Verwag jy altyd die ergste?

0
12
angeline_jolie.jpg

Angelina Jolie het hierdie week bekend gemaak dat sy ‘n dubbele mastektomie ondergaan het as voorkomende maatreël. Sy het uitgevind dat daar  ‘n 87% kans is dat sy borskanker kan kry, en daarom het sy besluit om sommer voor die tyd as voorkomingsmaatreëls beide haar borste te laat verwyder. 

Ek praat seker baie maklik omdat ek ‘n man is, maar dit is nie die roete wat ek sou volg nie. Natuurlik is daar geen fout met ‘n mastektomie indien kanker wel opgespoor is nie. Maar om ‘n mastektomie te ondergaan sommer net om jou risiko vir kanker te verlaag, klink vir my bietjie verregaande.  Die lewe is vol risiko’s, maar ek kan nie al die risiko’s probeer voorkom nie. Daar is dalk ‘n 10% kans dat ek in ‘n motorongeluk kan omkom, maar ek klim steeds in die motor. Die kans dat ‘n huwelik kan misluk, is baie hoog, maar ek het nogtans getrou met die geloof dat ons huwelik sal slaag. Om lief te hê, is ‘n risiko. Tog verkies die meeste van ons om iemand lief te hê, al kan ons dalk in die proses seerkry. Om kinders te kry, is  ‘n risiko, want hulle kan dalk groot hartseer aan jou veroorsaak. Tog het ons besluit om kinders te kry in die vertroue dat ons kinders ons plesier sal gee.

Dalk is hierdie voorbeelde van my nie op dieselfde vlak as Jolie se situasie nie. Tog, ek voel dat ek nie wil leef met ‘n gesindheid van “sê nou net ek kry kanker….”, of “sê nou net my geliefde maak my seer….” nie. Die lewe is wel vol seerkry, maar ek leef eerder met my oog op die positiewe, en as die negatiewe my tref, sal ek dit aanspreek.  Ek is oortuig dat ek as gelowige met ‘n positiewe oog na die lewe moet kyk. In plaas daarvan om altyd die negatiewe te verwag, gaan ek eerder die positiewe verwag. Ek kan nie anders as om met ‘n positiewe oog na die lewe te kyk nie (vgl. Mt 6:22)