[VIDEO] Hoe om… nie alles te wil beheer nie [Reeks 1 Nommer 9]

190

Ons kan nie die weer, ander mense of omstandighede beheer nie. Dis beter om beheer oor te gee en te laat gaan. Dit bring vrede as ons glo alles sal oukei wees, sê LEZELLE MJDC.

Ek is opreg dankbaar vir die lewenswaarhede wat ek as kind by my entrepreneur-en-juffrou-ma geleer het.

Soms sou ek ná ’n voorval waaroor ek baie hartseer was, sê: “Maar, Mamma, dit is unfair.”

My ma het altyd moed ingepraat, hoewel sy baie ernstig geantwoord het. “Zellie, die lewe voel soms unfair, maar niemand het belowe dat alles net altyd maanskyn en rose sal wees nie.

“Onthou, wat nie doodmaak nie, maak groot. Later sal jy dit beter verstaan. Intussen moet jy net ons goue reëls onthou. Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê. As jy nie iets mooi of goed kan sê nie, bly stil,” sou sy byvoeg.

Dan was my woorde aan haar gewoonlik: “Moenie worry nie, Mamma. Alles sal reg uitwerk.”

Ek het hierdie einste goue reëls vir my kind herhaal terwyl ek hierdie stukkie getik het. My weke oue baba het ek knus teen my bors vasgehou.

Dinge werk wel uit, selfs al is die omstandighede oorweldigend of uitdagend. ’n Mens se ingesteldheid is ’n bepalende faktor.

Daar sal altyd hindernisse wees, dinge waaroor ons geen beheer het nie. Dit veroorsaak stres en stres maak ons ongelukkig. En wie wil nou ongelukkig wees?

Dit beteken dat jy jouself in die proses verloor en die lekker van die lewe is later nie meer so lekker nie.

Tog het ons beheer oor ons ingesteldheid en aksies. Ons moet leer om alles in te sit, maar te aanvaar as dinge dalk effens anders uitwerk.

Die natuur is ’n wonderlike voorbeeld van hoe alles sy eie tyd het. En ja, soms gebeur daar iets traumaties wat buite ons beheer is. Maar was dit nie vir wintertyd se snoei nie, sou ons nooit die lente se bloeisels opreg kon waardeer nie.

Die winter het sy eie betowering, al is die omstandighede nie altyd ideaal nie. Ons moet dan stil wees en weet die seisoen sal binnekort draai.

Tot dit gebeur kan ons kies wat ons raaksien of waarop ons fokus. Dit sal ook bepaal hoe ons die seisoen beleef.

Word stil, kalmeer jou gedagtes en fokus. Stadig maar seker begin jy weer bewus raak van jou werklike hartsbegeertes. En dit is waar die magic lê.

Ek kan dink en asemhaal. Ek kan my hart met God deel – my drome, my vrese, my vrae.

In die stilte maak ek spasie vir Hom. Hy kan langs my kom sit en Sy arms om my vou en saam droom.

So kry ek helderheid oor wat ek wil doen. My fokus verskerp en ek word bewus dat die lewe oor meer as net die dag se doenlysie gaan.

Êrens gedurende my laerskooldae het die gesegde carpe diem (gryp die dag) in my hart ingekruip. Dit is sowaar fenomenaal. Leef voluit, elke dag, ten spyte van … Net stap vir stap.

Positiwiteit is ’n keuse wat jy daagliks moet maak. John Lennon was onder meer bekend vir sy aanhaling:

“Everything will be okay in the end. If it’s not okay, it’s not the end.”

Wanneer jy beheer oorgee, raak jy vry. Jy begin in die nou leef. Jy dink helderder en besef dat jy oukei sal wees, ongeag wat gebeur.

As die uitkoms nie presies is wat jy wou hê nie, kan jy minstens iets daaruit leer. Daar is steeds hoop, dis nie nodig om jou drome af te skryf nie. Volgende keer kan jy dinge dalk anders doen en ’n ander resultaat kry.

Vorige artikelHou jou gesin emosioneel en fisiek veilig
Volgende artikelCrystal–Donna Roberts: “Om sterk te wees is in my gene” [Deel 1]