[PODSENDING] Maak vrede met jou finansiële foute [Reeks 1 Nommer 8]

163
Wouter Snyman

Jou verlede beïnvloed hoe jy oor geld voel en wat jy daarmee doen. Dit speel ook ’n rol in hoe jy jou toekomsbeplanning benader. Dit is tyd om van jou finansiële bagasie ontslae te raak.

As jy al die salarisse wat jy al verdien het bymekaar kon tel, sou jy ’n idee kon vorm van hoeveel jy eintlik werd is.

Weet jy hoeveel jou geld vir jou werd is?

“Seuna, ons kan dit nie bekostig nie.” My ma se woorde toe ek kleintyd nuwe tekkies wou hê, het iets in my aangevuur. Ek het besluit dat ek nooit in ’n posisie wil wees dat ek dit nie kan bekostig om iets vir my kinders te gee nie.

Dit het hoe ek geld gesien en hoe ek dit hanteer het, gedryf. Ek wou baie geld hê en het, ten koste van ander dinge, ’n korporatiewe loopbaan gevolg om dit te laat realiseer.

Wat sou die totaal wees as jy elke salaristjek wat jy al gewissel het, kon optel? Rofweg geskat beloop R2 500 per maand oor 40 jaar R1,2 miljoen. Hoeveel jy ook al verdien, dit gaan ’n redelik groot som wees.

Dit beteken dat miljoene rande al deur die meeste van ons se hande en bankrekeninge gegaan het, sonder dat ons dit werklik besef.

Mense mag dalk ongemaklik wees met die vraag. Want, soos ek, het hulle niks om vir die meeste van daardie geld te wys nie. Ons het dit gaan “mors” op goed wat vandag vir ons geen waarde meer het nie.

Moenie dat jou verlede jou welvaart belemmer nie

My welvaart word bepaal deur die aantal bates wat ek opbou met die geld wat ek verdien. Soos ’n huis wat vir my waardevol is en wat vir my ’n inkomste kan verdien.

Dit word ook geraak deur hoeveel laste ek het. Wat ek op my huis, my kar en watter ander lenings ek ook al het, skuld. Die netto som of surplus is vir baie van ons negatief. Dit gee vir jou ’n aanduiding van jou finansiële gesondheid.

Hierdie welstand het minder te doen met hoeveel geld ek spandeer as met wat ek doen met die geld wat ek spandeer.

Vra jouself af: “Gaan ek my geldgewoontes van die verlede herhaal en dieselfde resultaat kry?” Of is daar dalk vandag iets wat in jou roer om te sê ek kan en wil ’n ander uitkoms bewerkstellig.

My netto waarde dui aan of ek finansieel in ’n posisie is om te kan aftree. Sal ek oor tien of 15 jaar genoeg geld hê om my in my aftrede te kan onderhou?

Word vandag nog deel van die finansiële elite

Ek het al baie geldfoute in my lewe gemaak en ek het myself vreeslik verkwalik. Miskien is jy op presies dieselfde plek. Maar dalk is dit tyd om jouself te vergewe en te besef dat selfs foute waarde het.

My uitdaging aan jou is eintlik eenvoudig: Is jy bereid om vandag ’n besluit te neem oor wat jy anders gaan doen met dit wat jy verdien? Gaan jy dit positief gebruik om bates op te bou wat vir jou ’n geruste toekoms kan verseker?

– WOUTER SNYMAN, Finansies, besigheid en entrepreneurskap