[PODSENDING] Emosies is die sondebok van ons kosdrange

395
Emosies is die sondebok van kosdrange

Belustigheid (cravings) is die diepe begeerte of drang wat ’n mens ervaar om iets spesifiek te eet. Dit is dikwels allesoorheersend. Jy voel jy gaan nie rus vir jou siel kry nie. Jy moet nou daai sjokolade, of waarvoor jy ook al lus is, verslind. G’n krieseltjie mag oorbly nie!

Onderskei tussen jou honger en om lus te wees

Dit is belangrik om te weet dat lus en honger nie dieselfde ding is nie. Honger is fisiologies van aard. Jou bloedsuiker daal omdat jy lanklaas geëet het. Jou maag grom en jy voel jy is gereed om te eet.

’n Oorweldigende lus is iets anders. Dit kan jou oorval, al het jy sopas geëet. Dit is in werklikheid jou brein wat ’n noodsein uitstuur vir “goedvoel-hormone” om jou beter te laat voel.

Heelwat teorieë bestaan oor hoekom ons lus raak vir kos, maar daar is nie voldoende bewyse vir almal nie. Een is dat die liggaam sekere voedingstowwe benodig wat ons in ’n spesifieke produk sal kry.

Nog ’n teorie is dat mense wat hulle diëte beperk en hulleself gereeld uithonger, meer geneig is om lus te raak vir ongesonde kosse. Mense wat ontbyt oorslaan of min deur die dag eet, raak ook dikwels lus vir ’n soetigheidjie ná aandete.

Die geloofwaardigste bevinding is dat sekere kosse ’n uitwerking op spesifieke dele van ons brein het. Dié kosse kan ons ’n gevoel van opwinding of plesier laat ervaar, of ons kalmer laat voel. Dit kan ons gewoon net laat beter voel.

Trooskos word met sekuriteit en liefde verbind

Sekere kosse, veral dié met baie suiker en vet in, stel hormone soos serotonien en dopamien in die brein vry. Dit laat ons goed voel of genot ervaar. Mense wat onder druk is of vroue met PMS ervaar meer kosbegeertes in hierdie tye omdat hulle “goedvoel-hormone” min is.

Aangesien sekere kosse ons goed laat voel, vorm die brein later paadjies (jou geheue) van hoe die kosse ons laat voel. Ons raak dan lus vir dié kosse as ons effens emosioneel is. Dikwels besef ons nie eers ons ervaar stres, voel onseker, is afgestomp of verveeld nie.

Dié breinpaadjies vorm al in ons kinderjare en word elke keer versterk wanneer ons dié kosse eet om beter te voel. Wanneer ons kleintyd met kos vertroos word, veroorsaak dit later ’n hunkering na die kosse wat ons met sekuriteit en liefde verbind.

Eksterne stimuli kan ook ’n oorweldigende lus veroorsaak. Dink aan hoe jy voel wanneer jy ’n winkelsentrum binnestap en vars, warm brood of pannekoek ruik of sien. Ewe skielik pak die lus jou beet!

Verstaan waar jou cravings vandaan kom

Dikwels maak die media ook of kosbegeerte absoluut normaal is.

Dink maar in hoeveel romantiese flieks jy die heldin ’n bak roomys sien verorber ná ’n liefdesteleurstelling.

In kort begin ’n oorweldigende lus dikwels in jou hart en brein. Jy besef dalk nie eers jy voel bietjie “af” nie. Jou liggaam weet egter as jy sekere kosse eet, dit die gewenste betervoel-uitwerking gaan hê waarna jy smag.

Eet gesond, gereeld en genoeg om ’n gesonde gewig te handhaaf of gesonde gewigsverlies te bewerkstellig. As jy weer ’n hunkering na kos kry wat nie wil wyk nie, stel selfondersoek in. Kort jy nie dalk ’n bietjie liefde of opwinding om jou goed te laat voel nie?

Dink dan aan positiewe praktiese dinge wat jy kan doen in plaas van om jou aan kos te vergryp. ’n Lekker kuier saam met ’n vriendin, ’n heerlike warm kerslig-bad of ’n skreeusnaakse boek … Dit is dalk net wat jy nodig het om die lus te laat bedaar.

 – ANTONETTE GRANT, dieetkundige

Vorige artikelFrustrasie kom steel jou vrede
Volgende artikelBybelvrou – Hanna [Benice Borman]