[PODSENDING] Loof Hom in krisistye [Reeks 1 Nommer 8]

1194
Liesel Krause-Wiid

Soms woed die storms van die lewe so hewig dat ons begin twyfel of ons teen die branders van vrees en bekommernis kan staande bly.

Dalk ervaar jy onoorkombare probleme in jou lewe. Waar kry ’n mens die krag om God te midde van dié storm te loof?

Hoe loof ek God in krisistye?

Horatio Pathod, ’n prokureur wat in die 18de eeu geleef het, het vreeslike pyn in sy lewe ervaar. Hy het onder meer sy seuntjie verloor toe die kind nog baie jonk was. Hy het ook tydens ’n groot brand wat in Chicago uitgebreek het baie eiendom verloor.

Die skip waarop sy vrou en vier dogters op pad was Engeland toe het gesink en al vier die dogters het gesterf. Toe hy die verskriklike nuus kry, is hy dadelik op die volgende skip na Engeland om by sy vrou te wees.

Onderweg het die skeepskaptein vir hom min of meer aangedui waar sy dogters gesterf het. Dit was in hierdie tyd dat hy die pragtige Christelike lied “It is well with my soul” geskryf het.

Hoe sê jy dit gaan goed met my siel wanneer jy soveel ellende in jou lewe beleef?

Ons oorwin ons vyande deur op God te vertrou

Ons lees in die Bybel dat drie volke die Judeërs wou aanval. Wat het koning Josafat gedoen? Hy het die volk bymekaar gekry, en ons lees dat hulle diep voor God neergebuig en gebid het. God het vir hulle gesê hulle moenie bekommerd wees nie, Hy sal tot hulle redding verskyn.

Die dag toe die oorlog begin, het koning Josafat die lofsangers van die volk voor die soldate uitgestuur. Hulle sing: “Goed is die Heer, daar is geen einde aan Sy liefde nie.” ’n Wonderwerk gebeur. Die drie volke wat die Judeërs wou aanval, begin mekaar aanval en dit red die Judeërs. Hulle hoef nie eens ’n swaard te lig nie. Hulle het hierdie oorlog gewen omdat hulle vertrou het dat God tot hulle redding sou kom.

Dalk veg jy vandag ook teen ’n onsigbare vyand in jou lewe. Fokus op God se teenwoordigheid en Sy almagtigheid sodat jy ook kan seëvier.

Hy gee ons krag om elke uitdaging te oorkom

Nog iemand wat God te midde van chaos en pyn in sy lewe geloof het, is Paulus. Soveel mense wou hom doodmaak. Hy word so baie keer gestenig. Wat doen Paulus elke keer?

Hy staan op uit die bloed en loof en prys God. In die tronk skryf hy aan die Filippense: “Wees onder alle omstandighede bly, wees bly in die Here.”

Hoe doen hulle dit? Horatio, Josafat en Paulus? Die antwoord is ook in Filippense: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”

Dit is God se persoon wat jou help, wat jou staande hou, wat jou help om dankbaar te bly en Hom te bly loof en prys al voel dit vir jou of jou lewe uitmekaar val.

Al sit jy dalk in sak en as. Weet dat God dra jou, Hy sal jou hierdeur kry. Jy kan ’n blye sekerheid hê dat Hy vir jou uitkoms sal gee, dat Hy goed is, dat Hy by jou is en dat jy ’n hemelse vooruitsig het.

Liesel Krause-Wiid, Geloofsgroei, berading en gesinsterapie

Kliek hier vir meer artikels van Liesel.