Vir die wat lees lyk die lewe anders

Daar is soveel ongelooflike skryftalent op hierdie aarde. ‘n Skrywer se pen is altyd gevul met digkuns, verhale, en alles wat dalk nie so maklik is om hardop te sê nie.

Woorde spoel oor ‘n hart soos water oor rivierklippies. Maar ek dink woorde word te min gelees en nog minder word dit verstaan. Daar skuil dikwels verwarring in stories. Dit is asof elke skrywer wat sy sout werd is, die leser kan konfronteer op een of ander manier.

Ek dink ons almal wil kan vereenselwig met iets of iemand. Dit is lekker om ‘n boek te lees en amper tuis te voel by die karakters. Boeke skep, volgens my, die beste en mooiste tuiste in my hart. As ek ‘n lang, uitputtende dag gehad het, is dit ‘n stukkie hemel om te sit en lees. Ek kan ongelukkig nie lê en lees nie want vir een of ander onverklaarbare rede, raak my oë stadig swaarder en swaarder. As ek dan weer die boek optel moet ek terugblaai om te sien wat my moë oë nie raakgelees het nie.

Jy sien, jy moet ‘n boek kan indrink. Jy moet toelaat dat geskrewe woorde jou wêreld invultreer en neem na ‘n nuwe wêreld. As ek nodig het om vir ‘n rukkie van alles te vergeet, dan tel ek ‘n boek op en betree elke karakter se wêreld.

Die lekker van lees is ook dat dit jou keurige taalgebruik leer. Jy kan met jou woordeskat ander beindruk indien jy wil. Jy kan ook lees om sommer net beter te voel oor jouself. Jy kan kreatief jou eie prentjies vorm van karakters.

Daar is ‘n beeldskone wêreld van woorde wat elke skrywer skets met die hoop dat lesers daardie wêreld sal ontdek. Vir my is gesrewe woorde die mooiste geskenk. Maak ‘n boek oop en ontdek ‘n nuwe wêreld.