[PODSENDING] Verouder met grasie in liggaam en siel

58

Wanneer jy jonk is, vertel niemand jou dat daar ’n tyd gaan kom wat jy nie meer gaan kan eet wat jy wil nie. Dat jy nie meer laat bed toe sal kan gaan en met net vier of vyf ure se slaap oor die weg kom nie. En dat die son nie jou vriend is nie, maar al die tyd die stille vyand …

Aanvaar jou plooi, spataar en grys hare

Alles bekruip jou soos ’n nare gewoonte. Indien iemand jou wel gewaarsku het, sou jy in elk geval nie luister nie, want wat weet húlle nou? Dit is nou natuurlik daardie einste húlle wat so oud was soos jy byvoorbeeld nou is.

Spyt … Spyt kom altyd te laat, maar daar is ’n leef-lewe daar buite. ’n Lekker jong lewe. Daardie jare is nou maar een maal die trappe wat jy moet klim op die pad na ’n slimmer, wyser, gryser jy.

Saam met elke nuwe pleidooi van ’n plooi, raak jou siel jonger, ligter en meer tevrede met wat is … wat was.

Daardie tevrede-met-jouself-gevoel, die dit-wat-regtig-belangrik-isgevoel, spruit dan tog uit ’n fronsplooi, ’n spataar of ’n grys haar. Iets in ruil vir iets anders.

Jou velsorgreeks moet by jou ouderdom pas

Jy kan skop teen die ouerwordprikkels nes jy wil, maar dit is ongelukkig onafwendbaar.

Daar is egter baie daaglikse selfsorgwenke wat jy kan volg om hierdie ’n mooier, gladder meer vredevolle proses te maak. Versorg jou vel, jou hele lyf se vel, nie net jou gesig nie.

Vestig ’n roetine waarin jy jou vel gereeld skrop om van die dooie selle ontslae te raak. Bevogtig jou vel elke dag. ’n Droë vel verouder vinniger en wys ook meer fyn lyntjies en plooie. Dit is regtig belangrik om ’n velsorgreeks tuis te gebruik.

Dit hoef nie die duurste produkte te wees nie. Dit moet egter reg wees vir jou soort vel en ouderdom. ’n Produk wat in jou 20’s en 30’s gewerk het, gaan nie meer sy werk in jou 40’s of 50’s doen nie.

Jou vel hou aan verouder. Jy moet aanhou met goeie velsorg, en dit aanpas.

Eksperimenteer met ’n nuwe kleur

Goeie velsorg bly jou grondslag as dit by grimering kom. Jý moet die grimering dra, die grimering moet jóú nie dra nie. Dit is daar om jou natuurlike gelaatstrekke te beklemtoon en uit te lig.

Jy dra dalk al jou lewe lank ’n sekere kleur oogskadu, daardie aardse bruin kleur byvoorbeeld. Jy voel veilig en dink dit werk. Hoekom probeer jy nie ’n vuil pienk, met ’n bruin ondertoon, en kyk wat gebeur nie? Dit sal die kleur van jou oë meer laat uitstaan.

Moet nooit met grimering aan gaan slaap nie. Dit kan nie genoeg beklemtoon word nie! Jy verouder. Jou vel vernuwe juis wanneer jy slaap. Indien jou porieë verstop is van die dag se grimering, sweet, rook en besoedeling, kan jou vel nie asemhaal nie.

Jou wenkbroue is die raam van jou gesig. Hou dit netjies en mooi gekleur. Die haartjies bleik deur die son en as jy dit kleur, lyk dit net meer afgerond. Onthou egter dat een enkele haar ’n groot verskil kan maak, hetsy jy dit daar los óf dit uitpluk. Indien jy dun wenkbroue het, is “spaar ’n haar” ’n goeie leuse waarby jy kan hou.

Moet egter nooit vergeet nie, jeugdigheid vergaan, maar ’n mooi versorgde hart bly staan. Jy moet jou lewe geniet en moet dit nie sonder emosie probeer doen nie. Daarom gaan daar frons- of lagplooie wees. Kies jou plooi.

–CHRISNA ROOS, motiveringspreker, skrywer en skoonheidsterapeut