Verstaan hoe jou kind dink

381

Jou kinders word in dieselfde omgewing groot, aan dieselfde dinge blootgestel en deur dieselfde ouers opgevoed. Waarom verskil hulle dan soos dag en nag?

Julle oudste is miskien ’n ware akademikus – netjies, deeglik en pligsgetrou. Die jongste boender haar klere onder die bed in, is altyd laat en maak julle mal met haar waaghalsigheid en “wat as”-vrae.

’n Een-grootte-pas-almal-benadering werk nie. Skep eerder ruimte vir elkeen se unieke persoonlikheid en manier van funksioneer.

Breinvoorkeur word vroeg in ons lewe gevestig

Die goeie nuus is dat jy nie iewers as ouer gefouteer het met jou reëls of opvoeding nie. Jou kinders se uiteenlopende persoonlikhede is ook nie reg of verkeerd, goed of sleg nie. Dis normaal.

’n Mens se gedrag is direk gekoppel aan jou denkvoorkeur – ’n dominante linker- of regterbrein. Hierdie voorkeur word in die kleinkinderjare gevestig. Sommige kleuters speel graag en maklik met maatjies, terwyl ander ure alleen kan sit en verf of teken.

Die geheim is om jou kinders die kans te gee om tot hulle volle potensiaal te ontwikkel. Jy kan dit net doen deur hulle van jongs af op die regte manier te stimuleer.

“Hoe gouer ’n mens hiervan bewus word en dit verstaan, hoe makliker sal jy kan kommunikeer, jou kinders opvoed en ander verstaan,” sê kreatiwiteitskenner dr. Kobus Neethling. Kobus is internasionaal bekend vir sy reeks Neethling Brein Instrumente (NBI).

Ken jou kleuter en help haar ontwikkel

’n Breinprofiel kon voorheen eers formeel vanaf die ouderdom van 11 jaar bepaal word. Met NBI kan ouers nou vroeg al ’n aanduiding kry van waar hulle kinders se denkvoorkeur lê. ’n Kleuter se breindominansie kan op ’n eenvoudige manier bepaal word – deur haar net na ’n paar prente te laat kyk.

So word dit duidelik hoekom een outjie in detail inkleur, terwyl die ander een net ’n bietjie krap en dan iets anders doen. Dit het niks met luiheid of laksheid te doen nie. Elkeen het ’n ander manier van dink, wat bykans elke area van sy of haar lewe beïnvloed.

Dis goed om breindominansie reeds op ’n jong ouderdom vas te stel, omdat die regte kwadrante vroeg-vroeg gestimuleer en ontwikkel kan word. As ouers weet wat ’n kleuter se dominante kwadrant is, kan hulle hom beter verstaan en hanteer.

Dan is dit maklik om toe te sien dat hy die regte skool bywoon en selfs in die regte onderwyser se klas kom. Dit sal verseker dat hy die skoollewe positief ervaar en tot sy volle voordeel benut.

Stimuleer die brein vir toekomstige sukses

’n Dominante linkerbreinkleuter doen dinge baie metodies en stapsgewys. Hierdie outjie se kamer is netjies en hy pak sy speelgoed weg nadat hy daarmee gespeel het. Hy gooi nie maklik tou op nie maar druk deur met ’n moeilike taak.

’n Dominante regterbreinkleuter is heel waarskynlik ’n dagdromer vol verbeelding. Sy pas maklik aan by veranderings en raak gou verveeld met ’n taak of aktiwiteit.

Kleuters en jong kinders verander en groei daagliks, en so ook hulle denkvoorkeure. Dis noodsaaklik om te sorg dat al die kwadrante van die brein ontwikkel word, sodat hulle vrylik en met selfvertroue binne enige kwadrant kan optree.

Die beste ding wat jy vir jou kinders kan doen, is om heelbreindenke aan te wakker. Dan sal hulle optimaal funksioneer en presteer en ook eendag goed aangepaste, gelukkige volwassenes wees.