Verstaan jou kind se persoonlikheid

0
2521
kind_persoonlikheid.jpg

Ons almal wil kinders grootmaak waarvan mense hou. Maar kan jy regtig jou unieke kind verander?

Wonder jy soms waar jou kind vandaan kom? Of sy regtig jóú kind is? Jy wil só graag hê sy moet anders wees… Maar Sussie het haar eie karaktereienskappe en persoonlikheidstrekke.

Moet haar nie probeer verander nie! Sy is ’n unieke wese en haar persoonlikheid is reeds voor geboorte gevorm. Die geheim is eerder om haar persoonlikheid te verstaan; om te weet hoe om haar te hanteer en die beste in haar na vore te bring.

Sy het ʼn persoonlikheid van haar eie

Lizette Erasmus, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria, verduidelik dat persoonlikheid verstaan kan word deur te dink aan iemand wat met twee hande gebore word. “Elke mens ontwikkel ’n voorkeur vir links- of regshandigheid. So ontwikkel jy ook ’n voorkeur om byvoorbeeld ’n introvert of ekstrovert te wees.”

Sussie se sterkste eienskappe is dikwels dié wat jy effens wil onderdruk, veral as dit die teenoorgestelde is van waarmee jy gebore is. As sy byvoorbeeld super-energiek is en jy stil en rustig, sal jy dalk tot vervelens toe sê: “Raak nou rustig, asseblief!”

Aan die ander kant vuur jy moontlik eienskappe aan wat nie so natuurlik vir haar is nie. As jy ’n ekstrovert is en ’n skaam kind het, sal jy haar dalk ongeduldig aanmoedig om jou rokspant te los en saam met die ander kinders te gaan speel. Sy leer miskien later om (selfs al voel sy ongemaklik) saam te speel, hoewel sy van nature skaam bly.

Al het jy sekere verwagtings, is sy reeds van geboorte af haar eie klein mensie. Jy kan haar nie in ’n boksie druk nie. En hoewel persoonlikheidstipes van mekaar verskil, is daar nie iets soos ’n goeie en ’n slegte persoonlikheid nie.

Lees ook: Hettie Brittz se ouerskapstyl

1 Ekstroverte waarnemers

• Blymoedig, byna altyd in ’n goeie bui.
• Buitengewoon oplettend. Het baie stimulasie nodig.
• Baie spontaan en aanpasbaar.
• Geniet aandag. Baie gewild met baie maats.
• Leef in die hede. Geniet die lewe.

2 Ekstroverte doeners

• Vriendelik, uitgelate, geesdriftig en onafhanklik.
• Nuuskierige agie. Vra gereeld “Hoekom?”
• Gemaklik met verandering.
• Wil die middelpunt van almal se aandag wees.
• Hou nie van konflik nie.
• Hardwerkend, ietwat perfeksionisties.
• Natuurlike leier met ’n sterk wil en baie mededingend.

3 Introverte waarnemers

• Ernstig, stil, bedaard en onafhanklik.
• Intellektueel nuuskierig. Raak maklik verveeld.
• Maklik aanpasbaar. Hou van afwisseling.
• Kom skaam voor.
• Gewoonlik baie sensitief en trek haar konflik baie aan.
• Avontuurlustig en fisiek, soms selfs waaghalsig.

4 Introverte doeners

• Baie stil en privaat. Geduldig en lojaal.
• Het ’n uitstekende geheue vir besonderhede en feite.
• Hou niks van verandering nie. Het stabiliteit en roetine nodig.
• Wil nie die middelpunt van die aandag wees nie.
• Verantwoordelik, hardwerkend en het sterk opinies.
• Prakties, realisties, georganiseerd en netjies.

Faktore wat haar persoonlikheid beïnvloed

Hoewel jy nie jou kind moet probeer verander nie, is daar tog sekere faktore wat gaan bepaal wie en wat sy is en wat haar sterkpunte of talente gaan wees. Verhoudings is een. Jou verhouding met jou kind sal ’n groter invloed op haar hê as enige ander persoon. Help haar ook om opbouende verhoudings met boeties en sussies, grootouers, vriende en ander mense te ontwikkel.

Die manier waarop sy onderrig word, speel ’n belangrike rol in wie sy word. Onderwysers behoort haar persoonlikheidseienskappe te herken, en haar te help om haar sterkpunte uit te bou en swak punte te oorkom.

Omgewingsfaktore speel ’n integrale rol. Maak seker jou huis voorsien haar van ’n ryk omgewing – en hier word geensins van geld gepraat nie. Moedig haar aan in die ontdekking van haar belangstellings en passies.

Trauma tydens die kinderjare kan iemand se persoonlikheid drasties beïnvloed. ’n Aanneemkind is miskien supernetjies, maar dit is nie ’n aangebore eienskap nie, eerder iets wat ontwikkel het uit byvoorbeeld vrees vir straf.

Jou kind se sterkste karaktereienskappe sal beïnvloed hoe sy teenoor ander mense optree, probleme hanteer, haar gedagtes organiseer en take uitvoer. Om jou kind se persoonlikheid te verstaan sal jou help verstaan hoekom sy optree soos sy optree.
Moenie haar iemand probeer maak wat sy nie is nie. Maak ’n Mej. Persoonlikheid groot wat die titel in jou eie huis wen en nie die goedkeuring van die “beoordelaars” in die samelewing nodig het nie. Sy ís immers uniek.

Vertaal en verwerk uit Delight in Your Child’s Design van Laurie Winslow Sargent.

Wil jy meer leer oor jou kind se unieke persoonlikheid? Hettie Brittz se topverkoper, Kweek kinders met karakter, is die handleiding wat elke mamma nodig het om te verstaan hoekom haar kinders is wie hulle is.
PLUS hoe hanteer jy jou weerbarstige Roosboom, of passiewe Denneboom volgens haar persoonlikheid?

Kry jou eie kopie van Kweek kinders met karakter by Voelgoedwinkel.co.za in gedrukte of Pdf-formaat.