[PODSENDING] Moenie dat mense jou misbruik nie

293
Liesel Krause-Wiid

Die meeste vroue wil só graag almal om hulle tog net gelukkig hou. Ons is van nature versorgers en daarom sal ons soms, ten koste van onsself en ons gesinne, eerste na ander omsien.

Wanneer jy nie kan help nie voel jy selfsugtig. Maar jy kan nie alles vir almal wees nie. Natuurlik moet jy help waar jy kan, maar daar gaan mense wees wat jou wil misbruik. Dan moet jy grense trek om jouself te beskerm. Moenie dinge doen vir ander se goedkeuring nie.

 Beskerm jouself deur grense om jou te trek

Nehemia vertel hoe Jerusalem deur die Babiloniërs geplunder en afgebreek is. Die Jode is in ballingskap weggeneem. Eers nadat die Persiese Ryk die Babiloniërs verslaan het, kon die Jode na Jerusalem teruggaan.

Nehemia het onderneem om Jerusalem se mure te herbou. Ander volke het egter intussen in die vervalle stad ingetrek.

Die mense wat hulle intrek in Jerusalem geneem het nadat die Jode weggevoer is, het bedreig gevoel deur die Jood wat die stad wou herbou.

Terwyl Nehemia gewerk het om die stadsmure te herbou, is daar gedurig vir hom gevra om die bouwerk te staak en af te kom sodat die mense met hom kan praat. Hy antwoord: “Ek is besig met baie belangrike werk, ek het nie nou tyd om soontoe te kom nie. In elk geval, waarom moet ek die werk laat stilstaan om na julle toe te kom?” (Nehemia 6:3).

Grense help jou fokus op jou prioriteite

Nehemia trek grense om homself te beskerm en op sy prioriteit te fokus.

Wat is jou prioriteit?

Daar gaan afleidings wees, dinge en mense wat jou van jou prioriteite gaan wil laat afsien. Wat jou prioriteite namens jou gaan wil bepaal.

In hierdie gevalle kan jy Nehemia se woorde gebruik en sê: Ek is besig met baie belangrike werk, ek het nie nou tyd om soontoe te kom nie.

Sekere dinge hoef jy net tydelik op hold te plaas. Die tyd sal kom wanneer jy en die mense om jou gereed is daarvoor.

’n Amerikaanse predikant stel dit so: “Soms moet jy nee sê vir sekere goed, maar dit is dikwels net nee vir ’n rukkie. “No for now, but not forever!”

Leer nee sê as jy nie kan help nie

Gebruik jou goeie verstand en moenie te veel hooi op jou vurk laai nie. Wanneer jy onseker is of jy kan help, sê eerder dat jy met ’n antwoord sal terugkom. Dit gee jou tyd om dinge te oorweeg.

As die persoon onmiddellik ’n antwoord wil hê, sê nee! Jy kan altyd later ja sê indien jy van besluit verander.

Soms wil ons as ma’s ons kinders se laste dra. Ons buig agteroor om ons kinders te “red”. Ons breek deur alle grense sodat ons kinders tog net nie moet swaarkry nie.

Vra die Here om jou te help wanneer dit by die mense naaste aan jou kom. Onthou gesonde verhoudinge beteken gesonde grense.

– LIESEL KRAUSE-WIID, geloofsgroei en gesinsterapie

Vorige artikel[BYBELTEMA] Jy is hier vir ’n rede
Volgende artikelLeef lig