Bestuur só jou uitgawes slimmer

84
Wouter Snyman
Wouter Snyman

Daar is dinge wat jy nodig het en dinge wat jy graag wil hê. Jy kan albei by jou begroting laat inpas en steeds geld opsysit vir noodgevalle indien jy jou uitgawes reg bestuur.

Jou finansiële legkaart bestaan uit vier elemente – jou inkomste, uitgawes, surplus en bates. Vandag wil ek ’n bietjie by die uitgawekomponent stilstaan. Daar is twee soorte uitgawes, naamlik behoeftes en begeertes. Wanneer jy die twee met mekaar te verwar, kan dit groot druk op jou begroting plaas.

Tref onderskeid tussen jou behoefte en begeertes

Stel jouself voor jy het ’n pizza met tien stukke. Vyf van die tien stukke moet jy aan behoeftes spandeer terwyl begeertes net drie stukke van die pizza moet uitmaak.

Behoeftes bestaan uit vyf aspekte: Jy moet iewers bly, jy moet vervoer hê om van punt A na punt B te kom, jy moet klere hê om te dra, jy moet kos hê om te eet en die laaste een is basiese versekering.

Jy moet ook voorsiening maak vir mediese onkoste en in Suid-Afrika is dit nodig om seker te maak dat jou risiko gedek is. Dit is tipies goed soos lewensdekking, ongeskiktheid en ernstige siekte.

Begeertes is tipies die goed waarop jy meer geld gaan spandeer, maar slegs binne drie tiendes van jou begroting. Jou drie uit tien pizzastukke is dalk dat jy in ’n groter huis wil bly, met vakansie wil gaan, of nou en dan lekker gaan uiteet.

Maak genoeg voorsiening vir jou finansiële toekoms

Twee van die belangrikste pizzastukke is doodgewoon dit wat jy hou om voorsiening vir jou toekoms te maak. Ek deel die twee gewoonlik op. Een stuk gee ek vir die kerk of ’n behoeftige organisasie en een hou ek vir myself.

As ons pizza eet, is ons gewoonlik ná die vyfde stuk eintlik vol. Finansieel dink ons partykeer nie so daaraan nie, maar dink aan die beginsel van saai en maai. Die twee tiendes in my begroting – waarvan een vir die kerk gaan en een vir myself en my toekomsvoorsiening – is bitter belangrik, want as jy nie saad in die grond sit nie, gaan dit moeilik wees om in die toekoms daarsonder te oorleef.

Maak seker dat jy jou uitgawes ordentlik beplan, nie te veel aan begeertes spandeer nie en genoeg opsysit.

Bestuur jou uitgawes en skuld met omsigtigheid

Een van die maklikste maniere om jou uitgawes te bestuur, is die koevertjie-sisteem waarin jy geld opsysit vir jou huis, jou kar, jou kos, uiteet, ensovoorts. Leer ook sommer jou kinders oor hoe om uitgawes te bestuur.

Wees verder baie bedag op skuld. Dit is waarskynlik die meeste van ons se grootste uitgawe. Met ’n huislening van ’n miljoen rand spandeer jy omtrent R1,4 miljoen aan rente mits jy 10,5% rente oor 20 jaar betaal. Dit is ’n enorme bedrag wat jy aan die bank betaal vir die voorreg om geld by hulle te kan leen.

Maak doodseker dat jy jouself nie in hierdie skuldstrik vasvang nie. Dit het ’n groot langtermynimpak op jou finansies en hoe jy jou geld bestuur. Moet dit nooit aan die bank oorhandig nie, want hulle gaan dit tot hulle eie voordeel bestuur en geensins tot jóú voordeel nie.

– WOUTER SNYMAN, Persoonlike finansies en geldsake