aarde te bou. En dat ons sal streef om meer en meer soos Jesus te wees.

Mag ons vandag iets uit Nehemia se verhaal leer. Mag ons ons verskille eenkant skuif en saam vir God werk.

Seënwense,

Stephanie*