Verveling is goed vir jou geloof

0
149
geloof_1.png

Sal jy eerlik erken dat jou geloofslewe vervelig geword het? Gebruik hierdie tyd om nuwe opwinding en passie te kweek.

Toe jy jou geliefde ontmoet het, kon jy nie genoeg van hom kry nie. Jy wou heeldag by hom wees. As julle nie by mekaar was nie, het jy onophoudelik oor hom gepraat. Mense het jou vermy omdat hulle nie meer wou hoor wat hy dink, doen en sê nie. Soms het jy verpligtings afgeskeep omdat jy wou fokus op wat jy vir hom kon doen.

Was dit nie ook so toe jy pas begin glo het nie? Bybelstudie was ’n plesier, jy het aanmekaar gebid. Jou gedagtes was gedurig by wat jy ontdek het oor geloof. Jy was so opgewonde en het met mense hieroor gesels.

En toe – net soos in jou verhouding met jou man of geliefde – raak alles gewoon en roetine. Bybelgedeeltes is oorbekend. Wanneer laas het jy iets nuuts in ’n preek gehoor? Stiltetyd is ’n verpligting waarvoor jy nie krag het nie. Uiteraard het jy die Here nog lief, maar die opwinding is weg. Jy wil uitroep: “Ek is so verveeld! Waar is die skoenlappers in my maag?”

Maar jy doen dit nie, want hoeveel mense ken jy wat hierdie verveling sal erken? Die meeste sal dit nie waag nie. Dalk dink jy ook dat ’n weerligstraal jou sal tref as jy iets so onheiligs sou uitblaker! Maar al sê mense dit nie, kan jy uit hulle houding en woorde agterkom dat hulle ook so voel.

Dis tyd om eerlik te wees. Om te erken hoe jy voel kan die begin wees van groot verandering – selfs al is jou gevoelens negatief. Om weer ’n entoesiastiese gelowige te word, moet jy jou rou en ware gevoelens uitspreek. As jy nie meer lus is vir jou geloofsverhouding nie, sê dit. Dis nie vir God nuus of ’n verrassing nie. Jou eerlike belydenis kan die begin van nuwe groei wees.

Nuwe opwinding en entoesiasme begin by jou

Na jou opregte belydenis is daar ’n paar waarhede wat jy jou eie moet maak. Jy is nie verveeld as gevolg van jou geloof wat op ’n manier verander het nie. Jy voel ook nie so onvergenoegd omdat die Heilige Gees opgehou het om in jou te werk nie.

Daar kan net positiewe verandering kom as jý na vore tree en aanmeld vir ’n hersiening van jou geloof. Jy moet ophou terugkyk na die verlede toe dinge vars en nuut was. Fokus jou energie op ’n groeiproses wat vandag begin en jou môre en oormôre sterk sal hou.

Na jou eerlikheid sal jy jou daartoe moet verbind om dinge van nou af anders te doen. Jy kan jou proses van bely-en-verander verstaan in die lig van die verhaal van Petrus. Hy het Jesus op die see sien loop en toe wou hy na Hom toe gaan. Om hierin te slaag, moes hy uit die boot klim waarin hy was. As hy net bly sit het, sou niks gebeur het nie.

Jy hoef nie iets aardskuddends te doen as jou eerste stap om te verander nie. Jy hoef nie by wyse van spreke ’n boot te bou voor jy daaruit klim nie! Jy kan een vir een klein aanpassings maak om uit jou boot te klim. ’n Opregte gebed in alledaagse woorde is ’n goeie begin.

Hierdie gebed kan insluit dat jy vra vir ’n groter bewustheid van ’n heilige Teenwoordigheid. Dalk word jy verras met allerlei tekens, soos ’n besondere lied wat speel sodra jy jou motor aanskakel. Of ’n bemoedigende boodskap op ’n bufferplakker in die parkeerarea van jou winkelsentrum.

Te erg verstrengel in verpligtinge en bekommernisse om dit self reg te kry? Koop dan vir jou ’n CD met gedigte of musiek wat jou siel laat sing. Luister elke keer daarna as jy êrens heen ry. Bêre mooi aanhalings op jou selfoon en lees hulle terwyl jy in ’n tou staan en wag. Of belê in ’n boek met Bybelbeloftes of inspirerende dagstukkies.

Iets soos Versies vir ’n vriendin (Carpe Diem Media). In hierdie ongewone boek pas die Bybelvers vir elke dag by die syfers van die datum. So kan jy byvoorbeeld op 10 Mei bemoedig word deur Matteus 5:10. Dis die tiende vers van die vyfde hoofstuk van Matteus vir die tiende dag van die vyfde maand. So kan ’n klein bietjie rondblaai jou op groot skaal in verwondering bring.

Verveling vervaag soos mis voor die son wanneer jy inzoem op die wonderbaarlike om jou. En jy sal dit so ervaar sodra jy daarvoor vra en aktief daarna soek.

Skommel die roetine van jou geloof deurmekaar

Dink jy nog op ’n Vrydag: “Lekker! Sondag is dit kerk!” Beplan jy kuiers met vriendinne rondom jou geestelike aktiwiteite? Of is jy maar te bly dat iets voorgeval het en jy verskoning kan maak? Klim jy met ’n sug in jou motor vir ’n aktiwiteit van jou gemeente of diensgroep? Kan jy nog onthou wat jy in jou onlangse stiltetyd gelees het? Of is al jou gebede en leeswerk ’n grys warboel van oorbekende woorde?

Sit weer kleur in jou geloofsaktiwiteite! Skud jou boot en doen vreemde, ongewone dinge. Jy vra mos vir leiding, jy gaan nie dom, gevaarlike dinge doen nie. Dalk sal ’n suster in die kerkbank effens frons, maar dis jou geestelike groei, nie hare nie.

