[PODSENDING] Hoe om… sinvolle stiltetyd te hê

165

Stiltetyd is om te aanbid, te luister, dankie te sê en jou lewe in lyn met Sy wil te bring. Dit verander nie noodwendig onmiddellik jou omstandighede nie, maar dit verander jou, sê LIESEL KRAUSE–WIID.

’n Fotograaf het op ’n keer foto’s van graad 1’s geneem. Een meisietjie was vreeslik op haar senuwees, en die fotograaf probeer toe om haar op haar gemak te laat voel. Hy vra wat sy eendag wil word as sy groot is. Die meisietjie antwoord ewe kordaat: “Moeg. As ek groot is, gaan ek moeg wees.”

Die feit is ons leef in ’n gejaagde wêreld. Ons moet by die skool en die kerk betrokke wees, en ons kant by die werk en by die huis bring.

Jesus sê in Matteus 11:28 ons moet na Hom toe kom as ons uitgeput en oorlaai voel. Dis nie te sê al die probleme gaan eensklaps verdwyn nie. Tog, in die gejaagdheid sal jy rus en vrede vind wat jou verstand te bowe gaan.

As jy die lang pad Kaap toe aandurf en jy gooi nie petrol in jou kar nie, sal jy sekerlik langs die pad gaan staan. Dieselfde is waar van mense. As ons nie gereeld rustig en stil word nie, gaan ons uitbrand.

Ons is besig en mis dikwels hierdie baie belangrike daaglikse afspraak. Dan verbeur ons ook insig, wysheid en krag.

Ons kyk te dikwels die groter prentjie mis. Wat ons dink nóú aandag moet geniet, dra in die groter prentjie nie veel gewig nie.

Almal is haastig en ongeduldig. Die TV of radio moet blêr en selfone moet binne reikafstand wees, anders raak ons angstig.

Vinnige resultate is wat ons soek. Daarom wil ons hê dinge moet ook vinnig in ons geloofslewe gebeur. Dis nie lekker om te wag nie. Ons is gewoond aan kitsoplossings vir alles.

Almal moet na ons pype dans, en onbewustelik dink ons ook dat God moet spring wanneer ons die gebedsknoppie druk.

Soms probeer ek net die stilte indrink en myself verwonder oor die goedheid en guns wat na my kant toe kom.

Ek weet dat al moet ek lank wag op ’n antwoord, dit nie beteken Hy hoor nie of gee nie om nie. Die antwoorde waarna ek soek, kom meestal in die sagte fluistering van ’n briesie. Nie in die donderweer nie.

Maak daarom die geraas stil. Sit af jou foon, TV en radio. Maak die Bybel oop en leer weer luister.

Dit voel soos ’n ewigheid om te wag vir ’n antwoord op ’n spesifieke situasie terwyl ek Bybel lees, bid en soek.

Maar hierdie wagtyd is ook ’n belangrike leer- en vormingstyd. Dit is wanneer ’n nuwe stel waardes van vertroue, liefde en vergifnis in my hart kom nesskop.

Dan begin ek anders na mense kyk. Met oë van genade en liefde. Ek maak in hierdie stil oomblikke my siel oop om te leer en te vertrou.

In enige verhouding is luister belangrik, soveel te meer in my geloofsverhouding. Sy woorde word lewendig en persoonlik wanneer ek die Bybel lees.

Maak elke dag tyd hiervoor, en spits jou ore vir die influistering van die Gees in jou hart.

Om jou lewe tot stilstand te bring sal jou energie, krag en wysheid gee. Ook Jesus het Homself afgesonder om met die Vader te praat. Hy wil hê ons moet voortdurend met Hom kommunikeer.

Dit hoef nie ure te wees nie. Praat met Hom as jy opstaan, terwyl jy werk toe ry, voor jy gaan slaap, voor jy eet, dwarsdeur die dag. Behou die konneksie.

Jy hoef ook nie groot woorde te gebruik nie. Omdat ons ’n lewende verhouding met Hom het, hoef tyd in Sy teenwoordigheid nie moeilik of ingewikkeld te wees nie.

Vorige artikelVerrassende redes om as gesin saam te eet
Volgende artikel[PODSENDING] God se liefde neem ons op reistogte