Verstaan mekaar se seksuele behoeftes

0
721
seks.jpg

’n Man en vrou se seksuele behoeftes verskil hemelsbreed. Jy kan hierdie gaping oorkom as jy dit verstaan.

Die agtergrond

Buiten al die grappies oor koue vroue en mans wat lus gebore is, is daar regtig in wese ’n paar verskille as dit by ons seksuele behoeftes kom. As jy al ’n rukkie getroud is, is dit natuurlik nie vir jou nuus nie.

Hoekom is dit juis so belangrik dat ons mekaar se verskillende behoeftes moet verstaan en eer? Dink ’n bietjie hieroor na: Jou man se behoefte om byvoorbeeld in die buitelug of natuur te wees terwyl jy oukei is om binnenshuis te wees, laat julle nie verwerp voel nie. Julle kan mos op julle eie aan julle voorkeure en behoeftes uiting gee.

Maar seksuele voorkeure werk heeltemal anders. Julle verskillende behoeftes en voorkeure het ’n direkte invloed op mekaar. Verder is julle afhanklik van mekaar om julle spesifieke behoeftes te bevredig.

Omdat mense en huwelike uniek is, kan daar nooit een reël wees wat vir almal geld nie. Nietemin is dit goed as jy weet hoe jou maat se behoeftes moontlik van joune verskil.

Die probleem

VROUE WIL GEWAARDEER EN GELIEFD VOEL
Na jare se getroude lewe doen baie mans nie meer moeite nie. Hulle gee nie meer komplimente nie en connect nie emosioneel met hulle vrou nie. Dan is hulle baie afgehaal en selfs kwaad as die vrou nie opspring en hom platduik op die bed by die geringste aanduiding dat hy nou lus is nie.

Die belangrikste beginsel wat ’n man moet verstaan, is dat ’n vrou primêr vanuit haar emosies reageer as dit by seks kom. Sy is eers lief en dan lus. Lus gaan nie sommer gebeur sonder lief nie. Die goue reël vir die manne? The more a woman is emotionally covered by her husband, the more she will be willing to uncover herself physically for him.

VROUE WIL SEKSLOSE AANRAKING EN LIEFDE HÊ
Baie vroue kla dat mans hulle nie net intiem kan vashou en soen sonder dat dit verder gaan nie. “Ek gee nie om as hy my net vinnig soen op die wang of mond, of my ’n lekker druk gee nie, maar as hy my soen met al die ekstras, dan weet ek,” sê een van die vroue wat hieroor met my gesels het. Haar man verstaan natuurlik nie wat die probleem is nie. Hy mag haar mos lekker soen!

Maar wat mans moet verstaan, is dat dit gaan oor die tipe soen en drukkie, oor die timing en die motief. As sy emosioneel verseker is van jou gevoelens – dis nou die gevoelens van jou hart, nie jou lyf nie – sal haar liggaam outomaties gereed wees om te reageer – op die regte tyd.

OORROMPEL HAAR MET ROMANSE
Dit is makliker as wat mans dink. Kerslig, sagte musiek, ’n lekker warm bad, ’n glas wyn in die maanlig …’n Man wat hierdie dinge kan uitdink (oukei, afkyk by ’n fliek) en bereid is om moeite te doen om dit uit te voer, is ’n man wat sy vrou se hart op ’n baie diep plek raak.

BEVESTIG SY MANLIKHEID
’n Goue wenk vir alle vroue: ’n Man wil sy manlikheid bevestig met seks. Hy wil weet hy is nie net ’n man nie, maar dat hy vir jou mans genoeg is.

As jy nie reageer nie en nie vir hom wys dat seks met hom vir jou opwindend is nie, sal iets van sy manwees verwond word. Jy ontman jou man as jy altyd passief bly en nie reageer nie. Laat weet jou man as iets vir jou lekker is; hy wil ook hoor dat hy jou opgewonde maak.

MANNE SOEK ’N BIETJIE AVONTUUR
Dames, ontspan, dis nie so erg as wat julle dink nie. Hy het dalk baie konserwatief grootgeword en kan nie eens daaraan dink om kaal in die donker te swem nie. Al is jy ietwat huiwerig (en selfs koekerig), moet jy nog steeds hoor: Geen man hou daarvan as seks altyd ’n ernstige affêre is nie. Hulle wil speel, sommer met tye simpel wees. As vroue eers oor hulle angshekkie gekom het, ontdek hulle gewoonlik iets waaroor hulle self gaande is.

Ek lees van ’n vrou wat haar man met net ’n jas aan op die lughawe wou verras. Toe sy deur die metaalverklikker stap, begin die alarms skree! Die sekuriteitsbeampte het aangedring dat sy haar jas uittrek, waarop sy byna flou van verleentheid geweier het en besef het dit is die jas se gordel wat die alarms laat skree. Toe sy weer deurstap, was dit stil.

Net soos sy hierdie toertjie nooit weer sal waag nie, sal haar man hierdie dag ook nooit vergeet nie!

MANNE IS VISUEEL INGESTEL
Al ooit gehoor dat mans inherent jagters is? Hulle reageer op iets wat hulle oog vang. Jagters kan op ’n myl sien watter bok net senings is en watter een goeie biltong gaan maak.

’n Vragie aan alle bokkies: Is jy goeie biltong? En nee, dit gaan nie noodwendig oor jou lyf se vorm nie – ’n sirkel is in elk geval ook ’n vorm. Watter prentjie is jy vir jou man? Hoeveel moeite doen jy met jouself? Wees jy die een wat hom vet voer met die biltong!

Die uitdaging

Baie huwelike verval ook in kitskos-seks – quickies – omdat huweliksmaats net mekaar se liggame najaag. Net soos ’n hamburger op sy tyd heerlik is, maar jou liggaam sal verwoes as dit al is wat jy ooit eet, net so is quickies reg en lekker op die regte tyd, maar dit sal jou huwelik ’n stadige dood laat sterf as dit die enigste dis op die spyskaart is.

Vra jou af: Wanneer laas het julle mekaar net vasgehou en lê en gesels? Een van ons grootste probleme is ons het verleer om te vry. Sommer net cuddle, sonder dat dit uitloop op seks.

Mans, vir wat dit werd is, die beste vorm van voorspel is ’n man wat sy vrou help met die kinders, die kos en die huis. ’n Man wat speels is terwyl hy sy vrou se ma-wees ondersteun, maar vir haar kykies gee wat haar hart tref, is onweerstaanbaar en super-sexy.

Komaan, Sussie! Knyp jou man onverwags aan die boud in die openbaar. Flash vir hom terwyl hy gras sny. Dis jóú man. Jy mag hom geniet en hom terg. God glimlag as ons die verbond van ons huwelik geniet. Wees kreatief, gaan gróót!

Uittreksel uit Gretha Wiid se boek, Onblusbare liefde