Verstaan jy jóú kind?

0
843
Lizanne du Plessis

Jou kind word gebore met ’n unieke temperament – die manier waarop hy die wêreld ervaar en daarop reageer. Dis so eie aan hom soos sy vingerafdrukke.

Party kinders is sosiale vlinders en op en wakker, terwyl ander rustig, bedaard en aanpasbaar is. Hulle gedrag wys wat lekker is en wat nie, en waar hulle talente en sterk punte lê. As ouers moet ons soos “speurders” optree: wag, kyk en wonder – jou kind sal jou gou wys wie hy werklik is.

Hy speel, eet en slaap op sy eie manier

Die kinders wat sensitief en fyn ingestel is op mense en die wêreld, word byvoorbeeld maklik oorlaai in hierdie besige en raserige wêreld. Ek vergelyk hierdie kinders met krimpvarkies. As dinge te veel raak, soos die geraas in ’n winkelsentrum of ’n ander kind wat stamperig raak, is die reaksie net soos dié van ’n krimpvarkie. Hulle sal óf in ’n klein bolletjie opkrul en die omgewing vermy, óf stekels uitskiet en aggressief raak wanneer dinge oorweldigend raak.

Ander kinders kan weer baie meer geraas en beweging hanteer. Hulle is rustig en baie tevrede om ’n fliek te sit en kyk. Dié kinders val gewoonlik van kleins af maklik in ’n roetine, en slaap lang ure aaneen. Ek vergelyk hulle met kameelperde. Soos kameelperde met stadige bewegings het hierdie kinders ’n rustige en amper traak-mynie- agtige houding.

Om dromerig en soms té rustig te wees is kenmerke van kameelperdkinders. Soms is die resultaat dan te veel skermtyd of kinders wat meegevoer word deur ’n boek en glad nie buite wil speel nie.

Dan kry ons kinders wat daarvan hou om heeltyd te beweeg en dinge te soek om aan te vat. Kontak met ander is belangrik vir sulke sensories soekende kinders. Ek vergelyk hierdie kinders met apies wat heeltyd besig is om die wêreld te verken.

Jou kind se temperament is nie alles of niks nie

Nie een van hierdie sensoriese temperamentstyle is beter as ’n ander een nie. Die doel is nie om jou apie, kameelperd of krimpvarkie te verander nie. Dit is eerder om ’n bewustheid te ontwikkel vir sy unieke temperament sodat jy hom kan help om die lewe so goed as moontlik te hanteer. Dit word gedoen deur sy sterk punte te koester en ondersteuning te gee wanneer dinge vir hom moeilik raak.

’n Sensitiewe kind wat in ’n nuwe en onbekende situasie aan jou rokspante vasklou, kan uitdagend wees, maar hierdie kinders ontwikkel gewoonlik baie empatie en sorgsaamheid.

’n Kind wat alles ondersoek, soos apies, is weer baie harde werk, spesifiek vir tuisbly mammas. Waagmoed kan ’n groot aanwins wees later in hulle lewe. Of dit kan Mamma moedeloos maak omdat sy herhaaldelik met die passiewe kind met sy kameelperdtemperament moet praat om hom aan die gang te kry. Terselfdertyd maak sy rustige temperament hom ongekompliseerd.

Ken jou kind en bevorder sy sterk punte

Die sensitiewe kind moet uiteraard sagkens benader word, anders kan angstigheid ’n probleem raak. Krimpvarkies het empatiese, sensitiewe ouers nodig wat fokus op positiewe eienskappe en ingryp wanneer geraas byvoorbeeld oorweldigend raak.

Onderaktiewe kinders het natuurlik meer beweging nodig. Moedig die kameelperdkind aan om dinge te doen wat sy spiere hard laat werk, soos om ’n slaansak te boks of te stoei op die mat. Vra gereeld vir hulp met pakkies uit die motor aflaai. Trampolienspring en fietsry is ook baie goeie oefening.

Sensories soekende kinders, soos die apies, het somtyds te veel energie en vind dit moeilik om kalm te raak. Sulke kinders vind baat by takies wat ’n duidelike begin en einde het. Gebruik ’n stophorlosie of sandloper om aan te dui wanneer om te begin en wanneer die taak of speletjie klaar is.

Doen moeite om jou kind se temperament te leer ken en te verstaan, en bou so diep en betekenisvolle verhoudings.

Lizanne du Plessis, ouerskapkenner