[PODSENDING] Fokus op dit wat regtig belangrik is

42

Ons ken almal daardie gevoel as die wekker in die oggend afgaan. Jy weet dit is tyd om op te staan, want jy het so baie dinge om vandag te doen. Dit klink egter veel lekkerder om net die snooze-knoppie te druk en die kombers oor jou kop te trek. Jy wil net nog so ’n bietjie bly lê.

Word ’n meer produktiewe en positiewe jy

Soveel mense sukkel hiermee. Jy voel dalk selfs dit is net te veel moeite om elke oggend op te staan. Dan moet jy begin losbreek uit die bose kringloop sodat jy ’n meer produktiewe en positiewe jy kan word.

Begin deur vir jou ’n lekker oggendroetine uit te werk wat strategies is en by jou leefstyl pas. Onthou, ’n mens maak altyd tyd vir iets wat vir jou belangrik is. So, raak ontslae van “ek het net nie genoeg tyd nie”. Staan vroeër op as dit moet.

Hou dadelik op met enige vorm van negatiewe selfpraatjies in jou gedagtes. Kry eerder elke oggend ’n motiverende, inspirerende videouittreksel om jou dag mee te begin.

Doen strekoefeninge op die maat van lekker opgewekte musiek, waarna jy ook sommer kan luister. Maak vir jou ’n lekker smoothie met vrugte wat goed en gesond vir jou liggaam en propvol energie is.

Skryf dan ten minste tien dinge neer waarvoor jy dankbaar is. Maak seker dat jy elke dag een nuwe ding bysit. Lees dit dan hardop vir jouself. Praat altyd met jouself soos wat jy met jou beste vriendin sou praat.

Fokus op ’n visie vir jou lewe

Skryf vir jouself kort en kragtige ek is-stellings neer. Skryf byvoorbeeld, ek is vriendelik, ek is produktief, ek is fiks, ek is gesond. Jou woorde het baie krag. Maak daarom altyd seker jy spreek lewe oor jouself en jou omstandighede.

Hou dit lekker kort sodat jy dit kan onthou. Elke keer as negatiewe selfpraatjies dan weer in jou gedagtes opduik, vervang jy dit dadelik met jou ek is-stellings. Hoe meer jy dit doen, hoe beter sal jy word.

Praktiese oefening kan jou help om ’n visie en fokus te kry op dit wat nou belangrik is. Vir ontspanning en vir die pret, kan jy dit ook saam met jou hele gesin doen.

Maak ’n visie-bord. Kry ’n paar tydskrifte en knip prente en woorde uit wat tot jou hart spreek. Plak dit dan op ’n plakkaat. Jy kan dit selfs raam as jy wil. Hang dit iewers op waar jy elke dag teen dit kan vaskyk.

Sê nee vir die klein jakkalsies wat tyd steel

Laat jouself toe om te sien waarheen jy op pad is met jou passie en jou drome waarnatoe jy werk. Dit sal jou help om te fokus op wat nóú belangrik is. Jy sal dan makliker kan “nee” sê vir die dinge – die klein jakkalsies – wat onnodige tyd steel.

Jy kan jou bord elke jaar weer aanpas met nuwe drome soos jy vorder en groei. Maak ook genoeg tyd vir persoonlike ontwikkeling.

Lees boeke, luister na oudio-boeke of kry ’n mentor. Doen selfondersoek en gee aandag aan die dinge wat die belangrikste is. Om te bepaal wat hierdie dinge is, gee vir jouself punte uit 10, met 10 as die hoogste. Begin by jou gesondheid en welstand.

Daarna gee jy punte vir jou verhoudings met onderskeidelik jou familie en jou vriende, en vir jou romantiese verhouding. En laastens gee jy punte vir jou finansies en geestelike welstand. Deur hierdie puntetoekenning sal jy sien wat in jou lewe eerste aandag vereis.

Onthou, kennis + waarheid + aksie = transformasie.

– HENRIËTTE VON BELOW, entrepreneur en motiveringspreker