Verwag jy dalk te veel van jou kind?

0
370
kind.png

Daar is gedurig ’n kopstampery tussen jou en jou tiener. Jy weet dit is ’n sensitiewe fase, maar ai, jy word so kwaad. Onthou net, daar is ’n groot verskil tussen wat jy van jou kind wil hê en wat jy vir haar wil hê.

Jou kind se tienerfase raak die hele gesin. Daar is sekere verwagtings wat jy al van jou kind se babatyd vir haar het. Nou is sy besig om haar eie identiteit te voel-voel. Dit is mos ’n teelaarde vir wrywing: Sy trek in die teenoorgestelde rigting en jy weet sy het baie potensiaal. Wanneer is jou kind “goed genoeg” vir jou? En wat gaan jy doen? Beteken dit jy moet oorgee en jou kind aanvaar, terwyl jy wens dat sy eerder soos jou suster se modelkind was? Nee, vir seker nie. Dit beteken om haar met nuwe, liefdevolle oë as ’n unieke mens te sien. Sy bestaan nie bloot om jou tevrede te stel nie. Sy het ’n toekoms en passies van haar eie, en kan eenvoudig nie die produk wees wat jy in gedagte gehad het nie. Daar is egter ’n paar dinge waaraan jy kan werk om hierdie tyd vir julle al twee makliker te maak.

1 Ontleed jou verwagtings vir jou kind.

Moenie jouself te erg verkwalik as jy agterkom dat jy allerhande – soms ongegronde en onrealistiese – verwagtings vir jou kind stel nie. Die meeste ouers doen dit sonder dat hulle daarvan bewus is. Sommer van geboorte af kyk jy na daardie blou oë en kuiltjies, en besluit sy gaan ’n aktrise word. Ander kere kan ons negatiewe stellings oor ’n kind maak: “Ja, daardie humeur is soos sy oupa s’n.” So kom jy nie agter hoe jy jou kind beïnvloed met jou verwagtings en dinge wat jy aan haar toedig nie. Adriana se droom was om klavier te speel en sy het aanvaar dat haar dogter dit ook sou wou doen. Sonder om daaroor te dink en sonder om te besef dat Marné veel eerder op die tennisbaan wou wees. Gelukkig het sy agtergekom dat sy haar eie drome op haar dogter probeer afdwing voordat sy te veel skade berokken het. Dit kon Marné die res van haar lewe laat voel het dat sy nie goed genoeg is nie. En dit kan weer tot ’n swak selfbeeld en rebelsheid aanleiding gee.

2 Aanvaar die andersheid van jou kind.

Een van die basiese ontwikkelingstake van ’n tiener is om te begin om haar van haar gesin los te maak en haar eie identiteit te vorm. Baie ouers aanvaar dit moeilik, want dit voel vir hulle asof hulle nie meer beheer het nie. Maar beskou dit eerder as ’n teken van jou sukses as ouer! Jou kinders is besig om hulle eie voete te vind, en dit klink of dit boonop heel stewig is. Ja, natuurlik gaan jy soms bekommerd of selfs bang wees. Het jy die regte raad gegee, was jy ’n goeie voorbeeld? Dit voel dalk of jy heeltemal beheer oor jou kind verloor het, maar jy moet daardie beheer laat gaan, sodat sy op haar eie voete kan staan. As jou kind onafhanklik van jou begin raak, moenie dit beskou as die “dood” van jou drome vir haar nie. Ons projekteer baie maklik ons ambisies op ons arme kinders, wat hulle waarskynlik nie wil of kan uitleef nie. Dit is nou haar kans om haar drome na te jaag. Laat hulle in die kamers sit, en laat daardie braaivleisreuk hulle maar uitlok!

3 Verstaan jou kind se optrede en redes.

Kinders tree maar baie vreemd op in hulle tienerjare. Soms is “vreemd” nie ’n sterk genoeg woord nie. Mislik, dikbek, rebels – noem dit en enige ma sal haar kop knik. Maar daar is gewoonlik ’n duidelike boodskap in hierdie gedrag, ’n motief waarvoor jy sensitief moet wees. Dink aan wat die probleem is wat jou kind probeer oplos. Is die huidige oplossing tot haar voordeel en dié van die res van die gesin? Is daar dalk ’n beter oplossing? En dan, hoe gaan julle probeer om dit toe te pas?

4 Vergewe as hy nie aan die verwagtings voldoen nie

Elke mens het ’n interne meter wat heeltyd die vlakke van regverdigheid en geregtigheid in ons verhoudings meet. As jy meer gee as wat jy ontvang, voel jy skuldig. En as jy minder ontvang as wat jy gee, voel jy woede. Jou kind het ook hierdie gevoelens, en dit is hoekom julle gaan bots. Probeer om op ’n konstruktiewe wyse te reageer. Hier is vergifnis die wagwoord, daardie interpersoonlike salf wat so baie wonde heelmaak. Dit beteken nie dat jy net moet oorgee en verkeerde gedrag moet aanvaar nie. Dit is bloot om jou woede of teleurstelling te laat vaar en om die saak met empatie en liefde te hanteer. Marcelle moet rustig met haar seun oor sy gedrag praat, en hom nie uittrap nie. Hy hoef nie altyd die hanswors te wees of die ander mense te beïndruk nie, maar hy moet weet dat daar iets soos basiese goeie maniere is. Los dit dan, want elke keer as jy kwaad word, kry hy negatiewe reaksie. Gee eerder positiewe reaksie. En dit kan jy net doen as jy dit met die uitgangspunt van vergifnis doen.

5 Verander die manier waarop jy reageer

’n Gesin se dinamika verander sodra kinders puberteit betree. Jou kind gáán meer tyd op haar eie wil deurbring – sy is immers besig om uit te werk wie sy is. Jy gaan beslis aanpassings in julle gesinslewe moet maak. Daar is ’n verskuiwing van mag, jou kind begin nou haar eie wil uitoefen. Laat haar dit toe. Probeer ’n balans behou hierin. ’n Tiener moenie te veel of te min mag toegelaat word nie. Sorg dat jy jou kind goed genoeg ken om te weet waar haar grense is. Sy moet natuurlik toegelaat word om haar eie privaat tyd te hê, maar daar moet tye wees wat sy saam die gesin deurbring. Sy moet dalk aandete saam eet, en daarna vir ’n rukkie sit en gesels. Beperk tye op sosiale media en selfone tot negeuur saans. Betrek haar as julle kosmaak. Probeer haar wys dat jy haar privaatheid aanvaar en respekteer, maar dat sy dieselfde moet doen wat julle gesin betref. Laat sy saam aan die reëls en voorwaardes werk. Dan voel sy dat jy haar opinie ook in ag neem.

Moenie te kwaai wees met jouself nie. Die ironie is dat ons tieners ons die nodigste het as hulle op hulle moeilikste is. Wees geduldig, liefdevol en simpatiek, dan sal jy en jou tiener saam deur die mynveld van puberteit kom. En mekaar deur dit alles nie net as “goed genoeg” sien nie, maar as “wonderlik”!