[PODSENDING] Verander jou liggaam, siel en gees

121

Het jy al gewonder wat een van die belangrikste kwaliteite is wat jy moet hê om jou volle potensiaal te bereik? Die antwoord lê in die ontdekking van die waarde en krag wat daar in jou gedagtes en woorde is.

Vind meer positiewe gedagtes in jou dankbaarheid

Jou gedagtes bepaal jou dade, jou gesindheid en jou selfbeeld. Dit bepaal ook jou toekoms. Jy kan kies wat jy dink en hoe jy dink. Die dag as jy dit besef, sal jou lewe drasties verander.

Die geheim van ’n gelukkige lewe bestaan uit verskillende fasette. As jy begin om dit daagliks toe te pas, kan dit verandering in jou gemoed en leefwyse bring. Dit kan tot geluk lei.

Kyk byvoorbeeld in die spieël en sê vir jouself: “Ek is goed genoeg. Alles wat ek nodig het om geluk te ervaar, is binne myself.” Vervang negatiewe gedagtes met positiewe gedagtes. Dit gaan dalk oefening en konsentrasie verg, maar jy kán jou brein herprogrammeer.

Een van die grootste geheime vir positiewe gedagtes is dankbaarheid. Dink elke oggend aan tien dinge waarvoor jy dankbaar is. Wanneer jy leer om daagliks in dankbaarheid te leef, gee jy jou eerste tree na ’n dieper verhouding met die Here.

Mediteer, visualiseer, genees en verbeter jou fokus

Iets wat jy by jou daaglikse roetine kan voeg, is meditasie en visualisering. Dit kan ’n groot verskil in jou algehele welstand maak. Net tien minute elke dag kan jou help om meer gefokus te wees en minder stres te ervaar. Dit verbeter jou emosionele en geestelike toestand.

As meditasie vir jou nuut is, begin met net vyf minute op ’n slag.

’n Mens se gedagtes kan so maklik ’n rigting inskiet wat na misnoegdheid of negatiwiteit kan lei. Tydens meditasie kan jy op alles wat mooi is en dit waarvoor jy dankbaar moet wees, fokus.

Ontspanning is noodsaaklik vir die genesingsproses. Meditasie gee jou net daardie klein rusperiodes wat bevorderend is vir die genesing van jou emosies en liggaam. Jy sal veiliger en kragtiger daarna voel.

Die liggaam is seker een van die kosbaarste geskenke in die lewe. Dit word ook in die Bybel beskryf as die tempel van Jesus Christus. Daarom is dit uiters belangrik om dit na die beste van jou vermoë te versorg.

Verander met ’n gebalanseerde dieet en oefening

Een van die doeltreffendste maniere om siektes en kwale te voorkom, is die regte voedingswaarde deur daagliks die regte kosse in te neem. Volg ’n gebalanseerde dieet wat uit vrugte, groente en proteïene bestaan.

Drink gesonde, skoon water en gebruik min alkohol. Gesonde olies is ook van uiterste belang. Oefening gaan hand aan hand met gesond eet. Net 30 minute se oefening per dag kan ’n groot verskil maak.

Dit is verder ’n goeie idee om buite in die natuur te oefen. Dan kry jy sommer ook die nodige vitamiene D in. Vars lug en die natuur het net ’n terapeutiese uitwerking op ’n mens se gemoed.

En laaste, maar nie die minste nie, is dit belangrik om ten minste agt ure slaap per nag te kry. Dit sal jou net soveel beter laat funksioneer.

Om gelukkig en vry te voel is dit belangrik om opregte vrede met jouself te hê. Vergewe jouself vir die foute wat jy al gemaak het.

Aanvaar dat dit deel was van ’n leerproses. Dit klink moeilik, maar wees dankbaar vir alles wat jy ervaar het. Aanvaar God se genade en vergeet wat agter jou is. Vergewe dié wat jou seergemaak het. Wanneer ons vergewe, maak dit ’n deur oop vir God om ons te genees.

En die belangrikste van alles, wees lief vir jouself!

BELINDA FELDMANN, administratiewe beampte en skoonheidskoningin