Jy kan enkellopend én gelukkig wees

281

Jy het dalk nooit getrou nie of jou maat is dood. Of julle is geskei en nou breek ’n nuwe fase aan. Jy kan as enkellopende ook blom, want jy kies self geluk, sê GUSTAV GOUS.

Jy kan nie alleenheid weg wens nie. Jy kan nie die dood van ’n geliefde ongedaan maak nie. Jy kan ook nie ’n liefdesmaat in jou lewe in wens nie. Al wat jy kan doen, is om hanteringsmeganismes daar te stel.

Dit begin in jou kop. As jy die waarheid oor jou vermoëns en wie jy is, begin glo, sal jy enige situasie op die regte manier kan hanteer. Jy kan steeds hartseer, bang of alleen voel, maar jy het hoop vir die toekoms.

As iets jou pla, maak jou stem dik. Moenie net sit en mor en kla nie. Doen iets daaraan.

Jy moet weet jy gaan, soos alle ander mense, vir die res van jou lewe ’n innerlike stryd van onsekerheid voer. Kyk uit ’n geloofsoogpunt en sê jy hoef nie die lewe alleen te trotseer nie. Dit sal jou in staat stel om tot aksie oor te gaan en iets te doen om ’n verskil te maak.

Vir ’n alleenloper om gelukkig te wees, is dit belangrik om georganiseerd te wees. Dit gaan nie vanself gebeur nie. Jy moet inisiatief neem en wegbreek-naweke of toere reël.

Geloof is om met onsekerheid saam te leef. Om vas te hou aan wat ons nie kan sien nie, en aan te hou, al weet ons nie wat die lewe inhou nie.

Die sukses lê daarin om te doen wat binne jou vermoë is, en jou nie te bekommer oor wat jy nie kan doen nie.

Onthou, jy is nooit alleen nie. Die intimiteit in jou verhouding met die Here kan vir jou lewensgeluk vir die res van jou lewe verseker.

Moenie jou hoop op dinge en mense plaas nie. Jy weet op wie jy moet vertrou.

Al gaan jy deur die moeilikste tye in jou lewe hier op aarde, God sê Hy is met jou.

Rig jou gedagtes op positiewe dinge. Sien in jou geestesoog dat ’n toekomsverwagting vir jou beplan is, en daarom is daar hoop.

Al kan jy nie die uitkoms sien of bepaal nie, gee net die volgende tree wat jou in ’n beter rigting kan neem.

Jy gaan soms voel dinge is te veel vir jou. Maar staan weer op. Gaan terug kerk toe, lees jou Bybel, en hoor dan by die Here wat om volgende te doen.

Jy hoef nie soos Boerneef te dig jy is man alleen nie. Daar is doepa vir alleenwees.

In ’n huwelik is ’n mens se behoefte aan kontak van een persoon afhanklik. In vriendskapsverhoudings kan jy tussen ’n klomp mense deel en so geluk vind.

Jy kan ook van jou tyd benut om vir familie en geliefdes te bid. Die lewe het ingewikkeld geword en almal het gebed baie nodig.

Wanneer jy in jou alleenheid skitter, sal jy nooit werklik alleen wees nie, want mense sal na jou toe kom vir raad. Om so te lewe dat ander jou wil liefhê, is ’n groot aanwins. Dat ’n mens in jou solo[1]lewe ’n voorbeeld kan wees, is wonderlik.

Vorige artikelDagdrome kan jou motiveer om beter te word
Volgende artikelHet jy deernis met jouself?