[PODSENDING] Hou jou gesin emosioneel en fisiek veilig [Reeks 1 Nommer 8]

157

Emosionele veiligheid is net so belangrik soos liggaamlike veiligheid. Daarom moet jou huis vir jou gesin ’n veilige hawe wees waarheen hulle kan vaar om fisiek en emosioneel te kom rus en te herlaai.

’n Huis is meer as bloot net ’n dak oor jou kop, ’n warm bed en ’n lekker bord kos. Dit is daardie plek waar ons veilig voel en weet dat ons geliefd is. Wat kan ek doen om vir my gesin so ’n kalm en liefdevolle toevlugsoord te skep?

Emosionele veiligheid begin by jou eie emosies

Die eerste stap is om jou eie emosies te reguleer. Dit is daarom belangrik dat jy na jouself omsien op grond van jou unieke, sensoriese temperament en emosionele behoefte. Maak tyd vir oefening, gaan slaap vroeër en eet gesond.

Spandeer tyd in die Woord en waak daarteen om te veel hooi op jou en jou kinders se vurk te laai. Oorskedulering van ons dae veroorsaak spanning wat weer lei tot stres en die veg-of-vlug-reaksie.

Net soos jy jou spiere moet oefen wanneer jy gym toe gaan, moet jy ook jou selfregulering-“spiere” oefen.

Om beheer oor jou emosies uit te oefen, beteken nie dat jy dit wat jy voel net onder die mat moet invee nie. Gesonde emosionele uitdrukking behels ’n balans tussen oorweldigende emosies en geen emosies nie. Onthou die doel is nie perfeksie nie, maar intensie.

Kinders moet veilig wees en veilig voel

Kinders moet nie net veilig wees nie, hulle moet ook veilig voel. Dit gebeur wanneer dinge konsekwent en voorspelbaar verloop, asook wanneer daar duidelike struktuur en grense is. Dit is nie nodig dat die grense rigied hoef te wees nie. Dit is waarskynlik beter as dit effens buigbaar is, maar dit moet voorspelbaar wees.

Begin by julle oggend- en aandroetines. Maak dié twee tye van die dag voorspelbaar deur dinge op dieselfde manier te laat verloop. Gebruik foto’s of prentjies van etenstyd, aantrektyd, baktyd, speeltyd en rytyd en wys dit vir jou kinders sodat hulle sien wat volgende kom.

Nie net die omgewing en aktiwiteit moet voorspelbaar wees nie, maar ook die interaksies tussen ons en hulle. Besluit watter gedrag ononderhandelbaar is, byvoorbeeld om in die karstoeltjie vasgemaak te word of om nie met kos rond te loop nie, maar op ’n stoeltjie te sit en eet, en hou daarby.

Kinders moet geliefd wees en geliefd voel

Dit is nie genoeg as jou kind weet jy het hom lief nie. Hy moet dit ook voel. Elke kind het sy eie manier hoe hy liefde ervaar. Dalk hou jou kind van drukkies of voel hy gewaardeerd wanneer jy vir hom ’n briefie skryf of vir hom ’n geskenkie koop.

Kinders spel liefde T Y D. Hulle het kwaliteittyd van ons af nodig. Dit gaan oor die konneksie tussen jou en jou kind. Dit is nie tyd om te leer nie. Ook nie altyd om te gaan vir ’n melkskommel nie. Meestal is dit om vir die 400ste keer ’n Lego-model te bou, om saam op die trampolien te spring of om onder die eetkamertafel in sy “huisie” te kuier. Mag jou huis altyd die plek wees waarnatoe jou gesin wil kom om te rus en herlaai.

– LIZANNE DU PLESSIS, kinderontwikkeling en ouerskapkwessies

Vorige artikel“Sukses gebore uit moeilike omstandighede”
Volgende artikelWelslae, terugslae deel van realistiese lewenslesse