Vir ons en ander se dom keuses

Het jy dalk afgedwaal? Het jy iets gedoen wat jou uit die trop gedruk het?

Het jy ’n paar dom besluite geneem en nou voel jy so skaam dat jy maar eerder verder wegdryf van God af? Voel jy so skaam dat jy niemand in die oë kan kyk nie, veral nie vir God nie?

Wel, hier is nuus vir jou: God het alles net so gelos, al die engele opdrag gegee om na jou te kom soek!

God is nie kwaad vir jou nie. Al oortuig jy jouself dat jy nie veel werd is nie, al dink jy jou oortreding is té groot, God is nog steeds aan die soek na jou. God en Jesus en die engele kan nie anders nie. Jy is hulle corebesigheid.

Maar dit is eintlik is dit ons corebesigheid ook. Ons moet saam met die engele soek na die kleintjies, na die mense wat deur die samelewing en selfs deur ons op die kantlyn van die lewe gestoot is. Ons tel so maklik klippe op en gooi die ouens.

Hulle het verkeerde keuses gemaak en ander kan dalk nou saam met hulle ondergaan. Dis seker menslik, maar God werk nie so nie en wil nie hê ons moet so werk nie. God soek nie ’n klip vir die skaap wat gekies het om van die ander af te dwaal nie. Nee, Hy soek die afgedwaalde skaap.

Hier is ons opdrag: Soek saam met die engele na die mense wat op die kantlyne van die lewe sit en staan. Vergewe hulle eerste vir dit wat hulle gedoen het, selfs aan jou gedoen het, en bring hulle terug, want hulle elkeen is verskriklik kosbaar vir God en Hy sal so bly wees dat hulle weer terug is in sy arms.

 

 

DEEL
Vorige artikelWanneer jou masker tyd koop…
Volgende artikelDie ysterpot
Blogger - Gerjo Ben van der Merwe
Gerjo Ben van der Merwe vertel dat hy ‘n jaar of wat langer op Stellenbosch was, omdat swot nie sy beste vak was nie. ‘n Roeping vir Teologie - dié het hy gehad, maar geen roeping vir predikant-word nie. Hy was daarom eers 'n boer en besigheidsman, maar nou is hy 'n teerstraatpredikant waar hy God se Woord in vandag se woorde bring. Hy en sy vrou, Renata, staan aan die stuur van www.kruispad.com. Sketse by blogs: frans@vespagetti.co.za