Verskille versterk ons

676

“Ons glo die feit dat ons verskille deur deeglike kommunikasie oplos, onontbeerlik vir ons huwelik is.” ‒ MARCO en CLARE WIESE-WENTZEL

Ons het weer behóórlik teen mekaar geskuur toe ons die huis begin opknap het.

My man, Marco, is baie prakties en gee nie regtig om hoe goed lyk nie. Al wat vir hom tel, is dat die ding moet werk en dat dit netjies moet wees.

Nee, néé. Dinge moet simmetries wees, die kleure moet bymekaar pas. Elke ding moet perfek op sy plek wees. Ek vat nogal lank om besluite te neem en dít dryf hom tot raserny.

Tog is ons op sekere maniere baie dieselfde. Ons al twee hou daarvan om in beheer te wees. Dis nie net verskille wat konflik kan veroorsaak nie.

Marco sal partykeer goed op ’n manier sê sonder om te dink. En ek was nog nooit ’n “ja en amen”-meisie nie. Soms is dit net die manier hoe hy dit sê. Hierdie mond hou nie sommer terug as daar nie saamgestem word nie. Dalk klink die woorde soms ongeduldig of geïrriteerd.

Hy sê altyd dit was juis dié sterk persoonlikheid wat hy aantreklik gevind het, maar dalk voel hy soms anders in sulke teenstrydige oomblikke.

In ons verhouding is daar altyd ruimte om te kan sê wat pla. Dis onnodig om in ’n vurige gesprek iets skerps of sarkasties terug te kap. Ek vra liefs dat Marco sy bedoeling moet herhaal. Só vermy ons dat die ding groter raak as wat dit moet wees.

Elke dag leer ons iets nuuts van mekaar, want soos met enige verhouding – vriendskaplik, werk, familie of romanties – kry jy uit wat jy insit.

Daar is baie wat ek by Marco kan leer. Hy is prakties, logies, kalm en effektief onder druk. Hy kry dinge gedoen! Hierdie kunssinnige brein verwerk dinge anders.

Ek is kreatief, emosioneel en kan boonop nie lank stilsit nie. Daar is altyd te veel idees en te min tyd. ’n Regte warkop. Alles gebeur gelyktydig!

Marco help my om dinge logies te benader en rustiger te vat. Daar is nooit ’n vervelige oomblik tussen die twee van ons nie.

Dis nodig om tussen al die besigwees nogtans stil oomblikke in ons skedule in te pas. Net tyd vir mekaar. Om te praat sonder om vingers te wys of te kritiseer. Die fokus moet verskuif na hoe ons dinge ervaar, eerder as om vinger te wys na wat die een gedoen of gesê het.

Om te verskil was nog nooit verkeerd nie. Ek het hom nodig in sy andersheid, soos wanneer ons mense onthaal.

Ons grap altyd dat ek die een is wat weet hoe om atmosfeer te skep. So, as ons vriende kom kuier, sal Marco dikwels sê: “Clare, kom skep ’n bietjie ambiance vir ons.” Dan sal ek kersies aansteek, eetgoed maak, musiek speel. Hy sal ’n vuurtjie maak.

Ons is al twee baie sosiaal, so, ons is mal daaroor om mense oor te nooi. Maar Marco bly my gunstelinggeselskap. Ek kan vir hom raad vra oor enigiets. Hy maak altyd tyd vir my en leer my verskillende maniere om oor dinge en mense te dink.

Verhoudings verg inspanning. Kommunikasie en dankbaarheid vir mekaar in die alledaagse dinge is daarom ’n kerndeel van ons huwelik. Ons het mekaar se bydrae nodig.