[PODSENDING] Basta met selfsugtige, bedorwe brokkies [Reeks 1 Nommer 5]

928

Wie kry die skuld as jou kind altyd sy eie sin wil hê? As hy selfgesentreerd, geïrriteerd, en sonder simpatie of empatie teenoor ander optree?

Hy wil hê wat hy wil hê wanneer hy dit wil hê. Hy weier om te kom as jy hom roep vir ete, en dring aan op al jou aandag.

Hy wil altyd sy sin hê?

Ons almal ken een. Daardie mannetjie wat van kleintyd af hom nie steur aan die reëls en regulasies van die gesin, klaskamer, of waar hy homself ook al bevind nie. Hoekom tree hy so op? Niemand word tog egosentries gebore nie.

Daar is altyd ’n rede vir die gedrag. Hy ís daarom nie ’n bedorwe brokkie nie, maar tree net soos een op. Is dit omdat sy ouers hom so grootmaak en vir hom alles gee wat hy wil hê wanneer hy dit wil hê? Dit is nie so eenvoudig nie.

Daar is baie gevalle waar twee kinders met dieselfde ouers, omgewing, voorregte, grense en reëls grootword, maar wie se lewensbenadering verskil. Een glo hy is geregtig en dat alles hom toekom en die ander een nie.

Sommige mense is net meer geneig as ander om grense te toets en gesag te bevraagteken. Dit is veral met hierdie soort kinders wat ons doelgerig moet wees in hoe ons hulle grootmaak en wat ons van hulle verwag.

Jou gedrag bepaal hulle verwagtinge

As jy jou spruitjie onder geskenke, speelgoed en vakansies toegooi, beteken dit nie dat jy besig is om hom in ’n verwende verskrikking te laat ontaard nie.

Al gee ons ook min geskenke, koop byna nooit speelgoed nie en gaan nooit op vakansie nie, maar gee elke keer in as ons kleuter iets wil hê – of dit nou ’n suigstokkie is of wat ook al – loop ons die gevaar om ’n bedorwe brokkie groot te maak.

’n Mamma vertel my dat sy en haar man besluit het dat hulle dogters vir ten minste ’n paar jaar klavierlesse moet neem. Ek het eers gedink dis al weer ouers wat besig is om hulle bloedjies se middae vol te prop met aktiwiteite en probeer om ’n klein Mozart groot te maak.

Maar toe ek mooi luister, besef ek dat sy ’n punt beet het. Sy wou hulle leer dat dit nie altyd lekker is om te oefen nie. Somtyds sal die ander maatjies buite speel as hulle voor die klavier moet sit en oefen. En dit verg dikwels baie oefening voordat die juffrou tevrede is.

En dít is ’n belangrike lewensles.

Leer jou spruit die waarde van wag

’n Kind moet weet dat hy nie elke keer alles wat hy wil hê, gaan of móét kry nie. Daardie pragtige oorbelle, blinknuwe kar of mooi huis sal nie sommer net so op ’n skinkbord aan jou gegee word nie. Vir die meeste van ons gaan dit harde werk en deursettingsvermoë verg om dit te kry.

Daar sal tye wees wanneer ander mense lekker dinge het of doen wat jy nie noodwendig kan bekostig of kan doen nie. Moenie jou vergelyk met die ouens wat heerlike vakansies oorsee geniet of die nuutste Apple-foon persent kry nie.

As ons jongelinge kan leer om hard te werk vir dit wat hulle wil hê en om nie hulleself met ander te vergelyk nie, dan het ons waarskynlik ’n wenresep.

Lizanne du Plessis, Ouerleiding, kinderontwikkeling en -terapie

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Lizanne.

SO-O-O OULIK EN SLIM ouerskappakket te koop op voelgoedboeke.co.za. R209 R299