Vetsug – is dit jou skuld?

0
238
vetsug.jpg

Soveel van ons se nuwejaarsvoorneme is om in 2014 gewig te verloor. Maar ons het gewonder of vetsug regtig jou skuld is? Wat as dit werklik jou hormone of gene is … Twee kenners het geantwoord.

NEE

Joseph_Proietto.jpgProf. Joseph Proietto (professor in geneeskunde aan die universiteit van Melbourne, Australië) meen jou lyf word geprogrammeer om vet te wil bly.

“Jy baklei nie net teen jou gene nie, maar ook teen jou hormone”

“Dit was nog altyd vir my baie vreemd,” sê prof. Proietto oor die feit dat vetsugtige mense so maklik weer gewig aansit nadat hulle dit met ’n spesiale dieet verloor het. Die rede is moontlik dat die liggaam met mag en mening probeer terugkeer na die gewig wat hy (of sy!) nou as die norm vir homself beskou, sy “benchmark weight”, volgens die Australiese navorsers. Daarom is dit vir voorheen vetsugtige mense wat baie gewig verloor het, verskriklik moeilik om die laer gewig te handhaaf.

Prof. Proietto glo aan die genetiese oorsprong van vetsug, met die idee dat sekere gene in reaksie op blootstelling aan omgewingsfaktore in die baarmoeder of vroeë babatyd aan- of afgeskakel word. “Die kos wat ons kinders eet, kan moontlik ook snellers vir vetsugtige gene wees,” verklaar hy. Verskillende gebeure, soos swangerskap, kan verskillende gene aktiveer. Baie vroue beweer byvoorbeeld dat hulle nooit met hulle gewig gesukkel het voor hulle kinders gehad het nie.

’n Vetsugtige persoon baklei nie net teen haar gene nie, maar ook teen haar hormone.
Daar is tien hormone wat ’n mens se aptyt beïnvloed. Een maak jou honger en ’n ander een maak jou versadig. In ’n studie deur prof. Proietto met vetsugtige persone op ’n laekaloriedieet is daar gevind dat die hormoon wat hulle honger maak, vermeerder het nadat hulle gewig verloor het, terwyl die hormoon wat honger moet onderdruk, verminder het. Hierdie mense was hongerder as voordat hulle gewig verloor het en het ook gesê dat hulle amper heeltyd aan kos gedink het. “Dit is nie ’n geval van keuse nie,” sê prof. Proietto. “Hierdie hormone is baie sterk dryfvere. Jy kan nie iemand wat honger is, oortuig om nie te eet nie.”

Prof. Proietto is derhalwe van mening dat farmaseutiese middels nodig is om hiermee te help, en beveel selfs chirurgie aan om die vetsugtige persoon se maag te verklein. “Ons het nie pille nodig om maer te word nie, maar om die gewig weg te hou. Ek dink dis beter om vinnig gewig te verloor as oor ’n lang tyd. Daarna is medikasie nodig om honger te onderdruk totdat die liggaam nie meer in ’n ‘beskermingsfase’ is nie. “Ons moet verder op primêre voorkoming fokus en keer dat ons kinders vetsugtig word.”

[pagebreak]

JA

christo_strydom.jpgChristo Strydom (stigter van Christo Strydom Nutrition Fat Elimination) meen vetsug en oorgewig is ’n leefstylprobleem.

“Enige mens op aarde kan maer word met die regte leefstyl”

“Die hoofrede hoekom mense vet word,” sê Christo, “is dat hulle te veel kos eet wat van verfynde grane en suiker gemaak is. Ek dink glad nie mediese toestande soos ’n onderaktiewe skildklier, diabetes of selfs limfedeem veroorsaak vetsug nie; ek weet wel dat vetsug ’n hele paar mediese toestande tot gevolg het.” Christo het ook ’n wêrelddeurbraak gemaak deur mense wat aan limfedeem ly – ’n toestand waarin limfblokkasie veroorsaak dat ’n oormaat vog in jou lyf opbou – met sy eetplan te help.

Die mense wat Christo al gehelp het om gewig te verloor, behou ook hulle nuwe gewig sonder moeite. “Maar,” waarsku hy, “jy moet gesonde eetgewoontes volg.” Hiermee bedoel hy glad nie uithonger nie. “Die groot faktore in oorgewig is verfynde koolhidrate, soos verfynde grane en suiker, asook verwerkte en gepreserveerde kosse met ’n lang rakleeftyd.

“Dit dra by tot ’n inflammatoriese reaksie in die liggaamselle. Verhoogde inflammasie het selskade tot gevolg en veroorsaak allerhande siektes asook veroudering. “Dit is vir enigeen moontlik om gewig te verloor, en ook om die gewig af te hou.” Die meeste van Christo se kliënte voel ook so. En moenie dink hulle sukkel met los velle nie! Deur bloot die inname van sekere voedingstowwe op sekere tye te verminder en te vermeerder, krimp jou velle knus aan jou nuwe, skraler lyf. Die enigste persone wat chirurgiese hulp nodig kry, is mense wat limfedeem het en diegene met uitermatige vetsugtigheid.

Ons lywe, verduidelik Christo, was nooit ontwerp om onnatuurlike produkte te kan verwerk nie. “Al die gemors het begin by die masjien! Die oomblik toe ons kos kon verwerk, het die probleme begin.”

Die eetplan wat Christo ontwikkel het, bestaan uit vrugte, groente en proteïene. Hy meen dat gewigsverlies nie noodwendig ’n langsame proses hoef te wees nie. “Wanneer jy skielik reg begin eet, is vinnige gewigsverlies te wagte; daarom sien ek nie ’n probleem daarmee nie. Behalwe as dit onnatuurlik gebeur, met byvoorbeeld eetlusdempers of chirurgie. Na jou aanvanklike gewigsverlies sal dit effens stadiger gaan, maar wanneer jy jou teikengewig bereik het, sal jy dit gerieflik kan handhaaf met die regte eetgewoontes. Natuurlik neem dit aanvanklik wilskrag, maar jy raak gou gewoond daaraan en daarna raak dit maklik.”

Sukkel jy om gewig te verloor? Gesels saam op on FORUM