Vicky se raad om migraines op hul plek te sit

0
232
vicky_davis.png

Die aktrise en Expresso-aanbieder, Vicky Davis, sukkel al sedert 13-jarige ouderdom met erge migraine-aanvalle.

Oor die jare het sy ’n paar dinge geleer om hierdie groot kopseer beter te hanteer:

1. Hou ’n migraine-dagboek

Hierin kan jy ‘boekhou’ van die oorsake, tye, en omstandighede van elke migraine-aanval. So kan jy dalk ’n patroon opmerk wat jou sal help om sekere leefstyl-aanpassings te maak. Bv. om minder koffie te drink, energiedrankies te vermy of ontspannigsoefening te doen om jou stresvlakke in toom te hou.

2. Kry kundige hulp

As jy gereeld migraines kry, is dit die moeite werd om ’n afspraak by ’n neuroloog te maak, pleks daarvan om telkens na jou huisdokter of apteker te gaan vir ’n inspuiting of medikasie. ’n Neuroloog kan deur toetse en skanderings vasstel of daar nie dalk ’n ander oorsaak is nie, en ook vir jou meer gespesialiseerde medikasie of selfs chroniese middels, voorskryf.

3. ’n Groot oorsaak is hormoonveranderinge

Vroue mag dalk ervaar dat hul meer vatbaar is op sekere tye van die maand, of gedurende swangerskap. Iets wat dikwels misgekyk word as oorsaak is voorbehoedmiddels, soos die Pil, wat estrogeenvlakke laat verander. Gesels met jou ginekoloog oor ander opsies.

4. Hou altyd jou medikasie byderhand

Hoe gouer jou migraine in sy spore gestuit word, hoe groter is die kans dat die medisyne sal werk. Moet nooit daarsonder reis nie!

5. Spierspasma is ʼn migraine-sneller

Dis die moeite werd om jou tandarts te besoek om te sien of jy op jou tande kners, want dit veroorsaak spanning rondom die gesig, kop en in jou nek. Jou tandarts kan vir jou ’n plaatjie voorskryf wat die spanning kan verlig.