Probeer bepaal wat jou spesifieke behoefte is. Dan kan jy ’n kerk of geestelike leier soek wat jou kan help. Woon ’n erediens in ’n ander kerk by. Al voel jy dalk glad nie tuis nie, sal dit jou wakker skud. Of dalk voel jy so tuis dat jy inskakel en ’n meelewende lidmaat word.

Nie lus vir so ’n groot opskudding nie? Woon dan in jou eie gemeente ’n ander diens by. Gaan aanddiens toe as jy gewoonlik in die oggend gaan en andersom. Of bly ’n Sondag heeltemal weg en kyk kerk op TV. Wanneer jy hierna weer na jou gewone diens gaan, voel dit soos nuut.

As daar in jou gemeente of omgewing nie ’n kleingroep is waar jy lekker inskakel nie, kyk wyer. Sluit byvoorbeeld aan by ’n gespreksgroep op Facebook. Vrouewatglo.co.za is ’n veilige forum waar jy FINESSE vriendinne kan maak en kan saamgesels oor hoe jy glo. Dit hoef ook nie virtueel te bly nie. Op hierdie selfde webadres sal jy inligting vind oor funksies wat gehou word. Gaan luister na opwindende sprekers, ontmoet nuwe mense, word deel van ’n passievolle groep vroue.

Vir jou privaat tyd saam met God, kan jy ook avontuurlustig raak. Koop ’n oudio-Bybel waarna jy kan luister terwyl jy stap. As ’n mens iets hoor in plaas van lees, klink dit so anders dat jy waarhede asof vir die eerste keer hoor. Of lees iets heel anders soos Die Bybelroman (Carpe Diem Media), waarin Jaco Thom al die ou bekende woorde opwindend oorvertel. Selfs net ’n Engelse vertaling kan die Woord weer vir jou vars en nuut oopbreek.

Luister na jou eie hart en na mense wat jy vertrou vir ongewone maniere om gewone dinge te doen.

Haas jou langsaam, doen een ding op ’n slag

Jy doen amper heeldag meer as een ding op ’n slag. Bestuur en luister na die nuus. Antwoord eposse en gesels oor die foon. Smeer jou kind se toebroodjies en luister na haar leeshuiswerk. Selfs wanneer jy ontspan, doen jy nie net een ding op ’n slag nie. Jy kuier met familie en hou sommer jou sosiale media ook dop.

Geloof werk nie so nie! Dis die één verhouding in jou lewe waar jy net een ding op ’n slag moet doen. Klink so normaal, nè? Maar werk dit so tussen jou en ander mense? Fokus jou man, kind, vriendin of kollega wanneer hulle met jou gesels nét op jou? Gryp hulle nie tussendeur na ’n selfoon vir ’n SMS of oproep nie? Onderbreek hulle jou nie om iets vir iemand anders te sê nie?

Sulke tyd saam met mense laat jou beslis nie dink: “Dit was wonderlik! Ons moet dit weer doen!” nie. En tog is dit hoe ons maak in ons geloof ook. Stiltetyd is eintlik so-vinnig-as-moontlik-tyd. Jy lees jou dagstukkie saam met ander boodskappe op jou foon of rekenaar. Tydens ’n erediens maak jy lysies van wie almal in die week verjaar.

Jou multitasking benadeel jou verhouding met God. Dit maak seer om dit te erken. En dis moeilik om reg te maak. As jy gewoond is aan baie dinge wat gelyktydig gebeur, raak jy verveeld en selfs geïrriteerd met net een fokuspunt.

Jy is nie ’n mislukking of groot sondaar met jou gewoonte om soveel as moontlik gelyktydig te doen nie, maar dit kan die wortel van jou geloof-is-vervelig-probleem wees. Jy is dalk verveeld omdat jy vergeet het hoe om net op een ding te konsentreer. Dis moeilik om die hemel raak te sien terwyl die wêreld jou aandag aflei. Trek daarom grense. Jy hoef nie te kies tussen alles of niks nie. Kies eerder wanneer om iets opsy te skuif en net op een persoon of saak te fokus. Prakties kan dit byvoorbeeld beteken dat jy jou selfoon in jou handsak los terwyl jy met iemand gesels. Besluit vooraf hoeveel tyd jy vir gesels het. Dan hoef jy jou nie te bekommer dat iets vergete bly terwyl jy al jou aandag aan die persoon gee nie. Maar geselstyd is net dit: gesels, luister, verbintenisse maak met nog iemand wat God se kind is. Hoe meer jy by jou kop se grense hou, hoe blyer sal jou hart word. Jy sal in jou fokus meer vir God voel en raaksien. En dit is opwindend! Dit is elke dag anders! Haal asem. Leef ’n bietjie stadiger en eenvoudiger. Verwonder jou weer aan wat regtig saak maak.

Eendag sal jy terugkyk na die tyd toe jy eerlik genoeg was om te bely dat jy verveeld geraak het. Jy sal in plaas van skaam wees, bly wees dat jy dit erken het. Jy sal dankbaar wees vir wat jy geleer het: dat jy ’n aandeel het in hoe entoesiasties jy oor jou geloof bly. Hoe jy die opwinding wat van nature deel van jou geloofsverhoudings is, voortdurend kan raaksien.

God word nooit moeg om jou terug te roep na Hom nie. Hy bly altyd die Eerste Liefde van jou lewe. Hy stort onophoudelik opwindende seëninge oor jou uit.

Vertaal en verwerk uit Bored with God deur Ginger Kolbaba.