Verstaan kom eendag!

Ek onthou hoe my ma my die geheim vertel het: Jy sal nog eendag verstaan. Ek kan nie onthou wat ek eendag sou verstaan het nie. Ek was toe vol van tiener alwetendheid.

Nou die dag, onwetend, herhaal ek dieselfde sinnetjie aan my kind. Ook sy het my aangekyk asof ek in een of ander uitpeel-oog-pienk paddavis verander het. Vol van die alwetendheid.

Sulke verstaan geheimenisse gebeur iewers tussen kind wees, groot wees en daarna. Op spesifieke tye in jou lewe. Elke keer kry jy bietjies verstaan by. Nie voor die tyd nie.

Jou liberale idees word beproef en plof somtyds in die stof.

Soos toe jy die eerste keer jou wonderwerkie van ‘n lewetjie kon vashou. Net daar het jy nie meer liberaal gevoel oor die reg of keuse tot aborsie nie.

Skielik daarna, ryg ‘n hele rits geheime verstane uit. Soos, dat mens uiters moeg kan wees en steeds kan aangaan. Jy verstaan ook klein goedjies, soos dat jy met ‘n nat suurmelk reuk skouer kan werk toe gaan, omdat poplap op jou gespoeg het net toe jy haar by die dagmamma afgelaai het. ‘n Jong kollega het jou viesneus aangekyk. Sy sal dit nooit ooit doen nie. Sowaar?!

Nooit het jy verstaan dat jy jou fênsie klere sou verruil vir gemaklike klere nie of dat jou hoë hakke al platter sou word nie. Haarstyle en grimering raak ‘n omtowering in twee sekondes, want jy hol met ‘n potjie agter ‘n kleuter aan EN moet betyds wees vir werk.

Later jare weer terug in laerskool, die keer as mamma, leer jy van vooraf spel, tel en lees. Jy sit met papier mache en taai vingers, gedoentetjies vir skooltake aanmekaar plak op ‘n Maandagoggend. Sussa het vergeet het om jou Vrydag daarvan te sê. Jy leer ook hoe om ‘n elektrise stroombaan te bou en is baie trots op die goeie punte vir jou pogings.

Jou verstane word elke dag meer.

Jy verstaan dat jou liefde, soos jou ma s’n, kanniedood is.

So betree jy hoërskool. Uiteindelik raak sussa of boeta so selfvoorsienend dat jy nie meer deel van hul take hoef te wees nie. Genadiglik, want stroombane raak nou regtig bo jou vuurmaakplek.

Vir die eerste keer verstaan jy hoe dit aan die ander kant van die tiener pool voel. Jou ma se – nee JOU bekommernisse, redenasies, opwinding, onsekerheid of jy jou kinders reg groot maak, trots en gedurige gebede vir hierdie jong mensies in jou lewe.

Jy verstaan wat onvoowaardelike liefde is.

Net so, het niemand het jou ooit vertel hoeveel kilometers jy sou afgelê het tydens jou kinders se skooljare nie. Moontlik kon jy al drie keer om die aardbol gery het. Jy weet dat hierdie tyd gaan verby gaan. O, jy gaan dit mis! Die geselsies in die kar en die gevoel daarvan om nodig te wees. Mamma-taxi-ry is uitputtend, maar jy verstaan om dit te waardeer.

So vermeerder jou vestaan bietjies-bietjies…

Lank gelede het jou ma jou gesê dat jy eendag sal verstaan.

Wel, eendag het aangebreek, want jy verstaan. En jy weet dat hierdie inligting moeilik in een boek saamgevat kan word of selfs hardop verduidelik kan word.

Dis net iets wat jy eendag sal verstaan.