Vind hoop in eenvoud hierdie lente!

Ons word soggens bederf met ‘n sonsopkoms vanuit ons bed! Knus toegevou in die sterk arms van my man voel ek veilig, gekoester en bemind.

Asof dit nie genoeg bederf is nie, sing die voёltjies ons wakker. ‘n Sonsordergang saans, hemel-mooi vanaf ons voorstoep. Só begin lente 2019 in ons nuwe tydelike woning vir die volgende nege maande voor ons verhuis na die Weskus.

Ek glimlag, terwyl ek hardop dink: ‘Die voёls van hoop is orals. Hoor hoe sing hulle!’ My hart sing saam en ek weet dat ek wéét: híérdie lente is nie net nóg ‘n lente nie. Bloeityd is verby. Vir altyd. Dis nou ons bloeiseltyd. Blomtyd.

My gedagtes vat my terug na een woord toe: EENVOUD. Moet asb nie dink eenvoud beteken eenvoudigheid nie. Nee. Eenvoud is ‘n terugkeer na die basiese. Die noodsaaklikste. Die égte. Die essensie van lééf.

Ek het geleer, eenvoud is ‘n manier om na die lewe te kyk, ‘n ingesteldheid wat alle aktiwiteite, motiewe en dryfvere bepaal.

Dit is slegs in eenvoud waar ‘n mens se soeke na vervulling uiteindelik stil word.

In ‘n kultuur van mense wat vasgevang is in ‘kry en neem’ het ek lankal reeds geleer en eerstehands self ontdek: Hoe heeltemal anders is die eenvoudige lewe tog nie!

Dit bevry mens inderdaad van die alewige gejaagdheid en besig wees. ‘n Gejaag na wind.

Tereg, soos Prediker na verwys. (Prediker 2:17. ‘ Ek het die lewe gehaat, want alles wat in hierdie wêreld gebeur het, het vir my sleg afgeloop. Alles kom tot niks, dit is ‘n gejaag na wind). Die ‘rat race’ lei na ‘n meedoёnlose pas. ‘n Pas wat uiteindelik tot ‘n mens se eie ondergang lei.

Eenvoud bring mens terug by die besef wat werklik belangrik is. Dit wat geen geld kan koop of bied nie. Die besef dat mense belangriker is as dinge. Die besef dat besittings ‘n middel tot ‘n gemakliker lewe is, maar dat die bymekaarmaak daarvan geensins die doel van die lewe is nie. Dat minder tog uiteindelik meer is.

Leer hierdie LENTE by die voёls. ( Matteus 6:25,28 en 29. ‘ Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voёls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle Hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?’)

Plaas God eerste en vertrou Hom om te sorg. Moenie ‘worry’ oor die ‘ekstras’ van die lewe nie! Knip jou oё ‘n paar keer en kyk vars en nuut na die lewe – jou eie lewe.

Vorige artikelSkuldgevoel
Volgende artikel[#RegteVroueRegteGeloof] Hou op verskonings maak
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is terselfdertyd onkonvensioneel, passievol, vreesloos, kreatief, teen die grond neergegooi maar nie vernietig nie, vol blydskap en humor, Woord deurdrenk en geesvervuld, ‘n onvergeetlike persoonlikheid. Tania Delport se skryftalent is ‘n passie en natuurlike gawe van God maar ook stil-stil geïnspireer deur die welbekende skrywer Hennie Aucamp wat 20 Maart 2014 oorlede is. Sy het in die Stormberg hoogland in die Oos-Kaap grootgeword op die buurplaas vanwaar hy grootgeword het. Haar oom aan haar pa se kant was getroud met die suster van Hennie Aucamp, dus was hy deel van haar familie binnekring. Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag het L-I-G in die dag geword want God is Liefde. Haar lewe het vlerke gekry. Dis tyd vir joune!