Vertrou jou sesde sintuig!

1856

Wonder jy of daardie stemmetjie binne jou vertrou kan word? Die Here praat soms met ’n fluisterstem – vertrou dus daardie gevoel wat jy het.

MAANDAG

Intuïsie is om sommer net te wéét

Ons kry almal daardie gut feeling dat ons net wéét hierdie ding is iets wat ons nie moet doen nie. Of dis ’n stemmetjie wat sê: Dis wat jy nou moet doen.

Intuïsie word beskryf as die vermoë om iets te weet of aan te voel sonder om eers rasioneel daaroor te dink. Ons kan ook sê dis ’n diep wete, ’n gewaarwording, ’n innerlike oortuiging of ’n sekere kennis in jou diepste wese. Dis iets wat nie direk sigbaar of afleibaar is nie, dis eintlik net ’n indruk.

Elke mens ondervind hierdie gevoel die een of ander tyd deur middel van emosies, gedagtes en die liggaam se spontane vermoë om iets net te wéét.

Jy kry een oggend byvoorbeeld net die gedagte dat jy vandag ’n ander pad werk toe moet ry. Later vind jy uit dat daar ’n verkeersknoop op die gewone pad was wat die verkeer ure lank ontwrig het en dat jy laat sou gewees het as jy daarlangs gery het.

Daardie aanvoeling sê gewoonlik vir jou wanneer iets reg of verkeerd is. ’n Sekere emosie, byvoorbeeld, kan ’n interne waarskuwing wees wat jou aanmaan om iets daadwerkliks te doen.

Enigiemand het ’n soort instink wat sekere liggies laat aangaan. Party mense verkies egter om dit te ignoreer. Vir gelowiges is dit ’n innerlike getuienis van God wat met ons praat.

Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs” (Jesaja 30:21).

Dinsdag

God trek jou aandag op hierdie manier

Intuïsie is nie ’n gawe of talent wat net sekere bevoorregtes beskore is nie. Almal het van tyd tot tyd daardie gut feeling, ook ongelowiges. In ’n Christen se lewe is dit een van die hoofmaniere waarop die Here ons lei en ons aandag trek.

Christene glo dat God deur die Heilige Gees met ons in ons binneste praat. En dat daardie stem wat jy dikwels so helder in jou kop hoor, nie net ’n gevoel of gewaarwording is nie. Dis die Gees wat jou bewus wil maak van iets.

Jy het al ondervind dat jy kriewelrig raak in ’n sekere situasie of wanneer jy met ’n spesifieke persoon te doen het. Gewoonlik maak jy daardie onverklaarbare gevoel dat jy nie van iemand hou nie, af as jou verbeelding, maar jy moet volgende keer dalk ’n bietjie meer aandag daaraan gee.

Onthou, al kan jy iets nie met jou verstand uitredeneer nie, kan dit nog steeds baie waardevol wees om weer ’n keer daaroor te dink. Jou intuïsie sal nie noodwendig altyd reg wees nie, maar in die meeste gevalle sal dit wel wees. As jy leer om daarop te vertrou, kan jy op die regte tyd ’n groot verskil in jou eie of iemand anders se lewe maak.

Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het” (Hebreërs 3:7-8).

Woensdag

Die onderbewussyn help en waarsku jou

Jou onderbewussyn gee dikwels vir jou ’n antwoord of oplossing sonder dat jy daarvoor gevra het. Jy weet net iets sonder dat daar ’n logiese verduideliking daarvoor is.

Partykeer word die boodskap selfs deur jou drome oorgedra en gebeur dit wanneer jy dit die nodigste het. Wie van ons het nog nie met ’n kwessie geworstel en ná ’n nag se slaap skielik net geweet wat om te doen nie? Daar steek tog waarheid daarin as iemand sê dat sy eers oor ’n saak “moet slaap”.

Wetenskaplikes glo dat hierdie hele proses hoofsaaklik in ’n mens se regterbrein plaasvind. Selfs die Britse weermag heg baie waarde aan die sesde sintuig en stuur hulle soldate die wildernis in tydens opleiding. Op hierdie manier kan hulle vasstel wie in staat is om hulle intuïsie onder moeilike omstandighede te volg.

Natuurlik maak ons almal foute en kan ons gevoel ons soms in die steek laat. Tog is daar sekere tye en situasies wanneer jy daardie waarskuwende stemmetjie net móét vertrou. Dit kan jou dalk ’n verleentheid spaar!

Daar is natuurlik ’n baie fyn grens. Om jou instink te volg is nie om te oorreageer oor die kleinste probleempie en paranoïes te wees nie. Dit is bloot om proaktief op te tree wanneer jy kan voel iets is nie pluis nie, al kan jy nie jou vinger daarop plaas nie.

Laat u woord my op die regte pad hou; moet tog nie dat enige kwaad die oorhand oor my kry nie (Psalm 119:133).

Donderdag

As jy bekommerd voel oor jou gesondheid, gaan dokter toe

Jy sou nie sê jy is hondsiek nie, maar jy voel ook nie reg nie. Jou gesondheid is die een ding waarmee jy nie speel nie, want nalatigheid kan groot probleme veroorsaak. Dit kan jou baie geld uit die sak jaag en selfs jou lewe kos. Dit geld natuurlik ook vir wanneer jy bekommerd voel oor jou hartsmense.

