[PODSENDING] Roetines vir ’n mooi vel

103

’n Konsekwente velsorgroetine, gesonde eetgewoontes, gereelde gesigbehandelings en om lief te wees vir jou vel kan verseker dat jy natuurlik mooi lyk, glo ESNA COLYN, uitvoerende hoofbeampte van Imbalie Beauty.

As jong meisie het ek baie met my vel gesukkel. Ek het van die een duur velsorgprodukreeks na die ander geswerf. Ek het gehoop om ’n oplossing vir my probleemvel te kry. Ek het oor die jare ’n paar geheime van ’n gesonde vel ontdek wat my regtigwaar gehelp het.

Ek het in ’n stadium van my lewe vir ’n jaar in Parys, Frankryk gewoon. Die Franse vroue is beslis die natuurlikste en mooiste in die wêreld. Hulle is glad nie skaam vir hulle plooie nie.

’n Mooi vel hou van daaglikse roetine. Jy moet konsekwent met jou vel te werk gaan.

“Onthou altyd dat ware skoonheid van binne af kom, dit maak nie saak watter metodes jy gebruik om jou liggaam aan die buitekant mooi te maak nie. As jou hart vol afguns, haat, jaloesie en lelike, ongelukkige gedagtes is, sal dit jou aura so vlek dat almal dit kan sien. Wat jy gister gedink het, sal jy vandag uitleef. Wat jy vandag dink, sal jy môre uitleef.

As jy ’n lewe gevul met gesondheid, skoonheid, vreugde en geluk wil lewe, dink dan slegs aan dit wat mooi is en jy sal mooi wees.” – Anoniem

Drink baie water vroeg in die oggend. Ek drink elke oggend eerste ding ongeveer 500 ml water, om my gestel skoon te spoel.

Volg getrou, elke oggend en aand, ’n basiese velsorgroetine. Was sagkens met ’n goeie gesigreiniger. My gunsteling is een met ’n melkbasis. Een van die grootste geheime is om altyd ’n verfrisser te gebruik nadat jy jou gesig gewas het. Dit herstel die pH-balans van jou vel.

Daarna wend jy ’n goeie serum aan, gevolg met ’n dag- of nagroom. Nog ’n groot geheim is om elke dag, winter en somer, ’n sonroom te gebruik.

Die laaste geheim is om ook in die nag ’n gesigolie op jou vel te gebruik.

Drink of eet voedsel met die kleure van die reënboog vir ’n mooi en gesonde vel.

Hou jou emosies in toom. Ongebalanseerde hormone wys vinnig op ons vel. Hiervoor gebruik ek daagliks ’n 100% natuurlike hormonale room wat my help om elke dag gelukkig te voel.

Kry ten minste maandeliks ’n gesigbehandeling. ’n Bekwame terapeut sal jou laat ontspan en verseker dat jou vel ’n nuwe glans kry.

Moenie jou gesig met seep was wat die pH-balans versteur nie. Sjampoe of haaropknappers bevat chemikalieë wat jy nie naby jou vel moet laat kom nie. Moet dit nie eens gebruik om jou grimeerkwaste mee te was nie!

Vermy harde en gedurige afskilferings van jou vel. Jy hoef jou vel net een keer per week af te skilfer.

Pasop vir kafeïen in koffie, dit droog jou vel uit. Suiker verouder ongelukkig ook jou vel.

Die heel grootste geheim van ’n mooi vel is om lief te wees vir jou vel. Deur net hierdie besluit vandag te neem, kan jy jou vel sommer baie mooier maak.

Vorige artikelLynette Beer: “Ek glo in tweede kanse”
Volgende artikel[PODSENDING] Stappe vir ’n gesonde leefstyl