[PODSENDING] Kry weer lus vir die lewe!

48
Kry weer lus vir die lewe

Die meeste ma’s weet hoe dit voel om moeg te wees en hulle lus vir die lewe te verloor. Maak jouself ’n prioriteit en hou vas aan jou drome en doelwitte, sê CHARNÉ CRONJÉ.

Die lewe waarvan jy nog altyd gedroom het, lyk skielik onbereikbaar as jy kyk na hoe dinge nou lyk. Jy hardloop jou moeg tussen ma-wees en die werk. En dit voel asof jy niks behoorlik reg kan doen nie.

Dit steel alle vreugde en geloof in wie jy is en wie jy kan word. Wanneer jou gees só geblus is, voel dit asof jy geen geluk verdien nie.

Alle ma’s ken ’n tyd waartydens die lewe jou platslaan en jy nie seker is hoe om weer op te staan nie. Jy voel eensaam, stukkend, sonder inspirasie en daar is geen rede hoekom jy uit die bed moet klim nie. Fisiek, emosioneel en geestelik uitgeput.

Ons word so vasgevang in ma-wees dat ons alles wat vir ons eens belangrik was, opsysit en daarvan vergeet. Ons eie behoeftes kom elke dag tweede sodat almal om ons eerste kan wees.

Dit raak so ’n gewoonte en die nuwe normaal dat jy skoon vergeet wie en wat jy eens was. Jy wil nie vir hulp vra nie, want jy is ’n superma wat al die balle in die lug hou.

Die harde werklikheid is dat geen ma alles op haar eie kan doen nie, dis ’n resep vir uitbranding! Om hulp te vra beteken nie dat jy as ’n ma misluk het nie. Dis om te erken jy is net ’n mens.

Dit beteken nie dat jy nie omgee vir ander nie. Dit beteken net dat jy weet jy kan nie ander help voor jy self nie gehelp is nie.

Maak jouself nou en dan ’n prioriteit. Dit is nie selfsugtig nie, maar is nodig om kop bo water te hou.

Jy kan nie vir iemand anders iets uit jou beker aanbied as dit leeg is nie. Maak eers vol deur te rus en deur selfversorging.

Omring jouself met mense wat waarde toevoeg tot die lewe en jy sal ook ’n verskil in jou gemoed sien.

Begin elke dag anders. Plaas jouself vir ’n verandering bo-aan die lysie en die res sal ook sommer in plek val.

Dink mooi hoe om die beste weergawe van jouself te wees. As ma’s vergeet ons somtyds dat ons ook doelwitte het. Stof dit ’n slag af en gaan voluit daarvoor.

Daar sal tye wees wat omstandighede nie met jou drome ooreenstem nie. Maar hou moed en druk deur. Elke seisoen is tydelik en jy sal sterker aan die ander kant uitkom.

Reik uit na ander vroue in dieselfde posisie en deel jou raad. Sodoende kry jy self ook ’n paar wenke en skep sommer weer nuwe moed.

Vertrou en glo dat hierdie tyd ook sal verbygaan en dat beter dae sal aanbreek. Vra dat God jou wys watter stappe om te doen en doen dit dan!

Onthou, net soos enigiets anders, kan ’n gebroke gees ook weer heel word. Dit hang net af hoeveel tyd en moeite jy bereid is om in te sit.