Versteekte talente van items in jou huis

0
237
nael.jpg

Wie sou kon raai dat daar ’n hele paar “007’s” in jou huis skuil? Kyk eers na hierdie 20 items met verskuilde talente, wat reeds in jou huis is voor jy winkel toe ry vir ’n snaakse gadget.

RUBBER REKKIES

Voorkom dat sagte en gladde toppies van die hangers afgly in jou kas. Draai breë rubber rekkies om die punte van die hangers om jou klere netjies op hulle plek te hou.

rekkie.jpg

BRILKASSIE

Het jy ’n ekstra brilkassie wat in jou huis rondlê? Dit is perfek vir jou juwele wanneer jy pak vir vakansie. Nog ’n oulike idee is om jou oorfone hierin veilig te bewaar. Moenie weer deur jou handsak krap daarvoor nie …

brilkassie.jpg

BRAAITANG

Gebruik ’n braaitang om daardie bottel, of bakkie doer bo by te kom. Dit kom ook handig te pas wanneer daar (redelik gereeld) iets agter die wasmasjien of yskas inval.

braaitang.jpg

KOUSE

Moenie dink dit is nodig om duur bubble wrap te koop wanneer jy trek nie. Kouse en t-hemde bied uitstekende beskerming vir jou breekbare items wat in bokse gepak moet word.

kous.jpg

PRE-WASH SPUITMIDDEL

Meer as net vlekke kan deur iets soos Preen of Vanish verwyder word. Spuit dit aan botteltjies waarvan die plakkers moet af of op ander wasbare oppervlaktes met hardnekkige taai plakkers op.

vanish.jpg

’n SAGTE NAELVYLTJIE

Hierdie skoonheidstoebehore is geskik vir meer as net jou naels. Gebruik jou sagte naelvyltjie om liggies vlekke op suede skoene en handsakke uit te vryf.

naelvuil.jpg

’n STROOITJIE

Het jy pragtige blomme in jou ruiker wat net nie wil regop staan nie? Druk die stele in ’n strooitjie sodat dit mooi regop bly.

strooitjies.jpg

SKOTTELGOEDHANDSKOENE

Wanneer jy weer sukkel om ’n bottel oop te draai, trek sommer vinnig ’n rubber skottelgoedhandskoen nader. In ’n japtrap is die bottel oop en jy het nie eers nodig om jou hand in die handskoen te steek nie.

handskoene.jpg

OU KNOPE

As jy ook gedurig opsoek is na een van die oorbelle in ’n stel, of dalk gereeld die vlindertjie verloor, is ’n los knoop jou redding! Steek die oorbelle deur die knoop se gaatjies en maak dit veilig agter vas. Nou is al twee by mekaar en boonop maklik om in jou juwelekissie op te spoor.

knope_oorbelle.jpg

STORTKEPS

Gebruik die hotel stortkepse wat jy gratis kry en span dit onder om jou skoene wanneer jy weer pak. So maak jy seker jou skoene smeer nie die klere in jou sak vuil terwyl jy reis nie.

stort_hoed.jpg

SKROP BORSELTJIES

Hierdie stukkie kombuisgereedskap se geheime talent is om wolletjies van jou truie te verwyder. Vryf dit saggies oor jou klere tot alles weer pragtig lyk.

sponsies.jpg

STORTGORDYN

Stoor ’n opgevoude stortgordyn in jou kar se kattebak. Dit is ideaal om vinnig oop te maak en jou motor te beskerm teen dinge wat dit moontlik kan vuilsmeer soos plante of die kinders se vuil sport toerusting.

stortgordyn.jpg

DEURSKYNENDE NAELPOLITOER

Een van die mees veelsydige items in jou huis is natuurlik naelpolitoer. ’n Klein druppeltjie hiervan keer dat daardie fyn skroefies in jou bril nie loskom nie. Verf dit oor vasgewerkte knope om te verhoed dat dit loskom en wegraak. Druk ook die punte van veters in jou cutex om te keer dat dit uitrafel. En dan natuurlik die oorspronklike “nie-gepatenteerde” gebruik … verf dit aan ’n leër op jou sykouse om te keer dat dit vererger.

knope.jpg

KOELDRANKBLIKKIE OORTJIES

Maak meer plek in jou klerekas. Gebruik die oortjies van koeldrankblikkies, haak dit bo om die hanger en hang nog ’n hanger van die oortjie se onderkant. Wie het nou nie meer spasie nodig nie?

koeldrank_ding.jpg

WITASYN

Onkruid hoef nie jou plaveisel oor te neem nie. Gooi witasyn in ’n spuitbottel en spuit die onkruid daarmee. Tjoef-tjaf en weg met die gemors.

asyn.jpg

’n KOEKIE SEEP

Sukkel jy om ’n stram ritssluiter te trek? Hou die zip styf en vee met ’n koekie seep oor die voor- en agterkant van die tandjies. Jy gaan sien hoe maklik gly dit nou oop.

seep.jpg

PLASTIEK BOTTELS

Skei eiers vinnig en maklik sonder enige gemors, met ’n leë plastiekbottel. Breek die eier in ’n bakkie. Druk dan ’n skoon, leë bottel saggies, hou dit oor die eiergeel en laat gaan jou greep. Die vakuum binne in die bottel sal die eiergeel insuig. Druk dit eenvoudig weer in ’n ander bakkie uit.

eieirs.jpg

KOERANTPAPIER

Is jou swart skoene vaal maar jy het geen politoer nie? Gebruik ’n opgefrommelde stuk swart-en-wit koerantpapier om die glans weer in jou skoene te sit. Onthou net, hierdie truuk gaan nie werk met gekleurde koerantpapier nie.

koerant.jpg

SPRAY ’n COOK

Spuit ’n bietjie Spray ’n Cook aan ’n skarnier wat raas. Wikkel die deur effens heen en weer sodat die olierigheid oral kan bykom, en vee oortollige vetterigheid af.

spray_cook.jpg

STICKY NOTE

Voordat jy weer een van hierdie notaboek-plakkers weggooi, vee eers die taai kant deur jou rekenaar se knoppies. Dit haal stowwerigheid en krummels maklik uit.

sticky.jpg