Vir jare geboelie oor haar rooi hare

0
282
rooi_hare.jpg

Helene Barnard is geseënd met pragtige natuurlike rooi hare tog was sy as kind eindeloos daaroor gespot.

Liewe Boelie

Jy het verskillende gesigte gehad, in verskillende skole en dorpe, maar vir my was jy een en dieselfde: die een wat my laat glo het dat ek vaal, onsigbaar en afstootlik is. Ek wens jy kon my vandag sien. Dalk het jy al?

rooikop.jpgEk het nie ’n sonbruin lyf nie. Ek het wel al skelpienk verbrand, net om binne ’n paar dae weer spierwit te wees. Dis die lot van rooikoppe. Dít en die ewige geterg. Ek was ’n skaam dogtertjie en het nie besef hoe baie my vlamkop uitstaan tussen die ander nie. Omdat ek anders as my maatjies gelyk het, was ek baie selfbewus en onseker en is dikwels verneder. Na al die jare onthou ek nog elke liewe naam wat jy my toegesnou het. Ginger, vlam, kerrie… en dan ’n paar wat nie geskik is vir publikasie nie. Sonder om te dink, het jy dit op my vasgeplak. En moenie dink die “grappies” was minder erg nie. Soms het dit die seerste gebyt. My saamlag was net ’n manier om te cope, nie ’n teken dat ek enigsins gedink het dis snaaks nie.

Uit die aard van my pa se werk het ons dikwels verhuis. Op veertien was ek weer in ’n nuwe skool. Totaal hulpeloos en verkleineer deur die nuwe vloedgolf spottery, het ek vrede daarmee gemaak dat ek nooit, ooit mooi sal wees nie. Ek was onseker en misplaas in ’n nuwe omgewing en sonder maatjies. Maar toe kry ek ’n manier om myself te beskerm.

In elke klas is daar mos ’n mooi, populêre meisie – en ek het haar my vriendin gemaak. Kinderlik onskuldig het ek gedink jy sal nie lelik met my wees as ek die coolste meisie se vriendin is nie. Dit het my gedwing om ’n mate van selfvertroue te ontwikkel. As die vaal enetjie moes ek moed bymekaarskraap om met iemand wat ek geglo het beter as ek is, te gesels. Sonder om dit te besef, het ek die vermoë ontwikkel om baie gou vriendinne te maak. Mettertyd het ek ook geleer dat ek wel iets het om te bied waarin ander belangstel – ekself! Jy hét toe anders teenoor my begin optree, want ek het die “regte” vriendinne gehad. Bygesê, wat dalk oppervlakkig begin het, het in die kosbaarste vriendskappe ontwikkel. Vandag help die aanpassingvermoë wat ek op skool aangeleer het, my baie in my loopbaan. Ek gee opleiding in die korporatiewe wêreld – en kan gerieflik by die verskillende kliënte se behoeftes aanpas.

Ná skool het ek my hare laat groei en grimering begin dra. Skielik was ek nie meer so onsigbaar nie – en die komplimente met my hare het begin instroom. Ongelukkig was ek aanvanklik baie skepties daaroor. Sê nou maar net dis ’n nuwe vorm van boelie? Dat mense sê my hare is pragtig, maar dat die bedoeling eintlik die snydende teenoorgestelde was? Later het ek besef die mense bedoel dit opreg. My groot kopskuif het egter in my vroeë twintigs gebeur.

Ek het vir ’n rukkie by my suster in Parys gaan woon. Daar het ’n talentsoeker vir Jean Paul Gaultier my genader en gevra of ek nie vir hulle wil modelleer nie. Hulle was spesifiek op soek na rooikoppe. Tot vandag toe is ek spyt dat ek nooit gegaan het nie; ek het myself nie as modelmateriaal beskou nie. Tog het daardie ervaring my meer tuis in my eie vel laat voel. Vir die eerste keer het ek besef dat rooi hare op sommige plekke in aanvraag was, en nie ’n gebrek was soos ek as tiener geglo het nie. Ek is vandag trots daarop om te kan sê dat ek nog nooit met my natuurlike haarkleur gepeuter het nie, hoewel ek deesdae al hoe blonder begin raak!

Van kleins af het my ma my velletjie teen die son beskerm en my vertel van my crowning glory. Min het ek geweet hoe reg sy was. Elke keer as ek ’n kompliment oor my hare kry, word dit bewonderend opgevolg met: “Is dit jou natuurlike kleur?” Daar word gesê dat die liewe Vader jou gemaak het om uit te staan, nie om in te pas nie. En hoe waar is dit nie.

Ek volg ’n groep vir rooikoppe op Facebook en besef dat ek nie die enigste een is wat oor my haarkleur gespot is nie. Vir rooikoptieners wat dieselfde ervaar, wil ek net sê: Wat jou nie breek nie, maak jou sterker. Ek is beslis vandag sterker.

So, liewe Boelie, dankie vir die aandeel wat jy aan my sukses het. Jou gespot was deel van die ervarings wat ek nodig gehad het om my vir die lewe voor te berei. Op ’n jong ouderdom moes ek leer om waartoe ek in staat is – sonder om op enige eksterne hulpmiddels staat te maak. Dit gaan goed met my loopbaan. Dit gaan goed met my. En ek wens jou dieselfde toe!

Liefde
Helene