Versteekte herinneringe in my klerekas

Die afgelope naweek het ek besluit om weer vir ‘n slag my klerekas uit te sorteer.

My eenjarige seuntjie het dit ook vreeslik geniet, want wanneer iets per ongeluk op die vloer val vang hy dit haastig en begin dit speel-speel oor sy gesiggie trek.

Soos wat ek, heel ingedagte, die klere elkeen mooi opvou en op sy plek bêre, kry ek myself waar ek met elke kledingstuk probeer onthou waar ek dit al vantevore aangehad het. Ek kry myself ook toe nou waar ek vir my seuntjie stories begin vertel van wat ek wanneer aangehad het. Baie herinneringe het deur my kop begin flits, veral toe ek by klere kom wat nog van my studentedae af kom, en ook toe ek by die klere kom wat ek tydens my swangerskap gedra het.

Die herinneringe het my soms lekker by myself laat giggel en ander kere het dit my aan mense laat dink wat ongelukkig nie meer deel van my lewe is nie, maar meeste van die kledingstukke het goeie herinneringe ingehou, en daarvoor het ek ‘n diepe dankbaarheid. Alhoewel ek met van die mense nie meer kontak het nie, duik goeie gedagtes op wanneer ek aan hulle dink.

Nooit het ek gedink soveel stories sou uit my klerekas kom nie. Ek koester elke herinnering en hoop om nog vele meer nuwe herinneringe daarby in te werk.

Mag elke soom in jou klerekas ‘n storie vertel en jou herinner aan spesiale tye in jou lewe. Mag God jou bewus maak dat elke klein dingetjie ‘n groter storie vertel.

Seënwense,

Stephanie