verskonings en leuens “beskerm” my

0
10
anoreksia.jpg

13 jaar gelede, graad 10 … ʼn Dieetsiekte leer jou om te jok … net soos wat mense wat dwelms gebruik jok. Want jy wil en MOET maer bly en maerder word. En jy sal enigiets doen daarvoor.  Selfs jou ouers bedrieg sodat hulle jou net moet uitlos! Ek het nou nie juis meer geëet nie, maar ek het alleen begin eet. Verskonings begin uitdink dat ek moet leer en sommer in die kamer sal eet ensovoorts.

Dan sou ek my kos in ʼn tissue toedraai (dit was anyway so min) en dit wegsteek tot ek dit kon weggooi. Daar was partykeer twee, drie dae per week wat ek letterlik NET ontbyt geëet het en die res weggegooi het.   En ontbyt was die grootste grap van alles!

Want sodra my ma uit die kamer was nadat sy dit gebring het (mense dra letterlik vir jou kos aan wanneer jy nie wil eet nie), het die melk plek gekry in my potplant. Die warm water met suurlemoen in (wat ek elke oggend getrou gedrink het om my metabolisme vinniger te maak) is gebruik om die een blokkie Weet-Bix, sonder suiker, klam genoeg te maak om af te wurg.

As ek nou terugdink, is ek geskok om te onthou hoe beïndruk ek met myself was omdat ek almal kon uitoorlê … dit regtig net ten koste van myself. Ek het heeltemal beheer verloor, maar ek het so in beheer gevoel van my lewe.   Lees Woensdag verder …

Vir vorige blogs, kliek hier.