[PODSENDING] Daar is ’n antwoord vir elke probleem [Reeks 1 Nommer 7]

55

Net soos elke slot met ’n sleutel gemaak word wat daarin pas, is daar vir elke probleem ’n oplossing. Hoe jy by die gewenste resultaat uitkom, sal afhang van die soort vrae wat jy vra.

Watter vraag sou jy vra as jy enigiets kon vra? Veral as jy vir seker kon weet dat die antwoord daarop gewaarborg is om jou lewensdrome te help verwesenlik.

Fokus op die oplossing eerder as die probleem

Baie jare gelede was ek in ’n besondere moeilike situasie. My huwelik was feitlik op die rotse, ons was verskriklik arm en ek het nie ’n werk gehad nie. Toe het iemand in my lewe ingespreek.

Hy het gesê die gehalte van jou lewe word bepaal deur die kwaliteitvrae wat jy vra. Dit was waarskynlik een van die belangrikste lesse wat ek nog geleer het. Hoe meer positief jy ’n aangeleentheid benader, hoe beter sal jou vooruitsigte lyk.

Watter vrae moet ’n mens dan vra? Goeies, want vir elke vraag is daar ’n antwoord. Daar is geen probleem wat nie ’n oplossing het nie. Die meeste van ons kyk negatief na ’n situasie en daarom kry ons slegte resultate wat ons dieper in die duisternis aftrek.

Oordink eers die vrae wat jy vra

In die tydperk toe my huwelik besig was om uitmekaar te val, het ek nie geweet watter kant toe nie. Maar toe daardie ou vir my sê om ’n vraag neer te skryf wat my hele toekoms sou verander, het ek geskryf: “Wat moet ek doen om my huwelik te red?”

As ek vra wat ek moet doen om my huwelik te red, is “huwelik red” die fokuspunt. Maar as ek sê: “Wat moet ek doen om uit hierdie slegte huwelik uit te kom”, word die probleem benadruk.

Daar is ’n baie fyn lyn en ’n mens moet baie mooi dink oor die vraag wat jy stel. Byvoorbeeld, “Wat moet ek doen om op te hou arm wees?”, fokus op armoede. Maar, “Wat moet ek doen om my lewensgehalte of lewensstyl te verbeter?”, fokus op aksie. Dis so eenvoudig soos dit.

Moenie jou vraag op vrees grond nie

Die verskil tussen geloof en vrees is so klein dat ons versigtig moet wees dat ons nie in die strik trap dat ons motivering op vrees gegrond word nie.

Gestel iemand sit voor jou vir ’n onderhoud en jy vra: “Vertel my van jou tydbestuur?” Die persoon verklaar “Ek is nooit laat nie.” Die meeste van ons sal dink: “Wow! Dis indrukwekkend. ” Jy sal neerskryf: “Hierdie ou is nooit laat nie.”

Maar dan kom sit die volgende persoon voor jou en jy stel aan hom dieselfde vraag: “Vertel my van jou tydbestuur?” Dié kandidaat se respons is: “Ek is altyd vroeg.”

Watter een van die twee sal jy graag wil aanstel? Die een wat gesê het hy is nooit laat nie se basis is vrees. Hy is bang om laat te wees. Die een wat gesê het hy is altyd vroeg se vertrekpunt is geloof.

As jy vrae vra wat fokus op die oplossing wat jy soek, sal alles in jou bestaan soontoe neig.

–JANNIE PUTTER, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling en sportsielkunde