Vir verandering, wat kan jy doen?

871

Jy is lus vir ’n nuwe begin. Die res van jou lewe kan egter slegs anders lyk as jy jou gewoontes en optrede verander.

Dink aan die prys wat jy elke dag betaal om die bestaande situasie te handhaaf. Dit sal ’n bietjie selfondersoek verg en jy sal dalk ’n paar vriendinne moet vra om jou te help.

Jy sal moontlik agterkom jou beloning op verandering is groter as die prys wat jy betaal deur nie tot aksie oor te gaan nie. Sodra jy dit besef, sal jy jou nuwe lewe met meer toewyding aanpak.

Dis soms makliker om die slagoffer te speel

Dit is nie vreemd dat die meeste van ons diep binne-in voel ons verdien nie regtig wat ons graag wil hê nie. Jy mag moontlik voel dat jy nie die vermoë het of slim genoeg is om die verandering aan te pak nie.

Dis belangrik om valse persepsies af te skud. ’n Mens moet jou selfbeeld bou rondom die nuwe persoon wat jy beoog om te wees.

Is jy een van daardie mense wat elke dag loop en kla oor jou omstandighede en boonop ander die skuld gee? Of aanvaar jy maar jou situasie en weier om die verandering te maak?

Dalk gee jy die mag weg wat jy in jouself het om die verandering aan te pak. Begin eerder om jou eie grootste ondersteuner te word en gryp met mening jou mag om te verander terug!

Jy tob aanhoudend oor gedane sake

Dis goed om die verandering te beplan deur vooraf die regte “voorrade” op te bou. As geld, tyd, emosionele ondersteuning of vaardighede ’n probleem is, moet jy veral in dié areas hulp en ondersteuning kry.

Dit is beter om te oorbeplan as om ’n doelwit net-net te mis omdat jy nie goed voorbereid was nie. Tog, om alles tot in die fynste besonderhede te analiseer, kan jou moed breek om die sprong te waag.

Wat sal gebeur as jy daardie idee wat al jare lank oor en oor in jou kop rondspeel, net ’n bietjie aanpas, verander of onderstebo gooi?

Jy sal waarskynlik die moed kry om uiteindelik tot aksie oor te gaan. Onthou, die antwoorde sal in elk geval eers kom as jy daadwerklik iets begin doen.

’n Visie help jou met die toekoms

Is ons nie maar almal bang om te misluk nie? Dink aan die ergste ding wat kan gebeur. Sal jy daarmee kan saamleef? Of sal jy ’n paar aanpassings kan maak voordat dit gebeur?

Om ’n verhouding te beëindig of om uit haar werk te bedank, laat enige vrou in haar skoene bewe. Dis die gebrek aan ’n visie wat daardie leemte skep. Dit laat jou glo dat indien jy die verandering maak, jy niks sal oorhê nie.

’n Visie is die toekomsbeeld van waar jy wil wees. Dit sal jou die nodige inspirasie verskaf om die eerste tree te gee. Dit sal daardie vrees vir die onbekende ’n nekslag toedien.

Weet dit: Wanneer daar “plek” in jou lewe oopgaan, is daar altyd nuwe idees, mense, verhoudings en geleenthede wat dit vul.

Kyk binnetoe en ontmoet die soldaat in jou. Dit is die deel wat jou gees laat oorleef en dit beskerm. Jou gut feeling. Daardie gevoel van jy weet iets sal beter wees vir jou, al is daar nog geen bewyse daarvoor nie.

Begin om daardie soldaat te vertrou, neem die eerste stap en evalueer jou optrede eers later.