Vind só jou eie manier van ma-wees

0
96
die_flooze.jpg

Daar is soveel wat niemand vir jou vertel voor jy mamma word nie. Wat mis en geniet Sorina die meeste?

Sorina se kosbaarste bykomstigheid is nie meer haar Flooze-leerbaadjie nie. Deesdae spog sy met ’n splinternuwe babaseuntjie. Braam is amper agt maande oud en hou sy ma behoorlik op haar tone.

Wat nie in die bababoeke geskryf staan nie…

…is hoe ongelooflik besig jy gaan wees met ’n nuwe baba. Ek is tans voltyds ma. Tussen voedings en doeke omruil kry ek min ander dinge gedoen. Ons huishulp, Miriam, help met die sleurwerk in die huis en Manlief kook gelukkig graag. Ons glo aan spanwerk. My ouers en skoonouers woon ook naby; hulle help om babatjie op te pas.

Toe ek Braam die eerste keer vashou…

…het ek besef ouerskap is ’n enorme verantwoordelikheid. Ek vat dit dag vir dag en probeer om aan te pas soos sy behoeftes verander. Die eerste paar weke was sy voedings gereeld, maar nou kan ek soms vir iemand anders vra om hom sy bottel te gee terwyl ek gou ’n paar oproepe maak.

Ek mis my gereelde Sondagmiddagslapie baie maar…

…ek voel nie skuldig nie. Elke dag leer ek iets nuuts oor hoe om ’n goeie ma te wees. Dit is belangrik om aan pas. Sy roetine is nie vas nie en verander soos hy groter word. Soms moet hy by ons skedule inval, dan is ek dankbaar vir weggooidoeke (al weet ek lapdoeke is meer omgewingsvriendelik).

’n Klaar gepakte babasak staan altyd reg…

…sodat ek net kan grab and go. As ek georganiseerd is en my dae goed beplan, haal dit meeste van die stres uit die dag. My man is my bestuurder en ons werk dus as ’n span. Met vertonings wat naby die huis is, sal my ma oppasser speel.

Dis vir my belangrik om Braam te betrek…

…by baba Braam se roetine. Hy bad hom en dis hulle tyd vir bonding. Dan is ek op die agtergrond besig om die room uit te haal en alles reg te kry vir aantrek. Braam sing vir hom en hy kraai van die lekkerte as sy pappa met hom gesels. Na badtyd bid ons vir hom.

Ons het besluit om ’n noodhulpkursus te volg…

…wat ons hoop ons nie nodig sal kry nie. Die kursus behels noodhulp vir babas, kinders en volwassenes. Dit sluit in mond-tot-mond (kardiopulmonêre resussitasie), wat om te doen as jou kind verstik of in ’n swembad val en besig is om te verdrink, as hy wonde of brandwonde opdoen, en veiligheid en die voorkoming van ongelukke in die huis en so meer.

Ek het gedink ek gaan my lyf gou terugkry…

…maar ek breek nie my kop oor die ekstra paar kilo’s om my middel nie. Ek eet gesond en begin weer stelselmatig gewig verloor. My gesondheid is belangriker as die grootte van my klere. Met ’n nuwe baba in die huis en die eise van werk is eenvoud in alles die sleutel, ook in maaltydbeplanning.

Elke gesin het hulle eie unieke tradisies en gewoontes…

…dus het ons besluit om ook ons eie maniere te vind om Braam se geboorte te vier. Ons het ’n musiekvideo gemaak waarin hy die hoofkarakter speel in ’n liedjie wat ek vir hom geskryf het. Ons het ook met die Poskantoor onderhandel om sy gesig op posseëls te druk en hom sodoende aan die land bekend te stel.