Vertrou die proses

Ons almal pak deurlopend iets, groot of klein, aan.

Dalk ‘n groot projek by die werk, ‘n graad by die universiteit, herstel na ‘n operasie, verfraaing van jou tuin, verbetering van jou fisiese voorkoms of om jou kennis van die Woord te verbeter. Dalk is dit bloot om net deur vandag te kom.

Tussen die vertrekpunt en die bereiking van die doelwit lê daar ‘n reis. ‘n Reis van leer van geduld, uithouvermoë, fokus, visie, gee en vreugde. Derhalwe ook ‘n reis wat gepaardgaan met persoonlike groei en ontwikkelling. Daar is dalk oomblikke wat dit blyk dat die verlangde doelwit nie bereik gaan word nie. Die reis vereis dan meer as wat jy verwag het. Gaan jy die doelwit bereik ondanks die teenkanting/struikelblokke?

Ek luister ongeveer twee weke gelede na ‘n onderhoud wat met die 30-jarige Novak Djokovic, ‘n tennisspeler wat van Serwië afkomstig is, gevoer is nadat hy by die BNP Paribas Ope by Indian Wells in die VSA in aksie was. In sy roemryke professionele tennis loopbaan het hy al vele titels ingepalm en was hy vir baie lank die wêreld se nommer 1 tennisspeler.

Gedurende 2017 het hy knaende beserings opgedoen en in Februarie 2018 moes hy ‘n operasie aan sy elmboog ondergaan. Die beserings en gepaardgaande minder tennistoernooie waaraan hy kon deelneem het ‘n nadelige effek op die kwaliteit van sy tennis gehad. Die resultaat was dat hy het ‘n aantal plekke op die wêreldranglys gesak het en tans die 12de beste speler is.

By die BNP Paribas Ope by Indian Wells in die VSA is hy in die tweede rondte van die toernooi deur Taro Daniel van Japan, wie nommer 109 op die wêreldranglys is, geklop. Tydens die onderhoud na afloop van die wedstryd, het ‘n joernalis vir Novak Djokovic gevra of hy nie bekommerd is oor sy swak spel nie. Sy antwoord was bloot dat hy besef hy kan nie oornag weer die wêreld se beste tennisspeler wees nie, maar hy het ‘n goeie afrigter en goeie ondersteunende span. Hy het volle vertrou in die proses wat gevolg moet word en hy glo dat dit hom in staat sal stel om weer die wêreld se beste tennisspeler te word.

As Christene het ons het die heelal se beste Afrigter aan ons kant. Iemand wat in ons vermoëns glo en ons elke dag wil inspireer om die beste uit die dag te haal. Ons moet net bereid wees om na Hom te luister en Sy raad te volg. Hou by die neergelegde beginsels wat ten doel het om van elkeen ‘n oorwinnaar te maak, ongeag die uitdagings. Jy kan die beste jy wees. Stel jou vertroue in Hom en vertrou die proses.