Voel jy uitgebrand? Dalk gee jy te veel

0
75
uitgebrand.jpg

Gelowiges gee van hulle tyd, geld en talente. Sonder balans kan selfs die sterkste vrou egter uitbrand.

Op pad na die saaltjie waar die kleuters kerk hou, sien Saretha haar man is dikmond. Hy en die kinders is moeg vir alleen sit in die erediens. Sy is eintlik ook moeg – nee, siek en sat – vir kleuterkerk gee. Die kleuters se tantrums en die vasgebind wees oor naweke maak haar mal!

Maar wie gaan hierdie belangrike werk by haar oorneem? Hoe sal sy kan bid vir seën as sy nie haar naasteliefde wys nie? Sy voel klaar skuldig omdat sy nooit help met fondsinsamelings vir die kinderhuis nie.

Om te veel omgee in jou program in te bou, suig jou leeg; dan het jy te min oor om vir jou gesin te gee. Jy voel gedurig skuldig dat jou liefde net nie genoeg is nie.

In plaas van kla, vra ’n paar vrae

Wanneer jy so broei oor hoe leeggetap jy voel, maal die vrae deur jou kop. Hoekom voel dit soos straf om van myself te gee? Wanneer gaan iemand iets vir my doen? Waar is die balans? Hoe moet ek dit prakties regkry?

Talle boeke, tydskrifartikels en selfhelpghoeroes verklaar: “Trek jou grense. Kry jou prioriteite in orde! Sê net nee!” Dit klink alles reg en wonderlik, maar wanneer moet jy dan ja sê?

“Altyd en oral en in alle omstandighede,” sê jou gelowige gewete dalk. Dink maar aan die arm weduwee in die gelykenis waarvan Markus 12 vertel. Sy het haar laaste bietjie geld in die offergawekis in die tempel gegooi, selfs al was dit nie juis ’n slim finansiële besluit nie. Sy kon op geen manier in die gemeenskap geld verdien nie. Sy het geen pensioen of polis gehad wat sou uitbetaal nie.

Tog het sy alles wat sy het, weggegee. Dit maak nie sin nie! Moes sy nie ook eers oor ’n paar vrae nagedink het nie? Vrae soos: Kan ek dit bekostig? Is dit die regte tyd? Moet ek wag tot ek meer geld het en dan ’n donasie maak? Maar sy het nie gewonder nie. Sy het net gegee.

Voel hierdie gelykenis ook vir jou soos ’n aanklag? Dit lyk omtrent soos ’n advertensie vir die groot waarde wat uitbranding vir jou kan hê... Dis egter nie die bedoeling nie. Hierdie gelykenis wil jou gerusstel dat die grootte van ’n bydrae nie die waarde daarvan bepaal nie.

En dit onderstreep hoe baie vroue worstel om te weet wanneer om die streep te trek. Hoe kan jy in jou geloofsverhoudings vrygewig wees sonder om bankrot te word? Dis ’n vraag waaroor jy baie sal moet bid, nadink en gesels. Dit gaan ’n tydjie neem om jou arm-weduwee-benadering te vervang met die alternatief van nie-uitbrand-nie. ’n Paar spesifieke – en ietwat ongewone – vrae kan jou hiermee help.

In watter fase van jou lewe is jy nou?

Lewensfases is bedoel om ten volle geniet te word. Jy kan byvoorbeeld nie sakke vol geld vir sending skenk terwyl jou kinders klein is nie, maar jy kan met ander ma’s saamkuier en leer wat hulle behoeftes is. Jou simpatieke oor beteken ook op geestelike vlak baie vir iemand wat moeg en moedeloos is.

Kinders se aktiwiteite verplig ma’s om vergaderings, wedstryde en uitstappies by te woon. Dis geleenthede om verhoudings te bou en te leer beplan en organiseer. Hierdie waardevolle kennis kan jy in ’n gemeente, skool of organisasie terugploeg namate jou kinders ouer word.