Die spreekwoord sê mos spyt kom altyd te laat. As iets vir jou sê dat jy liewer die dokter moet gaan sien, doen dit. Wat het jy om te verloor? Dink hoe spyt jy dalk gaan wees as daar ’n ernstige toestand is!

Evette se hande en voete het gereeld lam geword, en alhoewel almal vir haar vertel het dat dit net swak bloedsomloop was, het dit haar bly pla. ’n Dokter het haar ondersoek en agtergekom dat die lamheid veroorsaak word deur ’n werwel in haar rugstring wat vergroot is.

Sy was steeds nie tevrede nie en het die volgende dag ’n ander dokter geraadpleeg. Hierdie dokter het bevind dat sy ’n soort kanker het wat gewoonlik eers in ’n baie gevorderde stadium opgespoor kan word. Mense wat hierdie soort kanker het, staan gewoonlik nie ’n kans om dit te oorwin nie.

Omdat sy egter na haar sesde sintuig geluister het, kon sy betyds behandeling ontvang. So het sy letterlik haar eie lewe gered.

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting! (Jeremia 29:11)

Vrydag

As iemand in jou gedagtes is, bel haar

Jy skrik een oggend wakker en een van die eerste dinge waaraan jy dink, is jou broer. Jy wonder hoe dit met hom gaan en voel dat jy hom vandag móét bel. Maar jy is besig en stel uit.

As jy vir iemand omgee, het jy in jou onderbewussyn ’n band met daardie persoon. Jy sal onbewustelik weet as hierdie persoon deur ’n moeilike tyd gaan of as iets verkeerd is.

Al wil ’n mens nie noodwendig inmeng nie, moet jy leer om na daardie stemmetjie in jou kop te luister. Jy hoef nie reguit vir die persoon te vra of daar iets fout is nie. Tel ten minste net die telefoon op en sê: “Hallo, Boetie, hoe gaan dit met jou? Ek dink al heeldag aan jou.” Baiekeer is dit al wat daardie persoon nodig het om uit hulle eie te begin gesels oor wat pla.

Emily het op ’n dag wakker geword met ’n aaklige gevoel dat iets fout is met haar vriendin. Sy het onrustig gebly, en die hele oggend probeer om haar in die hande te kry, sonder sukses.

Teen elfuur het sy na die vriendin se huis toe gery. Daar het sy haar vasgemaak aangetref, in ’n leeg gesteelde huis. Wie weet hoe lank die vrou daar sou gelê het voordat iemand opgedaag het?

Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder (Psalm 25:4-5).

Saterdag

Neem die beste besluite by die werk

Jy het net ’n gevoel dat jou idee vir die maatskappy waarvoor jy werk, van groot waarde sal wees. Die probleem is dat dit nie in jou afdeling is nie. Jy dink nie dat die mense in daardie spesifieke afdeling dit ernstig gaan opneem nie.

By die werk kan jou sesde sintuig vir jou van groot waarde wees. Dit kan jou help om ’n kans te waag en miskien ’n paar verskuilde talente te ontdek. Dit kan jou ook help om goeie besluite te neem as jy goed na daardie stemmetjie luister.

Die kuns is om te leer om jou intuïsie te vertrou. Dit sal jou moontlik ook die moed gee om ’n voorstel met vertroue aan die betrokke partye voor te lê. Dit is al ’n begin. Die ergste wat kan gebeur, is dat hulle nie jou voorstel aanvaar nie. As jy nie bereid is om die kans te waag nie, sal jy nooit weet nie, so waarvoor wag jy?

Richard Branson is ’n tipiese voorbeeld van iemand wat sy intuïsie volg en al groot sukses daarmee behaal het. Wanneer sy gevoel vir hom sê om ’n transaksie te beklink, doen hy dit sonder om eers sy finansiële raadgewer te raadpleeg. Ons almal weet dit werk vir hom. Die geheim is bloot dat hy homself genoeg vertrou.

Ek wil luister na wat God die Here sê, want sy woord bring vrede vir sy volk, vir dié wat Hom getrou dien. Hulle moet net nie weer afdwaal nie (Psalm 85:9).

Sondag

Daar is maniere om jou intuïsie te ontwikkel

Dink jy dat jy nooit ’n besluit sou neem op grond van ’n gevoel oor ’n saak nie? Of glo jy dat daardie gut feeling net vir ander mense werk?

Dit is tog moontlik om jou sesde sintuig te verskerp. Wees oop vir verandering en moenie dat onnodige vrees vir die onbekende jou terughou nie.

Moet ook nie jou gesonde verstand vergeet nie. Die antwoord is soms voor die hand liggend, maar omdat jy bang is om ’n fout te maak, wag jy eers vir absolute sekerheid. Dit kan dalk te laat wees!

Sien raak wanneer jou intuïsie jou in die verlede gehelp het. Skryf dit neer sodat jy nie vergeet nie. Moenie glo dat dit toeval is nie; gee jou sesde sintuig die nodige eer.

Mense is nie almal ewe waaghalsig nie en party het meer sekerheid nodig. Leer dan om daardie stemmetjie met feite te kombineer. In Engels praat hulle van connecting the dots. Dis ’n wenresep vir goeie besluitneming.

Vertroue in jouself is baie belangrik. As jy in jou hart oortuig is van iets, doen dit dan. Jou hemelse Pa het net die beste vir jou in gedagte. Jou intuïsie is daar om jou te bevoordeel, nie te benadeel nie.

Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig (Johannes 16:13).