Vier aartappels en ‘n pakkie rys

Die 4 aartappels en pakkie rys het op die tafel gestaan. Hy het die rys in die pot gegooi en toe die aartappels ingesit.

Die deksel kon nie toe nie. Hy het alles uitgehaal en weer probeer. Die keer het hy die aartappels eerste ingesit en toe die ryskorrels. Die ryskorrels kon tussen die aartappels deurval en daar was meer as genoeg plek in die pot. Die deksel kon maklik toe.

Ek onthou die preek nog soos gister. Ds Christo se boodskap. Die aartappels is die goed in die lewe wat regtig belangrik is. Tyd met die Here, jou gesin, jou gesondheid, familie, vriende. Die rys is al die klein goedjies wat ons lewe vol maak.  Wat sit ons eerste in die bak? Wat is ons prioriteite​?

Snaaks dat die boodskap laas nag in my drome kom nes maak. Eintlik weet ek hoekom. Dis nodig om weer my prioriteite na te gaan. As huisgodsdiens of Bybel lees agter in die ry begin staan is of ek of die kinders eenvoudig te besig. As jou gesin te veel kere tweede kom is dit nodig om iets te verander. As jy te moeg is om kerk toe te gaan moet jy dalk kyk wat jou moeg maak. As jy nooit meer tyd het vir vriende of familie nie is jy besig om iets te mis.

Ek laat sak my kop en lees Romeine 12: “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe, dan sal ons kan onderskei wat vir Hom goed en aanneemlik is.”

Daniël het nie verniet die leeukuil oorleef nie. Dit het begin by sy daaglikse gewoonte om sy krag by die Here te kry. Sy prioriteite was reg.

Ek bid vir wysheid en vir vernuwende denke. Dis immers nie maklik om vandag ‘n werkende mamma in ‘n kompeterende lewe te wees nie. Dikwels moet ons soveel balle in die lug hou.

Help my Here om die aartappels eerste in die pot te kry.

Miskien word ons selfs verras met hoeveel plek daar dan tog vir al die ryskorrels ook is.

Dalk moet my eerste aartappel wees om net meer by Sy voete stil te word….