’n Ma wie se kinders die huis verlaat het, het dalk ’n dikker beursie vir finansiële bydraes. Sy het mos geen tieners meer wat ’n fortuin aan kos opeet nie! Daarmee saam het sy wysheid en ervaring wat sy kan benut as mentor vir jonger vroue. Sy kan ’n kragtige voorbidder wees of iemand wat mense moed inpraat om vas te byt in die diens wat hulle lewer.

Die lekkerte van ’n lewensfase is dat dit ’n begin en ’n einde het. Wat vir jou aanloklik lyk in ’n volgende fase, sál jou te beurt val. Wat vir jou sleg is in ’n fase, sál verbygaan. Dit beteken jy kan eerder jou energie bestee aan die vraag: Wat kan ek nou doen waar ek nou is en met wat nou vir my moontlik is? En as dit vir jou voel of jy op ’n bepaalde tyd niks kan gee of niks kan bekostig nie? Ontspan. Luister. Die antwoord sal kom. Wag net eers.

Wat maak jou gelukkig, opgewonde of tevrede?

Die meeste vroue sê amper outomaties ja vir almal wat hulle hulp vra. Dit voel so goed en reg! Maar dit is nie regtig nie. Dis belangrik dat jy ja sal sê op grond van jou werklike vermoëns en aanleg. Voordat jy instem tot iets, moet jy seker wees dis vir jou bedoel. Jy moet seker weet dat jy die een is wat ’n verskil kan maak.

As jy nie jou besluite noukeurig hiervolgens neem nie, kan jy ’n struikelblok wees vir ander gelowiges. Jy kan letterlik in iemand se pad staan wat beter toegerus is vir ’n taak. Erger nog: Jy blokkeer die werk van die Gees, wat jou elders wil aanwend.

As jy probeer om alles te doen, demp jy boonop die eiesoortige passie wat in jou ingebore is. Jy is bedraad en toegerus om jouself op ’n unieke manier te gee. Sodra jy jou grense oorskry, spoel moegheid, spanning en vrees vir mislukking oor jou. Dan bring die geleenthede wat hulle voordoen, nie opwinding, geluk en innerlike harmonie nie, maar uitbranding.

Wie of wat motiveer jou om naasteliefde te gee?

Gee jy uit skuldgevoel? Dalk omdat jy so opgevoed is? Weens sosiale druk of ’n behoefte aan aanvaarding en erkenning? Of dink jy dalk God vereis dit van jou?

As jy ja sê om iemand gelukkig te maak of hulle werk makliker te maak, is dit dalk ’n fout. Jou ego kan ’n baie oortuigende maar misleidende stem in jou binneste wees. Dis regtig moeilik om dit te onderskei van die ware Stem wat jou roep vir ’n taak.

Wanneer jy weer keelvol, moeg en moedeloos voel, gaan terug na die heel begin. Ondersoek jou motiewe toe jy ja gesê het vir dit wat jou nou so leeg tap. Probeer te wete kom wat die diepste rede is hoekom jy dit doen. Wees net versigtig om nie jouself te straf of beskuldigings na jouself te slinger nie. Selfverwyt is nie die doel van hierdie oefening nie.

Jy doen hierdie selfondersoek om jou negatiewe gevoelens af te gooi. Jy doen dit om jou innerlike vrede terug te kry. Om weer te besef jy is net ’n mens, iemand wat hemelse hulp nodig het om naasteliefde uit te deel.

Dink eers voor jy iets aanpak. Maak seker jy weet in watter seisoen van jou lewe jy nou is. Bid vir onderskeidingsvermoë om te weet wat is billike versoeke waarby jy kan inval. Probeer te wete kom wat jy op jou unieke manier kan doen. Gee mag vir jou gemaklik wees en dit moet jou gelukkig maak. Vertrou jouself dat jy wel genoeg gee, want jy word hierin gelei.

Waar jy ja sê, gee met vrymoedigheid en soveel soos jy wil. Jou tyd, geld en energie is veilig onder Sy beskermende hand.

Vertaal en verwerk uit feeling burned out? deur Sherry Surratt.