[PODSENDING] Vind balans in fisieke en geestelike selfversorging

70

Om gesond te leef, vereis ’n gebalanseerde lewe. Balans in die lewe help ons om ten volle betrokke te wees by die dinge wat ons doen, sonder skuldgevoelens. Dit bring ’n bewustheid en begrip van wat ons nodig het en watter grense in plek moet wees.

’n Gebalanseerde lewe gee jou meer Vryheid

Grense gee vir ons sekuriteit. Namate ons gemakliker raak met ons grense, skenk ons aan onsself ’n ervaring van geborgenheid. Daaruit vloei self-liefde en respek.

Wanneer ons gebalanseerd leef, gee dit ons die vryheid om verskeie rolle te vervul en met groter lewensvreugde te leef. Dit bring welstand.

Om so te lewe, vereis egter ’n keuse tot selfversorging. Selfversorging is pro-aktiewe aksies wat ons help om ons gesondheid en welstand te handhaaf of te bevorder. ’n Gebrek hieraan is soos om melk uit ’n leë melkbeker te probeer skink. Dit het ’n negatiewe effek op ons verhoudings. Dit veroorsaak uitbranding, angstigheid en depressie. Dikwels veroorsaak ’n gebrek aan selfversorging dat ons doelloos en wanhopig voel.

Versorg jouself eerste; dit hou baie voordele in

Dikwels is selfversorging die laagste op die prioriteitslys en die eerste ding wat opsy geskuif word. Mense se verskonings en uitdagings met selfversorging is dat hulle te besig is. Hulle is reeds oorlaai met ’n stresvolle werk, of is onbewustelik verslaaf aan tegnologie.

Ander sê weer dat hulle skuldig voel om tyd vir hulleself te neem, en hulle man en kinders alleen te los. Navorsing het egter gewys dat wanneer selfversorging met goeie bedoeling en konsekwentheid toegepas word, dit baie voordele vir ons welstand inhou.

Dit kan lei tot beter produktiwiteit, motivering en konsentrasie. Dit het ook beter streshantering, minder angstigheid, minder frustrasie en aggressie, en meer volhoubare energie tot gevolg. Dit bevorder algehele gesondheid.

Daarmee saam bring selfversorging en die instelling van grense ’n gesonder verhouding met jouself.

Vind uit hoe selfversorging vir jou lyk

In breë trekke kan selfversorging as fisieke of verstandelike en emosionele sorg gegroepeer word. Maar onthou, selfversorging lyk nie vir almal dieselfde nie. Raak stil en ondersoek jou gewoontes en leefstyl:

  • Eet ’n gesonde, gebalanseerde en kleurvolle dieet.
  • Hidreer jou liggaam deur genoeg water te drink.
  • Beweging is terapeuties: Stap, dans, gaan draf, ry fiets of spring tou.
  • Pas slaap-higiëne toe en slaap genoeg.
  • Haal vir vyf minute diep asem.
  • Wees dankbaar. Hou dagboek van die dinge waaroor jy dankbaar is.
  • Wees kieskeurig oor die mense saam met wie jy tyd bestee.
  • Skryf ’n joernaal – dit help om emosies op papier vas te lê.
  • Leer om “nee” te sê. Dit vereis dat jy moet eerlik wees oor jou gevoelens, verantwoordelikhede en tyd.
  • Organiseer jouself – maak tyd om jou week vooruit te beplan.
  • Bestee tyd met jou troeteldiere.
  • Beperk of verminder digitale skermgebruik. Dit maak meer tyd beskikbaar vir ander meer betekenisvolle aktiwiteite.
  • Doen iets kreatief wat vir jou lekker is.
  • Lag uit jou maag uit, soveel moontlik.

Identifiseer wat dit is wat jy kan doen om jouself te versorg. Maak dit ’n daaglikse prioriteit en wees goed vir jouself.

– CAREEN VISAGIE, dieetkundige, lewensafrigter en mentor